Met sy briljante Afrikaanse sêgoed, sy dubbelsinnige spotprente en sy humoristiese klerereeks, het Kobus Galloway al menigte Afrikaanssprekendes laat skater van die lag.
Daarom kon Afrikaans.com eenvoudig nie anders as om die Komedie Shop se skreeusnaakse T-hemde ons produk van die maand vir Mei te maak nie.
Ons het gaan gesels met die man agter die grappe om uit te vind of sy passie regtig gebore is uit ’n vetkryt-meesterstuk wat hy as baba geteken het.



Vertel my meer van jouself. Waar kom jy vandaan en wat het jy studeer?
A, die klassieke Laurika Rauch-lirieke: “Sing vir my saggies, sing van die reën. Waar kom dit vandaan? Waar het jy studeer?” Ek is gebore in die groot, besige metropool van Bredasdorp. As jy nie weet waar Bredasdorp is nie, moenie stres nie. Dis ‘n dorpie iewers tussen skape en koring. Interessant genoeg, Bredasdorp was die eerste plek in Suid-Afrika wat die agtervoegsel “dorp” gekry het. Ek het toe in graad 2 na Hermanus verhuis en my skoolloopbaan daar voltooi. Minder interessant, Hermanus was die eerste plek in Suid-Afrika wat die agtervoegsel anu– in elk geval. Ek het toe daar gewerk terwyl ek deur die pos grafiese kuns studeer het en het ook later deeltyds web-ontwerp studeer aan die Universiteit van Kaapstad en ook ‘n paar ander kreatiwe kursusse daarna voltooi.
Vertel ons van die eerste tekening wat jy gemaak het?
My eerste tekenprent volgens my kennis (want ek weet nie of ek dalk ‘n vetkryt-meesterstuk gemaak het in my babajare nie), was by Heuningberg Kunsskool in Bredasdorp. Ek het ‘n paar katte geteken, toe sê die kunsjuffrou: “Dis die mooiste leeus wat ek al ooit gesien het!” So, daardie “leeus” was seker my eerste een. Met Idees Vol Vrees was dit twee ganse wat gesels, ‘n ander vroulike gans stap dan verby en die een sê vir die ander: “Jissie, kyk daai goose!”



Waar kom jou idee vir jou spotprentreeks, Idees vol vrees, vandaan?
Ek het in 1999 (ek noem dit my 20 jaar lange oornagsukses) begin om dubbelsinnige Afrikaanse spotprente te teken, meestal om my vriende te vermaak. Ek moes met penne en inkleurpotlode teken. Elke comic strip het my sowat agt ure geneem. Ek het ook eers spotprentreekse met verskeie name deur die jare gehad, soos Die (mis)avonture van Skorsie en Das (‘n skorsie en ‘n das wat superhelde was, maar altyd misluk het. ’n Piesang was die skurk. Hy het ‘n balaklava gedra, maar almal weet dit was hy… natuurlik). En daar was so handvol ander daarná. Almal was altyd propvol dubbelsinnige sêgoed en grappies, baie soos die humor in Idees Vol Vrees wat almal vandag ken. Ek het eers so om en by 10 jaar gelede alles in enkelpanele begin illustreer i.p.v. ‘n comic strip-formaat en in ’n digitale formaat en dit toe Idees Vol Vrees genoem.
Hoe het jou komedie ontwikkel tot die slagspreuke wat jy op jou klerereeks plaas en wat is die reaksie wat jy hieroor ontvang?
Glo dit of nie, maar my aanlyn winkel is in 2008 al geskep. So Komedieshop.com vier vanjaar sy 12de bestaansjaar. Dit het egter eers in latere jare begin groei en populariteit begin verwerf soos my handelsmerke meer bekend geraak het en my klerereekse meer uniek geword het met oulike en plaaslike sêgoed en ontwerpe (soos Hadidas, Pik ‘n Wyn, ens.). Gedurende die proses het ek ook baie geleer oor die moets en moenies, wat werk en waarvan mense hou of nie hou nie. So, ek glo my kennis van die bedryf dra by tot die winkel se sukses.
Hoe bly jy uniek in jou aanslag?
Kyk, my pa is ‘n slagter. So dis seker waar ek my aanslag kry. Nee, ek grap. Ek dink dis maar die passie en liefde wat ek vir woordspeling en Afrikaans het. En ek is baie geseënd met my sukses. Maak nie saak wat ek ooit aanpak nie, die liewe Vader sit altyd ‘n handjie by.
Is dit nie baie uitdagend om konstant vars en snaaks te bly nie?
Die ding is … Ek doen dit al amper my hele lewe lank. Dit is regtig ‘n stokperdjie wat in ‘n werk verander het … #blessed. Dis party dae moeilik om die kreatiewe sappe te laat vloei. En party dae is daar weer liters en liters sap. Humor kom natuurlik vir my. Soms vra mense my: “Kan jy nooit ernstig wees nie?” Eintlik is ek baie ernstig. Ek geniet maar net om my humor met ander te deel. Ek kan dalk ‘n grappie plaas wat iemand se dag ‘n bietjie kan opkikker en hulself laat beter voel oor ‘n situasie en dis meer as genoeg.
Hoekom dink jy is dit so belangrik om in Afrikaans besigheid te doen?
Daar is niks soos Afrikaans nie. Afrikaans is nie net ‘n taal nie, dis ‘n leefstyl, ‘n ervaring… Dis ‘n gevoel wat moeilik is om te beskryf. Sekere dinge kan net in Afrikaans ervaar, geniet, uitgebeeld en oorgedra word. Dis iets wat ook net ‘n Afrikaanssprekende persoon sal verstaan. Daar is net ‘n sekere gevoel van trots en liefde wat jy kry as jy iets in Afrikaans doen, maar daar is niks fout met Engels as tweede taal nie.
Wat is jou droom vir die toekoms van jou aanlyn klerereeks?
Ek kyk altyd na die groter prentjie, veral vandat ek verkykers gekoop het (ai, Kobus). Ek fokus tans op my twee besighede, my aanlyn winkel Komedie.com en dan my kreatiewe agentskap CreativeClick. Komedie.com fokus op humor en die verkoop van unieke Afrikaanse produkte en klere (plaaslik en internasionaal), en nie net vir my eie klerereekse nie, maar ook vir ander kreatiewe mense om hul eie unieke Afrikaanse klere te verkoop, maar nie noodwendig ‘n platform het nie. En met CreativeClick, fokus ek op die bou, instandhouding en bemarking van webtuistes en sosiale media asook grafiese ontwerp – vir my eie handelsmerke, en vir ander besighede.
Besoek gerus Kobus se aanlyn winkel Komedie Shop vir meer oor sy klerereeks en volg sy aanlyn winkel op Facebook of Instagram.
Loer ook na Idees Vol Vrees se Facebook- en Instagramblad.