‘n gedig deur Willem Fransman
Afrikaans.com het onlangs vir Nazneen Fluks, ‘n graad 10-leerder van Hoërskool Grabouw afgeneem terwyl sy hierdie gedig van Willem Fransman aangrypend voordra. Die gedig is in Township-Afrikaans geskryf.
Ek wil – Willem Fransman
Ek wil – Willem Fransman
Ek wil’ie fênsie poetry skryf’ie
Oekie special expressions gebryk’ie
Net skryfe in my Taal
Soos o’se mêne ‘it praat!
Roep’t wat djy wil, bu o’s call’it
Streetpoetry en ek sê soema:
Straatpraat of Township Afrikaans
Ek wil skryf
van o’se feelings
van o’se fears
van o’se joys
van o’se sadness
van o’se frustrations
van o’se ambitions
In o’se Township Afrikaans
Ek wil skryf
vi o’se oue’s
vi o’se suste’s en broe’s
vi o’se kinnes
vi o’se bra’se
vi o’se communities
oek vir o’se Non Black vrinne …
Soelat ammal my kan ve’staan en ‘it kan enjoy
Soe, as djy nie O’se Taal ve’staan nie,
En djy djou upstairs wil hou
Oo’ djou grênd Ofrikons:
Dan sê o’s poelitely:
Vra net die meaning van ’n wid,
Soe nie, dan tatta djy an
But, moet’ie vi’ ‘os ‘ko ‘djudge ‘ie
Cause ‘os skryf Afrikaans soes
O’s ‘it inni Townships praat
Willem Fransman jr. skryf in feitlik elke genre.
In 1997 is hy die eerste wenner van die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie met Om te bedel is ’n kuns. Ander opdrag-radiodramas is Die belofte in ’n skilpaddop (die verhaal van Sarah Baartman in die vreemde) en Martelaar van Calvinia (verhaal van die bruin versetleier, Abraham Esau, gedurende die Anglo-Boereoorlog).
Die volgende dramas uit sy pen is al by kunstefeeste opgevoer: Om te bedel is ’n kuns (1999), Die mense van Langesaan (2000), Leipoldt soos nog nooit vantevore (2004-opdragwerk), Ma se melk (2005) en Paljas van Dirk Ligter (2006-opdragwerk).
Fransman is ook ’n grafiese kunstenaar, rubriekskrywer vir Die Burger en Kaap Rapport, kortverhaalskrywer, digter en storieverteller. Hy is ’n stigterslid en tans nasionale voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.
Willem Fransman tydens ’n voorlesing by Versindaba 2007: Virrie taal Inni taal
Lees hier oor nog variëteite van Afrikaans