By Afrikaans.com is ons geneig om te fokus op goeie nuus … en van die beste nuus wat ons die maand ontvang het, is die heropening van boekwinkels. Ons Lapa Uitgewers-boekrak fokus vandeesmaand op lekkerleesfiksie vir volwassenes. Laai die eerste hoofstuk gratis af en besluit watter boek jou verbeelding die meeste prikkel … dit kan dan as e-boek of fisiese boek gekoop word. Lekker lees!
Blinde Gode
Dibi Breytenbach
Hierdie is die opvolg op die boek Dowe Gode. Die vraag wat die Romeinse digter Juvenalis 2000 jaar gelede gevra het, word vandag steeds onbeantwoord gelaat: Wie sal toesien dat die bewakers bewaak word? Aella O’Malley is bevorder na bevelvoerder van die speurtak op Opathe sedert die dramatiese gebeure in Dowe Gode. Dis nou eers ‘n week en sy moet nog gewoond raak daaraan wanneer mense haar as kolonel aanspreek. Sy sukkel steeds om die dood van haar geliefde Roel te verwerk en is getraumatiseer deur Whistler se verraad … Hoe gaan die storie ontvou? Lees en vind uit.
Koop die boek of e-boek hier.
Corali
Chanette Paul
Corali dra net wit en swart, maar dis nie oor die dood van haar man wat sy rou nie. As kunstenaar treur Corali oor iets heel anders en as vrou treur sy oor soveel meer as haar huwelik. Vywervrou: Corali is die laaste in Chanette Paul se nuwe trilogie wat in 2019 en 2020 verskyn. Die eerste titel is Vywervrou: Lira en die tweede is Vywervrou: Mirre.
Koop die boek of e-boek hier.
Die Alfadokument
René van Zyl
Geloof en mag sorg vir ‘n dodelike kat-en-muis speletjie…
Nadat die biljoenêr en stigter van die berugte internasionale geloofsorde die Nikolaïete, Nico Cohen, sterf, erf sy twintigjarige dogter, Michaela (‘n loskop sosiale vlinder), sy posisie. Die oorblywende direkteure van die Orde, waarvan die hoofkantoor in Kaapstad gesetel is, die Groot Ses, stuit vir niks om te sorg dat hulle in beheer bly nie – ook nie vir moord nie. Dit gaan ‘n ekstaakmaglid kos om die rykmansdogter te help om die Orde se geheime oop te vlek. Josh Young het sy eie redes waarom hy die onaantasbare maatskappy se onderduimshede wil ontmasker. Saam moet hulle die Orde se geheime Alfadokument opspoor. Dis hulle enigste kans om te wys wat se onheilighede werklik agter die sukses van die Groot Ses skuil. Die soektog neem hulle op ‘n gevaarlike ekspedisie regoor Europa met ʼn moordenaar kort op hul hakke. Min weet hulle hoeveel bose geheime hulle gaan ontmasker.
Koop die boek of e-boek hier.
Doodsengel
Madelein Rust
Is dit ’n vergeldingsdrang wat iemand laat moor, of kan dit die psigologiese nagevolge van traumatiese kinderjare wees? Magdalena Bakkes moor vir die derde keer in haar lewe en kies om te vlug, gedring deur die moeras van molestering en geweld wat haar kinderjare gekenmerk het. Niemand behalwe die onbekende vrou wat haar help wegkom, weet van die verkragting nie. En niemand sal weet dat Magdalena haar aanvaller se lewe geneem het nie. Sy sal nooit weer in ’n sel sit nie, al kos dit wát. Sy veg om ’n fasade van normaliteit te behou, help haar beskadigde kliënte en bied vir ’n groep ewe beskadigde elfjarige weeskinders Sondagskoolklasse aan terwyl sy haar blinde ma ondersteun en poog om die psigologiese nagevolge van die verkragting en moord te verwerk. Is daar onheil by die kinderhuis? Hoe diep en wyd strek die boosheid? Is haar ma werklik in die greep van demensie, of is daar iets anders, iets erger aan die gang? Sal die groep vigilantes daarin slaag om haar moord toe te smeer, of sal die groot polisieman sy woord gestand doen en die moordenaar aankeer?
Koop die boek of e-boek hier.
Eendag is Nou
Kristel Loots
Jacomien is moeg vir haar man. Haar lewe lank wag sy op eendag om gelukkig te wees net om te besef dat eendag nie meer op haar wag nie. Eendag is nou.
Koop die boek of e-boek hier.
Ander kategorieë wat op ons boekrak wag, sluit in fiksie vir tieners, stories vir kinders, ernstiger werk vir volwassenes en niefiksie … Wat gaan op volgende maand se boekrak wees? Hou Afrikaans.com dop en vind uit!