Die koronovirus het voorlopig ’n stokkie gesteek voor die bywoning van lewendige teater en kunstefeeste. Daarmee saam sit ons kunstenaars en akteurs nou sonder inkomste en venues en gaan dit broekskeur in ’n bedryf wat dikwels aan die agterspeen suig wanneer dit by befondsing kom.
Ons almal weet egter: In Suid-Afrika ontbreek dit nie aan kreatiwiteit en oorlewingsdrang nie, soos nou weereens bewys is deur Johan van der Merwe en Rudi Sandler van Theatre Rocket-produksies – die breine agter die grensverskuiwende teaterervaring, DEURnis, waar een-tot-een produksies plekspesifiek is en binne en rondom ’n huis of gebou plaasvind. Theatre Rocket het onder andere ook Die Reuk van Appels en Kamphoer vervaardig. Afrikaans.com het met Johan van der Merwe van Theatre Rocket-produksies gesels oor hulle besluit om DEURnis nou digitaal aan te bied.
“Die enigste goeie nuus van inperking is dat DEURnis nou vir die wêreld oopgemaak is.” – Ingrid Glorie, letterkundige, skrywer en koördineerder van Week van die Afrikaanse Roman in Amsterdam
Grepe uit vorige opvoerings
Johan vertel dat hy en sy span, asook skrywers en akteurs, net voor die inperkingstydperk sou bymekaarkom om ’n dinkskrum te hou oor voornemende projekte. Ongelukkig het die inperking hierdie samesprekings verhoed en moes ander planne beraam word. Johan en sy kollegas, Johan Smith en Ben Pienaar het toe die eerste drie weke van inperking saam in ’n huis gewoon en begin dink aan alternatiewe opsies. Sê Johan: “Skielik is ons gedwing om ’n ander plan te maak en het ek, Johan en Ben besluit die digitale formaat kon werk. En ek moet sê, die reaksie tot dusver was ongelooflik, want omdat ons nie tot ’n venue beperk is nie, kan mense selfs oorsee deel in die ervaring – en dit alles ten spyte van inperking en boonop in die gemak van hulle eie huis.”
Daar is aanvanklik op drie stukke besluit wat met sukses digitaal aangebied kon word. Die drie stukke, @wiesjouWihan, Witvlag en War is toe spesiaal vir digitale platforms geskep. Die positiewe reaksie wat hulle ervaar het, het hulle nou aangespoor om nog drie stukke te ontwikkel, veral omdat dit ’n konsep is wat selfs na inperking goed kan werk.
Hoe dit werk:
“Dit is weereens ’n geleentheid wat enige teaterliefhebber behoort aan te gryp, geld kan eintlik nie betaal vir so ’n persoonlike belewenis met ’n akteur nie.” – reaksie via Facebook
DEURnis digitaal het reeds op 25 April met drie produksies afgeskop. Die produksies, Witvlag, @wiesjouWihan en War, is elkeen ontwikkel vir ’n spesifieke platform, naamlik Instagram, Skype en WhatsApp-stemboodskap. Johan sê egter dat dit ook aangepas kan word volgens die gehoorlid se voorkeur of toegang tot platforms en dat elke digitale interaksie nommerpas vir elke gehoorlid gemaak kan word.
Elke produksie is tussen 15 – 20 minute lank en is regstreeks (lewend) tussen een gehoorlid en een akteur. Omdat die vertoning digitaal op ’n selfoon of rekenaar plaasvind, is goeie selfoonontvangs en genoeg data of betroubare wi-fi ’n noodsaaklike vereiste om die ervaring so glad as moontlik te laat verloop.
Grepe uit vorige opvoerings
Die produksies
Daar is tans drie produksies om uit te kies, maar jy kan uitsien na nog in die nabye toekoms.
Die volgende reaksie deur die vryskutjoernalis Jean Oosthuizen verduidelik in ’n neutedop wat jy te wagte kan wees: “Ek was nog nooit so intiem ingetrek in ’n toneelstuk soos vanaand nie. Sesuur kry ek ’n boodskap op Messenger van my seun Danie (alias Ben Pienaar, akteur in Witvlag) wat met sy pa wil praat. Eers ’n kort gesprek en dan … Dan begin die toneelstuk van die seun wat aan sy pa vertel hy is gay en wil uit die kas uit kom, maar weet nie hoe nie … en natuurlik al die intriges daar rondom. Liewe genade, dis so real jy kan sweer dis regtig jou eie seun wat hier met jou praat. Tien uit tien.”
Witvlag met die akteur en skrywer Ben Pienaar, is ’n emosionele stuk wat stoei met daardie dinge waarop ’n mens eintlik nie ’n antwoord het nie. Die kind met sy wortels in vandag … wat nie sy gesinslede in die oë kan kyk nie en juis daarom vind die produksie via Skype plaas. Dit is ’n oproep na ’n ma, pa, broer of suster (afhangend van die gehoorlid se geslag en ouderdom wat vooraf d.m.v. ’n vorm bepaal word) en ondersoek die omstandighede van sy grootwordjare, sy seksuele voorkeur en so meer – alles oorgedra in goed deurdagte en treffende dialoog, soos “Ek wil net hê jy moet luister, want as ek dit nie sê nie, vir iemand sê nie, gaan die waarheid ander paadjies uit my lyf uit soek.”
Teks & regie: Nico Scheepers
Reaksie via Facebook:
“Goeie teater gee insig. Dit kweek empatie. Dit maak ’n mens ‘beter’. DEURnis en Witvlag is goeie teater.”

“Wian as akteur het dit (die rol) perfek vertolk. Die seer wat hy self beleef het, het hy omskep in puik, eerlike spel. Die humor was puik en of jy 18 of 50 is, jy kan daarmee relate uit ’n fase in jou lewe.” – reaksie via Facebook
@wiesjouWihan met die jong akteur Wian Coetzee, betrek ’n jonger gehoor en gaan oor ’n Youtuber en blogger, Wihan, wat sy agtiende verjaarsdag vier. Hy is egter ontnugter, want die boksies wat met grootword gepaardgaan, is vir hom een te veel. Die stuk gee ’n dieper kyk op die probleme waarmee jongmense in die digitale era te kampe het. Mense praat nie meer met mekaar nie en persoonlike kontak is minimaal, want alles gebeur via sosiale media. Boonop is sy kykers vandag ekstra bekkig en klap die tonge seer – en kort voor lank ontrafel dinge vinnig en moet Wihan aanvaar dat dit net hy en sy ma is op die belangrike dag …
Die produksie word op Instagram aangebied.
Teks & regie: Marista van Eeden

War met die akteur en skrywer Renos Nicos Spanoudes, gaan oor ’n dokter wat aan sy kind moet verduidelik hoekom hy nie tydens inperking by die huis kan wees nie en ook hoekom hy sosiale afstand moet handhaaf wanneer hy by die huis kom. Hy is deel van die mediese span wat die “vyand” moet beveg. Dit is oorlog, maar dis ’n ander soort oorlog. Een sonder gewere, vliegtuie of soldate teen ’n vyand wat jy nie met die blote oog kan sien nie. Johan vertel dat die gehoor gevra word om te reageer met selfies en stemboodskappe en dat die reaksie ongelooflik en met tye roerend is.
Die produksie vind via WhatsApp-stemboodskap plaas.
Teks: Renos Nicos Spanoudes; Regie: Johan van der Merwe
Reaksie via Facebook:
“This is beautiful work – poignant, intimate, distant and scary all at once. You have BROKEN MY HEART!”
“Thank you very much. You had me in tears. It had special meaning for me, as my sister is in the nursing profession and our father passed away almost 8 years ago. It was beautiful.”

Hoe ervaar die akteurs dit?

Witvlag se Ben Pienaar sê dat die manier van optree heelwat van die meer tradisionele manier op ’n verhoog of dan by die persoon in een ruimte verskil. ’n Sosiale medium soos Skype verbind jou met ’n kamera met ’n persoon in ’n ander vertrek of area, selfs oorsee. “Alles is skielik vergroot en nie so ver weg nie en die persoon aan die ander kant van die skerm kan elke beweging waarneem en jy voel broos voor die gehoorlid – op ’n manier vulnerable.” Tog sê Ben dat dit ’n wonderlike medium is, want ewe skielik is jy in iemand se sitkamer en deel jy jou storie met die persoon in sy eie huis en raak dit ’n uiters persoonlike ontmoeting wat natuurlik ’n heeltemal ander dinamika aan DEURnis digitaal gee. “Die grootste aanpassing wat ek moes maak , was om regtig die gehoorlid te sien aan die ander kant van daardie skerm en myself toe te laat om werklik met hulle te connect wanneer ek die storie vertel – op ’n manier wat hulle en myself baie vulnerable laat voel.” Dan is daar natuurlik die tegniese aspekte, soos internetverbinding, die tipe platform waartoe die gehoorlid toegang het. Party verkies Skype en ander WhatsApp – alles detail wat in gedagte gehou moet word en deur die akteur gefasiliteer moet word. “Jy as akteur word dus die fasiliteerder wat die narratief na mense bring op ’n real, persoonlike vlak omdat daardie prosceniumboog of muur tussen die verhoog en die gehoor in “tradisionele” toneelopvoerings verdwyn en dit nou een-tot-een is. En dit maak dit nog meer persoonlik.”

@wiesjouwihan se Wian Coetzee sê dat DEURnis digitaal tot dusver regtig lekker werk. Hulle ervaar min probleme en die probleme tot dusver was redelik maklik om op te los. “Ons probeer om alles so maklik moontlik vir die gehoorlid te maak, ongeag ouderdom en ervaring met sosiale media. Dit is dus ’n nuwe ervaring vir almal!” Wian sê ook dat dit definitief ’n uitdaging is om digitaal te speel. “In tradisionele teater het jy as akteur die voordeel van die gehoor se reaksies en energie eerstehands te ervaar, wat dit makliker maak om ’n karakter te dryf en die energie hoog te hou. In ’n digitale omgewing is daar ’n buffer tussen gehoorlid en akteur, dus lê daar meer verantwoordelikheid in jou as akteur om self al die energie te skep, al voel dit asof jy net met jou foon praat.” Tog sê Wian is dit ’n lekker uitdaging wat elke akteur volgens hom moet ervaar. “Dit dwing jou om regtig 100% staat te maak op jouself, jou eie energie, talent en proses.”

War is Renos Nicos Spanoudes se derde DEURnis-optrede, maar soos Renos sê, die keer was die uitdaging soveel groter omdat dit in die kuberruimte plaasvind – aan die ander kant van ’n foon. Renos vertel dat met die skryf van die stuk het hy inspirasie geput uit wat in die media verskyn het. Desperate, uitgeputte en vreesbevange individue in die oorlog teen die virus, massas mense buite en in die gange omdat daar nie plek in die hospitale is nie. Mense soos ek en jy wat weens hulle werk en ondanks hul eie gesinne, in die voorste linies “baklei”. Dit het hom gelei na die scenario van ’n pa wat aan sy seun of dogter moet verduidelik hoekom hy nie by die huis is of kan wees nie en hoekom hierdie sosiale afstand so belangrik is – hoekom drukkies en aanraking taboe is. Die oproep voel werklik, want op die agtergrond is daar die geluid van mense wat hoes, hospitaalgeraas, sirenes. Die pa stuur ook ’n foto van die “mediese span”. Dan kom die boodskap, jou pa, dr. so-en-so (die dr. se naam hang af van die gehoorlid se van) stuur vir jou ’n boodskap vanaf die hospitaal. Daarna kom die stemboodskap waarin die pa die situasie verduidelik. Dit word opgevolg met nog ’n boodskap wat dankie sê vir die ervaring. Renos vertel dat die gehoorlede gevra word om te reageer met hul eie foto’s en boodskappe en in sy eie woorde: “Some of these messages made me weep. The effect this has on people, the power of the mind. Here you have a child and his family who do not know whether or not their father will return. They have to deal with the absence of the father. This is truly theatre of healing.” One message received days after the performance is particularly poignant. It read: “Dad, I’m thinking of you. Mom, Trojan (the dog) and I are fine. Stay safe dad.”
Om jou unieke ervaring te bespreek
Kaartjies kos R80 per produksie en kan op DEURnis se webtuiste bespreek en betaal word. Daar is verskillende betalingsgopsies beskikbaar en sodra bevestiging van betaling gekry is, word die gehoorlid gevra om ’n vorm in te vul sodat die akteur sy optrede daarvolgens kan aanpas indien nodig. Op die manier kan die mees geskikte digitale platform en tyd ook vasgestel word – wat dit nog meer van ’n persoonlike ervaring maak. Klik hier om jou kaartjie te koop.
Nuwe stukke sal bygevoeg word soos wat die projek vorder. Volg DEURnis gerus op hul Facebook-bladsy om op hoogte te bly.
Meer oor die konsep
Een-tot-een teater maak van ‘n mens ‘n medespeler. Die akteur praat met jou … en oor jou. Jy word meer as deel van die verhoog … Jy is deel van die storie en die storie is joune. – Deurnis-feesganger
DEURnis is nou reeds in sy 11de speelvak. Die “tradisionele” DEURnis-teater vind een-tot-een plaas en is ’n konsep wat so ’n paar jaar terug begin is. Tydens die optrede, word die gehoorlid letterlik deel van die teaterervaring (immersive theatre). Produksies is plekspesifiek en speel af binne en rondom ’n huis of gebou. Slegs een gehoorlid word op ’n keer tot die vertrek toegelaat waar die akteur en gehoorlid van aangesig-tot-aangesig is, wat die ervaring nog meer intiem maak. Alhoewel die gehoorlid nie enigiets hoef te sê nie, word hy/sy tog betrek.
Die titel van die projek, DEURnis, is ’n samevoeging van die woorde “DEUR” en “deernis”. Aan die ander kant van die deur wat lei na die toneel, kan die gehoorlid ’n stuk verwag wat met deernis en gestroopte eerlikheid vertel word terwyl dit emosionele en sosiale vraagstukke ondersoek.
Algemene navrae
Johan van der Merwe – 082 829 6035 of Rudi Sadler – 082 464 2113