Elke Donderdagaand om 20:00 neem van die beste akteurs in die land RSG-gehore op ’n verbeeldingsreis met hul gesogte radiodramas.
Die Huisbesoek, uit die pen van Wilmi Wheeler, die wenner van die 2019 RSG/Sanlam Radiodramakompetisie se afdeling vir jong skrywers, kom hierdie week aan die beurt. Met bekendes soos Dawid Minnaar, Cindy Swanepoel en Rika Sennett agter die mikrofoon, beloof dit om ’n onvergeetlike ervaring te wees.
Luister hier na ’n klankgreep uit
Waaroor gaan die radiodrama?
Celia roep in die vroeë oggendure die hulp van die jong dominee op die dorp in. Sy het pas ontdek dat haar man, Paul, ’n buite-egtelike verhouding het. Terwyl die dominee Celia probeer oorreed om nie haar man om die lewe te bring nie, dink sy terug aan gebeure uit hul verlede.
Christelle Webb-Joubert, wat die regie van die stuk behartig het, meen die verhaal is eenvoudig, tog kompleks. “Die storie speel in ’n kwessie van ’n paar uur af. Groot dele van die teks is ’n gesprek tussen Celia en die dominee.”
Volgens Christelle bly een van die grootste uitdagings om die luisteraar se aandag te behou. In hierdie geval was die keuse van musiek ook besonders uitdagend.
“Gewoonlik kan ek dadelik hoor as musiek net eenvoudig by ’n stuk pas, maar in Die Huisbesoek se geval wou niks pas nie. Ek het dus doelbewus besluit om geen musiek te gebruik nie, behalwe met die uitsondering van een toneel. Met die dag van opname, en na dít wat die akteurs my gegee het, het ek net geweet die stuk WIL nie musiek hê nie.”
Die akteurs
RIKA SENNETT – Celia
Rika het aanvanklik bekendheid verwerf vir haar rol in die SABC 2-sepie Hillside. Verder het sy ook al in ’n paar bekende films gespeel, onder andere Snip en Rissiepit, Die Square, Mrs Mandela, Roepman, Verraaiers en Meerkat Maantuig.
CINDY SWANEPOEL – Dominee
Cindy word weekliks gehoor as Beverly in Hartebrekers op RSG en is weeksaande op die kassie as dr. Annelize Roux-Koster. In hierdie radiodrama vertolk sy egter ’n ander rol as dié waarvoor sy bekend is.
DAWID MINNAAR – Paul
Dawid Minnaar het geen bekendstelling nodig nie. Hy is veral bekend vir sy rolle in Onder draai die duiwel rond, 7de Laan, Binnelanders, Sara se Geheim en Fynskrif. Verder is hy ook ’n bekende gesig op die verhoog, waar hy reeds talle pryse vir sy toneelspel losgeslaan het. Die Huisbesoek is een van Dawid se eerste radiodramas in ’n lang tyd.
OOR DIE SKRYWER – Wilmi Wheeler
Ek het grootgeword en skoolgegaan in die platteland, in ‘n klein Vrystaatse dorpie, Bultfontein. Na skool het ek joernalistiek studeer by Kovsies en begin werk as ‘n vryskutskrywer. Ek doen tans nog vryskut-skryfwerk in die Kaap vir plaaslike publikasies en Livingston Research, ‘n Amerikaans-gebaseerde maatskappy.
Die Huisbesoek is my eerste radiodrama. Ek het die slypskool in 2019 in Kaapstad bygewoon. Die slypskool is ‘n briljante inisiatief, veral vir onervare skrywers, om hulle voor te berei vir die skryf van radiodramas.
Die mentorskap wat ek ontvang het, het baie vir my beteken. Aangesien ek nog nie veel ervaring as ‘n radiodramaskrywer het nie, het my mentor, Eben Cruywagen, moontlikhede vir verbetering raakgesien, en verder raad gegee oor hoe ek my drama kan skaaf om my kanse in die kompetisie te verbeter.
Skakel gerus in op RSG op Donderdagaand, 21 Mei 2020 om 20:00 vir die uitsending van Die Huisbesoek.