Sedert die ontstaan van Afrikaans.com in 2016, was ons hoofdoelwit nog altyd om die uniekheid en diversiteit van die Afrikaanse taal en kultuur te vier. Verskeie veldtogte het deur die jare gevolg wat deurgaans die mooi en onmisbaarheid van Afrikaans en sy leefwêreld omarm het. En nou maak ons weer so, maar hierdie keer sit ons ’n kinkel by en betrek ons die Afrikaans.com-gehoor.
As jy dus trots is op jou Afrikaanse wortels of sommer net lief is vir die taal, nooi ons jou uit om aan ’n videokompetisie deel te neem waarin jy juis die unieke karakter van Afrikaanswees uitbeeld. Wie weet, dalk is jou video een van die vyf wenvideo’s en kry jy so die geleentheid om deel van Afrikaans.com se jongste veldtog te word. Al wat jy moet doen, is om tussen 15 Mei en 15 Junie 2020 jou video vir ons stuur. Die prys? Wenvideo’s word deel van Afrikaans.com se nuwe TV-advertensie!

Jongste veldtog: Jy is Afrikaans as …
Met ons jongste veldtog vestig ons opnuut die aandag op wat Afrikaanspraters laat uitstaan en daag ons jou uit om die volgende stelling te voltooi: “Jy is Afrikaans as …”.
Daarom vra ons dat deelnemers hulle kreatiewe hoede opsit, uit die boks uit dink en daardie gewoontes, geite, woorde en uitdrukkings waarop Afrikaanspraters meestal nie meer ag slaan nie, maar wat hul tog trots Afrikaans maak, op ’n kreatiewe manier in ’n kort video vas te vang en uit te beeld.
Na afloop van die kompetisie word die vyf beste video’s gekies en word deel van ’n TV-advertensie wat die uniekheid en diversiteit van die Afrikaanse kultuur uitbeeld. So kry elke deelnemer, maar indirek ook elkeen wat trots is op sy/haar taal en kultuur, die geleentheid om daardie kulturele identiteit uit te leef en met die wêreld te deel.
Waarna ons op soek is:
’n Video van nie langer as 60 sekondes nie, waarin die veldtogtema, Jy is Afrikaans as … en ook die volgende boodskap oorgedra word:
- Jy mag maar trots wees op jou taal en die kulturele gewoontes daaraan verbonde.
- Jy kan wees wie en wat jy wil wees deur jou taal en kultuur te omarm, want dit is deel van jou identiteit.
- Jy vier en verken Afrikaans en sy leefwêreld sonder voorbehoud.
Kriteria vir video:
Uittreksels van die wennervideo’s gaan uiteindelik deel uitmaak van ’n TV-advertensie, dus:
- Die video moet verkieslik nie langer as 60 sekondes duur nie.
- Kreatiwiteit en oorspronklikheid (met of sonder humor) sal voorkeur geniet.
- Beligting- en klankgehalte is uiters belangrik en sal tot deelnemers se voordeel strek.
- Maak seker dat agtergrondgeraas (soos wind, blaffende honde, ens.) uitgesluit is en praat duidelik en in die kamera in.
- Video’s moet in landskapformaat opgeneem word.
- ’n Kort beskrywing van die idee agter die video is opsioneel.
Kompetisiereëls:
- Die kompetisie open op 15 Mei 2020 en sluit om 14:00 op 15 Junie 2020. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
- Plaas jou video op jou Facebook- of Instagramblad en tag ons by @afrikaansdotcom. Jy kan ook jou video op YouTube laai en die skakel per e-pos aan Afrikaans.com stuur by myafrikaans@afrikaans.com
- Baie belangrik: Merk jou inskrywing met die hutsmerk #tuisinjoutaal.
- Video’s moet verkieslik nie langer as 60 sekondes duur nie.
- Kreatiwiteit en videogehalte sal bydra tot ’n moontlike wenvideo.
Neem sommer vandag nog deel!
Daar is min tyd, maar siende dat ons steeds in inperking is, is nou juis ’n geleentheid om kreatief te raak en ons daaglikse bestaan so bietjie op te kikker. Ons kan nie wag om jou video te ontvang nie!
Lees meer oor ons vorige veldtogte hier
’n Paar wenke:
Dink so bietjie uit die boks en stuur vir ons jou weergawe van Jy is Afrikaans as …
Ons stel voor jy luister na jouself of jou mede-Afrikaanspraters, want ons kan jou ’n brief gee dat jy beslis die volgende sal hoor of sien: ja-nee (eintlik stem die persoon saam), yebo (i.p.v. ja), lekker (vir alles, nie noodwendig kos nie), nou-nou (nie oor 5 minute nie, of dalk, maar kan ook later of die volgende dag wees!), ag shame! (nee jy voel nie jammer nie, eintlik is iets vir jou oulik), iemand wat kaalvoet sokkie, vriende wat braai en die hele rugbywedstryd wat hulle so pas gekyk het, analiseer, die ref of liewer Mr Ref (weereens) uitskel en tussen-in almal verseker dat dié boerewors op die kole die heel beste is wat hulle nog ooit geproe het en dat doringhout die enigste hout is om te gebruik. En natuurlik sal daar iemand wees wat met sy glas in die hand kwytraak: “Met eisj, ja! Met eisj.” Dis nou anders as die gewilde eish! wat ai, jinne, genade en nog meer kan beteken.
Afrikaans.com-veldtog: Jy is Afrikaans as …
BEPALINGS EN VOORWAARDES
Beskrywing van kompetisie
- Deelnemers word genooi om ’n kort video wat Afrikaanswees uitbeeld en die volgende stelling voltooi: Jy is Afrikaans as … te maak.
- Baie belangrik: Merk jou inskrywing met die hutsmerk #tuisinjoutaal.
- Deelnemers kan soveel keer as wat hul wil inskryf, maar die kompetisiereëls moet deurgaans nagekom word.
- Elke inskrywing moet ’n unieke video wees.
Formaat van kompetisiereëls en inskrywing
- Deelnemers moet hulle video’s op hulle Facebook-/Instagramblaaie plaas en Afrikaans.com tag @afrikaansdotcom OF die video kan op YouTube gelaai word en die skakel per e-pos aan Afrikaans.com gestuur word by: myafrikaans@afrikaans.com
- Merk jou inskrywing met die hutsmerk #tuisinjoutaal.
- Inskrywings wat via ander platforms aan Afrikaans.com gestuur word, is nie geldig nie en sal nie vir die kompetisie in aanmerking kom nie.
- Inskrywings moet in videoformaat wees – ’n kort beskrywing is opsioneel.
- Deelname aan die kompetisie is op die deelnemer se eie risiko en Afrikaans.com kan nie verantwoordelik gehou word vir enige koste, insident en/of besering wat uit die vervaardiging van die video mag voortvloei nie.
- Inskrywings word geag as toestemming vir Afrikaans.com om die videomateriaal na goeddunke in die gemelde TV-advertensie te gebruik en/of op die Afrikaans.com-webtuiste en sosialemediaplaftforms aan te wend. Dit sluit in die gebruik van materiaal waarin kinders verskyn.Vrywaring van alle beeldmateriaal word dus met elke inskrywing deur die persoon wat inskryf, gegee.
- Beoordeling berus by Afrikaans.com se interne span.
- Wenners word onafhanklik geoudit om die geldigheid van die kompetisie te verseker.
- Geen persone geaffilieer by Afrikaans.com, of ’n werknemer van Afrikaans.com, mag inskryf nie.
- Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
Tydperk van kompetisie
- Die kompetisie open Vrydag, 15 Mei 2020 om 08:00 en is geldig tot en met Maandag, 15 Junie 2020 om 14:00. Slegs inskrywings wat binne hierdie tydsraamwerk ontvang word, sal oorweeg word.
- Wenvideo’s word op 18 Junie 2020
- Die wenvideo’s word daarna verwerk en uittreksels daarvan word gebruik in die gemelde Afrikaans.com-TV-advertensie, Jy is Afrikaans as …
- Die wennervideo’s sal in hulle geheel op Afrikaans.com se platforms vertoon word.
Klik hier vir volledige bepalings en voorwaardes.