Die Suidoosterfees het tydens die inperkingsperiode ’n musiekvideo opgeneem wat op 27 April (Vryheidsdag) vrygestel is. Laurika Rauch se bekende lied “Hot Gates” word in dié video deur die sangeres en die Libertas-koor uitgevoer. Die lied is tydens die Suidoosterfees van 2018 se Konsert van Hoop deur Rauch en die koor gesing as deel van ’n sinergieprojek tussen die fees en Artscape. Camillo Lombard was die musikale regisseur.
“Hot Gates”, geskryf deur Chris Torr, se liriek is, met die uitsondering van die refrein, saamgestel uit 58 plekname wat verwys na ruimtes waar mense se lewens deur konfliksituasies beïnvloed is. Internasionale geografiese verwysings hou verband met die Tweede Wêreldoorlog, terwyl plaaslike name na slagvelde in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verwys.
Die titel van Torr se lied is ’n vertaling van die Griekse pleknaam Thermopylae, waar ’n vurige veldslag tussen die Grieke en Persiese invallers in 480 vC plaasgevind het. “Hot Gates” spreek simbolies tot konfliksituasies in die wêreld waar geen einde skynbaar in sig is nie. Terselfdertyd suggereer dit dat daar ’n poort of hek na ’n beter toekoms is.
Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê dat “Hot Gates” se kragtige lirieke besonder gepas is vir die tyd waarin die mensdom ’n wêreldwye pandemie trotseer. Die musiekvideo-inisiatief sluit aan by president Ramaphosa se onlangse oproep aan Suid-Afrikaners: “We have a disease spreading throughout the world. We must fight this common enemy. At war, it pays no benefit to fight among one another. We are supporting efforts to share information and research, combining resources as much as possible.”
Prof. Brian Figaji, direksievoorsitter van die Suidoosterfees, sê: “Ons moet hande vat, want sinergie binne die kunste sal oorspoel na die samelewing. Die Suidoosterfees se slagspreuk, ’n Fees vir almal!, verdien om in hierdie tyd beklemtoon te word. Ons is almal in dieselfde bootjie, ons het almal ’n boodskap van hoop nodig.”
Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap en een van die Libertas-koor se stigterslede, is trots op die samewerkingsprojek. Vir haar is die koor, wie se leuse Vryheid in harmonie is, die aangewese keuse vir die opname. “Die belangrikheid en impak van Vryheidsdag mag nie vergeet word nie,” sê sy.
Vir verdere inligting, kontak vir Faren Esau by 076 632 3304 of Faren.Esau@media24.com.