Afrikaans kan nie aan bande gelê word nie … dis kleurvol, kreatief en selfs ’n gebeurtenis soos Covid-19 kan dit nie keer nie! Oor die afgelope drie weke het Afrikaans.com die publiek in drie verskillende kompetisies uitgenooi om ons te wys hoe #tuisinjoutaal lyk … Hiermee ons gunstelinginskrywings. Die nege wenners sal Donderdag, 30 April, aangekondig word.
Kompetisie 1:
Wat doen jy om jou kinders tuis besig te hou?
’n Ouer is ’n leier, ’n speelmaat, ’n onderwyser. Van al die baadjies wat ons mammas en pappas hierdie maand aangetrek het, was die volgende vyf ons gunstelinge.
Klein wetenskaplikes
Met hierdie inskrywing gebruik Michelle Louise Petzer dit wat reeds om haar is om haar kinders besig en gelukkig te hou. Almal het dalk nie gedurende hierdie tyd toegang tot ’n dam of selfs tuin nie … tog is Michelle se benadering ook van toepassing op ’n groot aantal ander dinge waartoe jy binne en buite die huis toegang het. Raak kreatief in jou leefspasie!

Lees en word ver(ryk)
Stephanie van der Merwe het ’n ooreenkoms met haar dogter aangegaan om te lees vir ekstra sakgeld. Ons het hierdie benadering baie geniet omdat dit kinders gedurende hierdie tydperk motiveer om steeds produktief te verkeer … Die middel hoef nie ’n boek te wees nie en die beloning nie finansieel nie. Maak byvoorbeeld gebruik van Afrikaans.com se keur van gratis aflaaibare middele en bederf jong kinders met ’n sjokoladeblokkie vir elke werksvel wat voltooi word.

Word lekker fiks
Catherine Golding se kleindogters word aangemoedig om allerlei oefeninge te doen. Hierdie inskrywing was onder ons gunstelinge omdat dit byna in alle tipes huise nagevolg kan word. Ouers – julle kan boonop lekker saam oefen!
Leer oor diertjies
Mila Spies se kinders is bevoorreg om toegang tot Moeder Natuur te hê. Hierdie tydperk is die ideale geleentheid om kinders meer oor die aarde en diere te leer – spesifiek met betrekking tot respek. Jy kan ook van prente en stories gebruik maak om dit te doen.

What’s inside the box
Beninca Steyn se Ethan en Ava het allerlei kreatiewe idees op hul Youtube-kanaal. Die eenvoud dog briljantheid van hierdie inskrywing het ons nie net laat terugverlang na ons eie kinderdae nie … maar is ook maklik doenbaar in byna enige huis.
Kompetisie 2:
Covid-19-nuutskeppings
Kompetisie 2 was alles oor woorde en het inskrywings opgelewer wat ons byna stomgeslaan het. Buiten vir die drie wenners wat more (30 April) aangekondig word, het week 2 boonop ’n splinternuwe woordeboek opgelewer. Uit hierdie woordeboek was ons gunstelingnuutskeppings die volgende …





Kompetisie 3:
Blog en vlog in jou taal!
Vir die laaste week het ons dit goedgedink om die inskrywingsmoontlikhede te verbreed – wys ons in ’n blog of vlog hoe jy jouself bedrywig hou en wen! Hiermee ons top 5 inskrywings.