Jy het reg gehoor! Met BandwithPro kan jy nou, in die gemak van jou eie huis, ’n aanlyn klas loop by een van jou gunstelingmusikante.
Met die huidige COVID-19-pandemie is die vermaaklikheidswêreld, soos ons dit ken, op sy kop gedraai. Skielik is konsertsale leeg en die moontlikheid van vertonings in die komende maande blyk skraal te wees. Die migrasie na aanlyn platforms het oornag gebeur en kunstenaars toegelaat om hul gehore te bereik sonder om ’n voet by die deur uit te sit – iets wat ’n paar maande gelede ondenkbaar was.
Een van hierdie platforms wat op ’n innoverende wyse te werk gaan om die aanlyn moontlikhede vir musikante te ontsluit, is BandwithPro.
BandwithPro is ’n aanlyn platform waar aspirant-musikante of enigeen wat belangstel daarin om meer te leer van die musiekmaakproses, by professionele musikante vir raad kan gaan aanklop. Of jy besig is met die skryf van ’n liedjie of ’n spesifieke instrument wil baasraak, hierdie platform bied jou die geleentheid om dit in die gemak van jou eie huis te doen met die hulp van musikante wat jare se ervaring op hul kerfstok het.

Valiant Swart

Jono Sweetman
Bron: www.bandwith.pro
Van die kunstenaars op die platform sluit bekendes soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar, Valiant Swart, Danie du Toit van Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Gerald Clark en Schalk Joubert in.
Die platform dek ’n wye verskeidenheid genres en maak ook voorsiening vir ’n groot aantal instrumente insluitend kitaar, trompet, saksofoon, klavier, viool en tromme. Verder bied sommige kunstenaars ook ondersteuning met die liedjieskryfproses.
Een van hulle, is die befaamde musikant Valiant Swart. “Die lesse is so lekker en maklik, selfs vir ’n tech-tard soos ek. As jy so bietjie advies soek met byvoorbeeld lirieke, of die konstruksie van jou nuwe komposisie of sommer net ’n bietjie inspirasie – bespreek gerus ’n sessie, dan bounce ons ’n paar idees.”
Dr Schalk van der Merwe, medestigter van BandwithPro en baskitaarspeler vir Karen Zoid, is van mening dat die aanlyn migrasie van musiekinhoud, hetsy deur “streaming” of aanlynlesse, hier is om te bly: “Ons lys van professionele musikante op BandwithPro groei daagliks, en daarmee saam ons kollektiewe waarde as die eerste plek waar jy vir lewendige aanlyn musiekinteraksies gaan soek.”

Hoe werk die platform?
Die platform bied elke gebruiker ’n opsie tussen ’n verskeidenheid instrumente, genre’s en musikante. Gebruikers kry ook die geleentheid om ’n spesifieke tydgleuf te kies. Na afloop hiervan, ontvang beide partye ’n uitnodiging na ’n aanlyn sessie. Al wat jy benodig vir hierdie sessies, is internetkonneksie sowel as ’n rekenaar met ‘n kamera en mikrofoon.
Elke sessie duur 40 minute en kos R250.
Vir meer inligting of om ‘n sessie te boek, besoek gerus hul webtuiste by www.bandwith.pro of stuur ’n e-pos na info@bandwith.pro.
Gaan maak ook ’n draai op hul sosialemediaplatforms:
@bandwithPro – Facebook
@bandwithPro – Instagram
@BandwithP – Twiiter