Hierdie inperkingsperiode kan baie lank raak as jy nie iets het om jou leesspiere mee te prikkel nie.
Met NB-Uitgewers se aanlyn aanbod, kan jy nou toegang tot jou gunstelingskrywers se boeke kry sonder om ’n voet by die deur uit te sit.
Hierdie maand fokus ons dus op NB-Uitgewers se top 10 e-boeke van die maand en kry jy ook die geleentheid om die eerste hoofstuk van die topboek gratis te lees.
Topboek van die maand:

Koors
Deon Meyer
Die Koors het byna almal gevat. Maar nie dertien jaar oue Nico Storm en sy pa, Willem, nie. Deur ’n SA-landskap feitlik sonder mense, met al hoe minder blikkieskos in die verlate winkels en al hoe meer moorddadige hondebendes – en mensebendes – swerf Nico en Willem, op soek na ’n plek om oor te begin.
Hulle bevind hul by Vanderkloof – nou Amanzi – saam met ’n groep swerflinge. Hier steek al die sondes van die mensdom weer kop uit. Gou is Amanzi op geloofs- en politieke lyne verdeel, en verdediging teen die plunderende motorfietsbendes raak al moeiliker. En wat van die geheimsinnige Domingo, wat by Amanzi aankom op ’n motorfiets en spoedig as paramilitêre leier ontpop – kan hy ooit vertrou word?
Dis nie lank nie, of moord kom inderdaad ook na Amanzi …
ISBN: 9780798175555
Laai die eerste hoofstuk van Koors hier af. Laai PDF af
Wie het ook die lys van top 10-boeke gehaal?

Sushi en Shosholoza
Erns Grundling
Niefiksie
ISBN: 9780795802119
In 2018, kort op die hakke van sy topverkoper-memoires oor die Camino, Elders en die kykNET-reeks Elders: Die Camino, reis Erns Grundling met ’n TV-span na Japan om ’n nuwe Elders-reeks te verfilm – dié keer oor die land waar die Rugbywêreldbeker 2019 plaasgevind het.
Sushi en Shosholoza is sy verslag van sy reis – nie gebaseer op die TV-reeks nie, dog aanvullend daartoe.
Tussen pelgrimstogte soos die Kumando Kodo, die Camino se sustersroete, die uitklim van Mount Fuji en onderhoude met SA-rugbyspelers in Japan – ook met Dan Carter en Jake White – kry lesers, nes in Elders, terugflitse na Erns se jeug. Van ’n laaitie wat OP se wedstryde op die Boet Erasmus-stadion ademloos volg, tot vandag se Erns wat stomgeslaan in sy Brave Blossoms-rugbytrui sit en kyk hoe Japan nou eintlik ’n wedstryd hanteer.
Kom stap saam met Erns, dié keer op die plek waar talle Suid-Afrikaners laat in 2019 die Bokke gaan ondersteun het. Konnichiwa, Japan.

Die dao van Daan van der Walt
Lodewyk G. du Plessis
Fiksie
ISBN: 9780624082538
Toe Daan van der Walt, ’n eertydse Kalahari-boer, ’n vertigo-aanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ’n monnikeklooster in China af. Onder leiding van Meester Yang, moet Daan tai chi doen in ’n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan Daan vreet, iets wat hy van sy hart moet afkry voor hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het.
In Die Dao van Daan van der Walt word die Afrikaner-dilemma in die moderne lewe met ’n fyn lem oopgevlek.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Etienne van Heerden
Fiksie
ISBN: 9780624089223
Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ’n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak.
En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk ‘n landskap waarin die enigste sekerheid onsekerheid is.
Dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid en “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal is.

Toring van Jasmyn
Derick van der Walt
Kinder en Jeug
ISBN: 9780624087526
Markus Combrink reis saam met sy pa, suster en ’n vriend, Neil, na Istanboel. Terwyl hulle pa werk, verken die tieners die stad en raak bevriend met twee plaaslike tieners. Daar is bomaanvalle en wanneer Markus se suster ontvoer word, begin die poppe behoorlik dans. Die vakansie ontaard in ’n avontuur wat die Combrinks nie sommer sal vergeet nie.
Derick van der Walt is die skrywer van Lien se Lankstaanskoene (Goue Sanlamwenner 2007, M.E.R.-prys vir Jeugliteratuur en IBBY Erelys 2010) en verskeie ander bekroonde jeugverhale. Sy eerste roman vir volwassenes, Daan Dreyer se blou geranium, het in 2012 verskyn. Hy woon in Pretoria.

Sindikaat
Annerle Barnard
Kinder en Jeug
ISBN: 9780624087618
Die sestienjarige Paul is verwikkeld in ’n gevaarlike hofsaak. Dan ontdek hy per abuis ’n smokkelary en dinge word baie gevaarlik vir hom en sy vriende, Adriaan en Karlien. ’n Vlugtog deur Botswana en Zimbabwe volg – met die hulp van die voormalige recce Bossie. Die vakansie, wat eintlik ’n avontuur moet wees, ontaard in ’n nagmerrie.
Annerle Barnard matrikuleer aan die Hoërskool Wolmaransstad en voltooi ’n BA (Hons) aan die Noordwes-Universiteit, asook ’n Hoër Onderwys Diploma.
Aanvanklik hou sy skool, maar begewe haar later in ’n korporatiewe sektor. Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe stiefdogter. Sy woon in Bloemfontein.

Skag
Jaco Wolmarans
Fiksie
ISBN: 9780624089490
Die opdrag aan Spesmagte se sersant Jos Fourie is eenvoudig: pas ‘n vrag missiele op wat stil-stil uit Oos-Duitsland verskeep moet word. Maar iets vrot. Eers die onverklaarbare teenwoordigheid van ‘n groep US Navy Seals wat hom in Duitsland dophou, daarna die skokontdekking van wapengehalte uraan-235 wat versteek is in sy vrag. Jos het elke greintjie vernuf waaroor hy beskik nodig om aan die lewe te bly onder die aanslag van Nigeriese seerowers, die agtervolgende Angolese vloot en sy ontluikende gevoelens vir die mooi ingenieurstudent Ashley Ramirez.
Dit word ‘n nagmerrie-tog van die Noordsee tot by ‘n geheimsinnige Weermag-skag in die Kalahari se duine, ‘n aksiebelaaide wedren teen tyd om ‘n katastrofiese kerntoets te stop voor dit ‘n internasionale insident veroorsaak en sodoende die brose onderhandelingsproses na Suid-Afrika se ontluikende demokrasie kelder.

1 Recce Vol. 2
Alexander Strachan
Niefiksie
ISBN: 9780624085218
1 Recce: Agter vyandelike linies neem die leser tot in die Recces se “binnekamer”. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola, Rhodesië en Mosambiek uitgevoer het. Operateurs sweet in vliegtuie of in duikbote diep onder die see. Hulle trotseer in die nagdonker riviere vol krokodille. Recces plaas springstof in die tonnel diep in die vyandelike gebiede en omskep ’n groot brandstofbergingsplek in ’n Angolese hawestad in ’n vlammehel.
Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese … Dié wat daar was vertel van spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die hegte vriendskapbande wat hulle gesmee het.
1 Recce: Agter vyandelike linies is Alexander Strachan, bekroonde skrywer en gewese Recce, se opvolg tot sy topverkoper 1 Recce: Die nag behoort aan ons.

Koeke en terte
Susan Coetzer
Christelike inspirasie
ISBN: 9780796321404
Elke vrou is uniek: ’n Koek of ’n tert, of iets tussenin. Koeke en terte gee jou skreeusnaakse wenke oor die verskille tussen mans en vroue en verskillende tipe vroue. Susan se gelykenisse van vroue met verskillende tipes gebak en kos, is geskik vir almal wat ’n goeie humorsin het – en veral vir hulself kan lag.
Susan takel ernstige onderwerpe: Jy as vrou is goed genoeg, jy moet nie so hard op jouself wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy leer jou hoe om jouself te waardeer, jou eie gawes te ontwikkel en om jouself en ander se uniekheid te aanvaar.

Die Bybel in Fokus
Louis Jonker, Ernst Conradie, Jan Botha
Bybelstudie
ISBN: 9780796322340
Ons glo in God en in die Bybel, tog beteken dit nie dis maklik om die Bybel te lees en te verstaan nie. Die Bybel is ’n merkwaardige boek en word elke dag deur miljoene mense oor die wêreld gelees, maar wat doen ons met die problematiese tekste wat sê ons mag nie varkvleis eet nie, en wat handel oor homoseksualiteit en streng geslagsrolle? Die Bybel in fokus is ’n hulpmiddel om die Bybel krities, maar gelowig te lees. Dit verduidelik struikelblokke in die lees van die Bybel en gee hulpmiddels hoe om van die struikelblokke ontslae te raak. Dit bied ons ook vastrapplekke om opnuut God se stem uit die Bybel te hoor.
Besoek gerus NB-Uitgewers se webtuiste en vul jou boekrak met die beste wat die Afrikaanse boekbedryf het om te bied.
Gaan loer ook na die top 10-boeke wat verlede maand die lys gehaal het.
Klik hier.