Sedert die uitbreek van die COVID-19-pandemie, word ons daagliks gebombardeer met inligting en feite oor die groot C en die VIRUS, maar baie daarvan in Engels. Soos altyd, het ons Afrikaanspraters nie op ons laat wag nie en was die taalwerkers en media hard aan die werk om “nuwe” of dan koronaverwante woorde in Afrikaans te skep. Afrikaans.com het so bietjie gaan kyk watter woorde of uitdrukkings die afgelope paar weke kop uitgesteek het en opgeneem is.
Kom ons begin by die spelling van die virus. In Afrikaans word corona en korona aanvaar. En COVID-19 bly gewoon COVID-19 of Covid-19 en woorde wat daarmee saam gebruik word, word met ’n koppelteken verbind, soos COVID-19-pandemie of Covid-19-besmetting.
En dan die woord op almal se lippe: “LOCKDOWN” …

Dit blyk dat die media “staat van inperking” verkies, maar Sophia Kapp skryf ’n paar dae gelede op VivA se FB-blad dat sy daagliks navrae oor die vertaling vir “lockdown” kry. Hier is haar plasing en verduideliking oor hoekom sy “afsondering” / “in afsondering plaas” verkies, maar dat “inperking” ook ’n korrekte vertaling is:
“Ek het reeds in ‘n ander plasing aangedui dat die vertaling daarvoor “afsonder” (vir die werkwoord), “afsondering” (vir die s.nw.) en “in afsondering plaas” (vir die proses) is. Hierdie vertaling is gedoen op grond van die vertaalbeginsel dat ‘n mens in ‘n vertaling nie net die vorm van die bronteks nie, maar ook die inhoud baie deeglik moet in ag neem. ‘n Mens dra nooit in die eerste plek vorm oor nie, jy dra betekenis oor. Die ding wat met hierdie maatreëls gedoen word, is dat mense van mekaar afgesonder word sodat die virus nie versprei nie.
“Die media verwys na “staat van inperking”. Dit is ook ‘n korrekte vertaling, want mense word ingeperk. Hulle bewegings word ingeperk en hulle regte word ingeperk. Maar dis die proses, dis nie die doel van die ding nie. Die maatreëls is nie ingestel om mense in te perk nie, die inperking is ingestel om mense af te sonder, daarom is dit my tweede keuse.
“Die derde term wat die rondte doen, is “begrendeling” of “ingrendeling” of iets wat met “grendel” te make het. Van al die vertalings is dit die een wat my die minste aanstaan. Dit is ‘n direkte vertaling van die woord sonder inagname van die bagasie wat daarmee saam kom. Dit slaan naamlik op die Amerikaanse konsep van ‘n lockdown wat in tronke plaasvind as die gevangenes oproerig raak – alles word toegesluit en niemand mag in of uit nie. Dit is, in hierdie tyd, vir my ‘n besonder onsensitiewe konsep, en boonop feitelik onakkuraat. Die implikasie dat mense deur die regering toegesluit word, het ook ‘n beduidende politieke geur. As dié geur en ideologie in jou beriggewing moet deurslaan, doodreg, maar moenie die woord so gebruik sonder om te verreken wat jy daarmee te kenne gee nie.”
Koronaverwante woorde

Op Afrikaans Vandag – Woordeboek van Eietydse Afrikaans – het Jana Luther ’n oulike woordwolk geplaas met van die koronaverwante woorde wat tot dusver opgeneem is. Hier is so ’n voorsmakie (die skrywe na die woord, is Afrikaans.com se eie):
koronastres – ons almal stres mos maar, veral oor die onbekende – en al voel die koronavirus soos ’n ou vriend na dese, bly die uitkoms onbekend en is dit streswaardig.
virusstad – eers Wuhan, maar nou beslis Italië en Spanje.
voetgroet – wees tog net versigtig om nie jou balans te verloor met die een nie!
afstandskepping (sosiale distansiëring) – jy kuier saam, maar apart. Hou ’n straatbraai – elkeen op sy eie sypaadjie of piekniek saam op Skype.
handlappie – ’n natlappie met ’n verskil – die een is in alkohol gedoop (en nee, jy kan nie daaraan suig nie!)
handjel – een in jou handsak, een in die motor, talle in die huis – selfgemaak of gekoop (as jy dit enigsins in die hande kon kry!).
elmbooggroet – hopelik het jy lang arms – anders gaan die een nie so goed werk met die 1,5 m-afstandskepping nie.
druppelbesmetting – in ons droogtegeteisterde land is dit nou een druppel wat ons nie naby ons wil hê nie. Hoes in jou elmboog of in ’n snesie, man!
stormkopies – nog nooit sedert voor 1994, het ons mense so gekoop nie. Wanneer jy in 2055 die laaste rol toiletpapier gebruik wat jou ma in 2020 gekoop het, dink dan maar terug aan die tyd en sommer jou ma ook.
kiemkoeser – elke hoes laat jou koes – voorsorg is immers beter as nasorg.
asimptomaties – aaahhh … ek is oukei!
elmboogkug – nee, dis nie ’n ander naam vir hoes nie – dis waar jy jou mond moet hou wanneer jy hoes. Reg so?
hoesskaamte – net ingeval iemand dink jy is positief, hou jy maar liewer daai hoes binne en maak jou uit die voete – dit verduidelik natuurlik ook hoekom jou gesig so rooipers is.
handdrukverbod – persoonlik is ek baie bly oor die verbod. Wie van ons was nie al die slagoffer van een of ander oom wat dink hoe stewiger die handdruk hoe meer van ’n man is jy. Twak! ’n Mens wil nou ook nie voel jy groet ’n slap snoek nie, maar darem …
Het jy enige woorde wat jy wil deel? Jy kan WEN!
Afrikaans.com gaan oor die volgende drie weke ’n koronakompetisie hou. Elke week fokus ons op iets anders, maar week 2 is juis oor nuutskeppings / koronaverwante woorde of uitdrukkings. Het jy en jou gesin dalk jul eie woorde vir sekere situasies of voorwerpe of aksies gedurende inperking? Iets soos: Daai persoon is ’n regte covidioot, want hy steur hom nie aan die reëls nie. Of, ons eet pandemiepasta.
Ons het R15 000 om weg te gee … R5000 per week. Elke week sal drie wenners hê. Die wenner stap weg met R3 000 en die twee naaswenners met R1 500 en R500 onderskeidelik. Wenners word na afloop van die drie weke aangekondig. Hou Afrikaans.com se webtuiste en sosialemediablaaie dop vir die loodsing van die kompetisie. Jy kan dalk net wegstap met ietsie in die sak.
Bronne:
Afrikaans Vandag – Woordeboek van Eietydse Afrikaans. Klik hier vir meer oor die koronaverwante woorde wat opgeneem is.
VivA se FB-blad oor die vertaling van “lockdown”. Klik hier
Lees ook:
Vir ons leerders wat ook moet skoolwerk doen. Gaan lees gerus die volgende bloginskrywings oor woordsoorte. Woordsoorte in die tyd van korona. Klik hier
hier is ‘n paar corona verwante nuutskeppings:;
.maskerade – die vesameling van maskers op mense voor die supermark.
Virologie – om soos ‘n virus te leer dink