Sondagaand 15 Maart 2020. Voor die televisieskerm hou duisende Suid-Afrikaners hul asems op in afwagting vir president Cyril Ramaphosa se aankondiging oor COVID-19. Die skole sluit vroeg. Samekomste van meer as ’n 100 mense word onmiddellik verban. Een van die persone aan die anderkant van die televisieskerm is kunstenaar en Atterbury-teater se bestuurder, Matthys Maree. Soos soveel ander is sy brood-en-botter skielik in gedrang …
Jak de Priester is gereed om voor ‘n leë Atterbury Teater op te tree.
Sondagaand 15 Maart 2020. Matthys Maree het ’n plan … Hy sleutel die nommers op sy selfoon in en wag vir die luitoon om beantwoord te word. Amanda Strydom. Jak de Priester. Jannie Moolman. Kevin Leo. Theuns Jordaan. Ricus Nel. Ruhan du Toit. Johrné van Huyssteen. Almal skielik beskikbaar. Almal opgewonde om te kan ‘’ja’’ sê.
Saterdagaand 21 Maart 2020. Die atmosfeer in die Atterbury-teater is lig. Agt van ons land se mees gesogte kunstenaars staan om ronde tafels – tussen vingerhappies en slukkies sjampanje heers ’n opgewondenheid oor vanaand se e-konsert; ’n eerste vir Suid-Afrika.
Vir die konsert is die verhoog omgekeer sodat daardie persone wat inskakel die leë stoele kan sien.
Johrné van Huyssteen se mikrofoon staan gereed om die vertoning af te skop.
Die situasie is dalk ernstig, maar die atmosfeer by die teater bly lig.
Die kunstenaars kuier agter die verhoog heerlik saam.
Die konsert is met behulp van stroomtegnologie uitgesaai.
Saterdagaand 21 Maart 2020. Dis amper 19:00. Vir ’n oomblik hou almal hul asems op … Die gehoorsitplekke staan immers leeg. Gaan die mense inskakel? Maar dan begin die getalle klim – eers honderde en dan duisende. Ook nie net in Suid-Afrika nie … maar vanuit ’n honderd verskillende lande!
Na die sing van elke liedjie is die afwesigheid van applous opvallend … maar op sosiale media stroom die kommentare en emoji’s in – presies 3 069 boodskappe vanuit ’n aanlyn gehoor wat uiteindelik op 498 209 besoekers sou eindig. Hierdie getal maak ook van dié konsert die grootste in Afrikaanse en Suid-Afrikaanse geskiedenis en gee hoop waar dit slegs ’n paar dae vantevore beskaam het.
Wanneer ou gunstelinge soos Jak de Priester se Sally Williams Nougat en Ricus Nel se Hardekole gesing word, kan ’n mens byna hoor hoe tuisgehore saamsing. Met Jannie Moolman se Gebed en Ruhan du Toit se Val op jou Knieë is dit weer maklik om in jou verbeeldingsoog te sien hoe dit gesinne in gebed saamsnoer. Sonder enige fisiese teenwoordigheid, is daar medemenslikheid deur tegnologie en die gemeenskap geskep.
Die konsert duur 90 minute. Toe die laaste noot speel, het ’n nuwe era in musiek- en teater in Suid-Afrika aangebreek … Een wat hopelik nooit lewendige konserte ten volle sal vervang nie, maar eerder daartoe sal toevoeg. Die COVID-19-pandemie is dus nie net ’n onbekende tyd nie, maar, as ons durf om dit uit ’n ander oog te sien, ook ’n opwindende een.
Ruhan du Toit by die Optog! e-konsert
Ricus Nel by die Optog! e-konsert
Jak de Priester by die Optog! e-konsert
Matthys Maree by die Optog! e-konsert
Die OPTOG! e-konsert is Saterdagaand 21 Maart 2020 gratis vanaf Atterbury-teater in Pretoria uitgesaai. Gehore kon op die konsert inskakel deur van stroomdienste gebruik te maak. Dit is gereël deur kunstenaar en bestuurder van die teater, Matthys Maree, en was ’n reusesukses.
Die teater se volgende e-konserte is op 29 Maart, 5 April en 12 April. Besoek Atterbury Teater se webtuiste vir kaartjies.