Ek wil nie vandag ’n geskiedenisles voor jou lê, vir jou preek, of jou beter laat voel oor die lewe nie, maar eerder ’n vraag vra: Verdien ons ’n Menseregtedag?
As jy nie weet watter gebeure die eerste Menseregtedag geïnspireer het nie, gaan lees gerus oor Sharpeville in 1960 sodat ons almal op dieselfde bladsy kan wees. Die herdenking is ingestel om soos die naam dit noem, mense se regte te vier en te beskerm. Dit herinner ons ook dat ons menseregte het en dit kan eis. Die vraag is egter, watter verantwoordelikhede gaan gepaard met sekere regte?
Die wyse Nelson Mandela het gesê:
“To deny people their human rights is to challenge their very humanity. To impose on them a wretched life of hunger and deprivation is to dehumanise them.”
Maar, hoeveel het werklik verander van Sharpeville tot nou, veral as ons kyk na die optrede gedurende die huidige viruskrisis waarin ons onsself bevind … Hiermee verwys ek nie na die fisiese sterftes in die twee gevalle nie, maar eerder die blinde-oog wat gedraai word vir ander se nood. Veral daardie wat die kwesbaarste is. Alhoewel die Covid-19-pandemie ons dus opnuut bewus gemaak het van ons eie en ander se menslikheid, spreek baie se gedrag oor die afgelope weke nie van medemenslikheid nie. Dis skokkend hoe almal die rakke leeg koop en nie dink aan die mense wat van die hand tot die mond lewe of nog by die werk was toe jy lekker inkopies kon doen nie.
Dis verstaanbaar dat baie persone uit angs en onsekerheid optree … maar is daar vir ’n oomblik halt geroep om te oorweeg hoe jou gedrag diegene om jou gaan raak? Dis amper asof mense, en ek was self ook al skuldig, nie verder as hul eie konteks kan dink nie. Solank ek en my huisgesin nie siek word of sonder toiletpapier sit nie, is die pandemie minder problematies. Tog is die een ding wat ons kan leer van lande wat al swaarder onder Covid-19 deurgeloop het, dat nou juis die tyd is om besluite in die beste belang van ander te neem en om jou eie gesondheid te prioritiseer deur ander voorop te stel.
Covid-19 ontbloot dus nie net ons kwesbaarheid nie, maar ook ons selfsug. Dit laat ’n mens ’n vraag vra wat selfs buite die virus- of Menseregtedag-konteks geantwoord moet word: Kom enige reg nie eintlik saam met verantwoordelikheid nie? Verantwoordelikheid teenoor jou medemens. Verantwoordelikheid teenoor jou omgewing. Verantwoordelikheid teenoor jou nageslagte.
Die pandemie is die ideale geleentheid om hierdie vraag te beantwoord en om ander raak te sien en in ag te neem. As ’n droë kuggie in jou keel krap, bly tuis. As die regering sou besluit dat alle burgers vir eers moet self-isoleer, hou aan om jou huiswerker te betaal. As ’n kollega of vriend skielik verkies dat jy hul nie met die hand groet nie, respekteer dit.
Gebruik hierdie Menseregtedag om opnuut te besef dat menseregte slegs kan floreer wanneer ons die meervoud in die woord raaklees – mense. Sit jouself in ander se skoene en oorweeg hoe jou woorde en dade hul gaan beïnvloed vóór jy sê of doen. Moenie aanspraak maak op jou eie menseregte voor jy ander se menswees erken nie.
Kom ons klink liewer saam ’n glasie op die ongelooflike voorreg wat ons het om menseregte te kan hê en ’n dag om dit te kan vier, maar net as ons met ’n skoon gewete kan sê: Ek ontneem nie iemand anders daarvan om so daaroor te kan voel nie.
By Afrikaans.com is dit vir ons belangrik om in Afrikaans oor aktuele kwessies te praat.
Lindie van Gass is ‘n vryskutskrywer en digter. Haar opinies reflekteer nie noodwendig die van Afrikaans.com nie.