Te midde van die COVID-19-pandemie en president Cyril Rhamaphosa se besluit dat byeenkomste van meer as ’n 100 persone gestaak moet word, word sommige industrieë en individue meer geraak as ander … Onderwysers is in kennis gestel dat hul klaskamers vir eers sluit en al meer besighede stuur werknemers huis toe. Tog kan baie funksies en verrigtinge met behulp van tegnologie byna soos voorheen plaasvind.
Maar hoe gemaak as die aard van jou brood-en-botter noodsaak dat groot groepe mense in lewende lywe daarvoor moet vergader?
Hierdie is die vraag wat honderde kunstenaars skielik moet antwoord …
“Ons almal beleef saam ’n baie onseker tyd. En wat dit erger maak, is die feit dat ons aangeraai word om onsself af te sonder om die verspreiding van die siekte te vertraag.” – Laurinda Hofmeyr
Dit is onmiskenbaar dat die ekonomiese impak van die virus en die besluite wat in die lig daarvan geneem moet word, nie in totaliteit verhaalbaar is nie. Tog is kunstenaars besig om met kreatiewe alternatiewe vorendag te kom om sodoende te verseker dat die gordyn nie heeltemal sak nie …
’n Virtuele kunstefees
Vir diegene van ons wat nog die kloutjie by die oor moet kry oor hoe die tegnologie werk, klink dit dalk vergesog, maar toe nou nie! Afrikaans.com deel graag hierdie opwindende nuus.
Die Grahamstad Nasionale Kunstefees (National Arts Festival Makhanda) bied vanaf 25 Junie tot 5 Julie vanjaar ons land se eerste ten volle virtuele kunstefees aan. Volgens die bestuur kan feesliefhebbers al die produksies, films en gesprekke wat vir die fisiese program beplan is, in die gemak en veiligheid van hul eie huise geniet. Besonderhede sal volg, maar die fees gaan voort. Dit beteken ook dat kunstenaars steeds ‘n inkomste uit die geleentheid kan verdien. Hou hulle webtuiste dop vir meer inligting. Verder is daar ook sprake dat die KKNK, wat later vandeesmaand sou afskop, ‘n radio-fees gaan aanbied. Afrikaans.com sal jou op hoogte hou soos meer inligting beskikbaar gemaak word.
Kunstenaars maak ’n plan
Kunstenaars is ook besig om op individuele vlak te reageer. Musiekliefhebbers kan vanaand (19 Maart 2020) reeds inskakel wanneer sangeres en toonsetter Laurinda Hofmeyr die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar word wat ’n gratis “internet-huiskuier” aanbied. Skakel vanaand om 20:00 op haar Facebook in en luister saam.
Elvis Blue wat op Vrydag 27 Maart by die KKNK sou optree, het ook besluit om ‘n gratis vertoning op dieselfde dag deur sy Facebookblad te behartig. Hy hoop dat die tong-in-die-kies benoemde ‘’Kwarantyn Konsert’’ vir mense vreugde kan verskaf en skerts dat ‘n goeie bottel wyn daarmee saam tot ’n heerlike ‘’date night’’ kan bydra. Op ‘n soortgelyke noot, nooi Joshua na die Reën selfs aanhangers uit om hom te kontak vir klein en intieme huiskonserte.
Ander soos Schalk Bezuidenhout bied sy nuutste Afrikaanse vertoning Schalk Sing Sleg in die gemak van sy en jou sitkamer aan … Teen ’n R50.00-toegangsfooi ontvang voornemende kykers ’n skakel tot die lewendige uitsending. Op ’n video op sy Facebookblad verduidelik Schalk dat hy graag van die fooie wat betaal word, wil gebruik om personeel wat by ’n venue sou nodig wees, ook te vergoed. Hiermee raak Schalk aan ’n hartseer realiteit: dat die pandemie ook agter-die-skerms ’n uitwerking het en hulppersoneel werkloos laat omdat hierdie persone se inkomste opgeskort is totdat vertonings weer normaal hervat.
‘’ In hierdie tye van self-isolasie, onsekerheid en verlies aan inkomste wil ons met hierdie aanlyn vertonings vir mense in die veiligste omgewing moontlik, hulle eie sitkamers, vermaak. Hierdie eerste vertoning van ‘Schalk Sing Sleg’ is vir ons almal ‘n nuwe eksperiment en is miskien ons voorland as professionele kunstenaars vir die volgende paar weke.’’ Schalk Bezuidenhout
Verder het die sangeres Janie Bay aanhangers aangemoedig om haar en ander op die My Fan Park– webtuiste te ondersteun. Hierdie toepassing het ’n databasis van sterre en bekendes wat persoonlike boodskappe en gelukwensings teen ’n klein koste opneem en vir die betaler e-pos of whatsapp.
Terwyl die volgende weke dus donker mag wees, is alle hoop nie verlore nie. Volg jou gunstelingkunstenaar op sosiale media om eerste te weet van virtuele alternatiewe vir vertonings en maak seker jy ondersteun hulle … nes die Covid-19-pandemie, is dit nou meer as ooit vir ons vermaaksbedryf ’n saak van oorlewing.
#hulleHetJouNodig #afrikaansdotcomgeeom