Wat vir ’n ding is dit?
Transtaling (translanguaging) is ’n teorie, maar ook ’n praktyk en is gebaseer op hoe meertalige persone hulle taalhulpbronne aanwend vir kommunikasie en begrip en om betekenis aan konsepte te gee. Op die manier, is dit moontlik om jou denke te verwoord en oor te dra. Maar … dit is nie bloot die vertaling van een taal (brontaal) na ’n ander taal (teikentaal) nie, maar eerder ’n poging om die tale ter sprake saam aan te wend en sodoende te versterk. Met ander woorde, die leerder/student word toegelaat om sy/haar volledige taal- (linguistieke) repertoire aan te wend.
Dit beteken dikwels dat ’n kind onderrig ontvang in ’n tweede taal, maar toegelaat word om die begrippe in hul eie taal te internaliseer. Hulle word dus toegelaat om terugvoering te gee in hul moedertaal en ook om konsepte met medeleerders wat hul moedertaal deel, uit te pluis.
Leerders en studente moet daarom toegelaat word om die tale aan hulle bekend (bv. hul huistaal/moedertaal) asook die tale wat hulle besig is om aan te leer (bv. Engels / Afrikaans) saam te gebruik om uiteindelik suksesvol te leer. Op dié manier kan transtaling die oorgang van skool na universiteit fasiliteer en die verwerwing van vakinhoud deur byvoorbeeld Engels (oorwegend die taal van onderrig op tersiêre vlak) sodanig ondersteun.
Die uitdagingis egter hoe transtaling in die leerplan en in assessering geïmplementeer kan word.
Prof. Anne-Marie Beukes verduidelik die konsep en hoe dit prakties in die klas aangewend kan word om meertaligheid te bevorder.
Kortliks
Transtaling is ’n nuwe benadering in klaskameronderrig en veral in Suid-Afrika met sy 11 amptelike tale en variëteite (dialekte) ’n baie belangrike kwessie.
Veeltaligheid is ’n bate en nie ’n las nie
“Ons moet die veeltaligheid in ons land omarm. Dit is immers deel van ons land se rykdom en taalverskeidenheid.” – Prof. Anne-Marie Beukes
Suid-Afrika is ’n veeltalige land en daarom is veeltaligheid vir ons deesdae ’n normale verskynsel. Die dae toe daar net een taal in die klas gepraat is en leerders in daardie taal moes leer en terugvoering gee, is grootliks iets van die verlede. Trouens, in Suid-Afrika word daar ten minste 30 tot 35 tale op ’n daaglikse basis gebruik en is ten minste die helfte van die bevolking meer as een taal magtig.
Dit is dan ook hoekom transtaling in die klaskamer so voordelig is. Met transtaling het onderwysers nou die geleentheid om oor tale heen te praat en word meer as een taal dikwels gebruik as onderrigmedium en om inhoud oor te dra.
Hoe gebeur transtaling in die klaskamer?
Die afgelope tyd het ons bewusmaking geskep en lesers daarop gewys dat daar nie net een manier is om byvoorbeeld Afrikaans te praat nie.
“Verskillende tale in een klaskamer is nie lastig nie, maar moet beskou word as ’n hulpbron om die onderrigsituasie aan te vul en lesmateriaal te ondersteun.” – Prof. Anne-Marie Beukes
Wisseling tussen tale: Tale word deesdae nie meer ingehok nie – alles is goeie Afrikaans – of jy nou Namafrikaans, Kaaps of Standaardafrikaans praat. Daarom is dit normaal om tussen die verskillende variëteite van Afrikaans en ook Engels of dalk Xhosa en Zoeloe in die klaskamer te wissel.
Byvoorbeeld: Praat oor ’n nutsvoertuig en vra dan wat die leerders die spesifieke voertuig in hulle huistaal noem. So leer die kinders verskillende woorde aan vir dieselfde konsep.
Nog ’n voorbeeld is om in verskillende tale te groet. So sal die een kind sy pa groet en sê: “Môre, Pa.” Of sy ouma groet met “Goeiemôre, Ouma!”. Die onderwyser kan nou die Xhosa-leerder vra om vir die klas te sê hoe hy/sy in sy moedertaal groet. Op die manier word almal se taal in ag geneem en in dieselfde klas gebruik en leer die kinders so by mekaar.
Groepbesprekings: Nog ’n voorbeeld om transtaling in die klaskamer toe te pas, is om leerders die geleentheid te gee om tydens groepbesprekings in hul eie tale te praat en gedagtes uit te ruil. Dit is ’n feit dat ’n mens jouself die beste in jou moedertaal uitdruk en in hierdie groepsituasie is dit wel moontlik.
Die voordele van transtaling
- Dit gee leerders ’n stewiger greep op vakinhoud omdat daar wisseling tussen die tale plaasvind en hulle die moeiliker begrippe in hulle moedertaal kan verduidelik indien nodig.
- Dit skep ’n bewussyn van veeltaligheid en help met die aanleer van ’n tweede en selfs derde taal.
- Dit bring die tuis- en skoolomgewing bymekaar en verminder so die sprong van huis na skool sodat kinders op die ou end beter in die skool aanpas.
- Dit integreer leerders met mekaar en help met die vlotheid wanneer ’n tweede taal aangeleer word.
Wat elke onderwyser oor transtaling behoort te weet. Klik hier
Wat is transtaling? ’n Onderhoud met Ofelia Garcia. Klik hier
Transtaling vir leke. Klik hier
Kyk ook wat sê hierdie kundiges oor transtaling:
Wat is transtaling? (What is translanguaging, really?)Deur E. Chrisfield. Klik hier
Transtaling – ’n praatjie deur prof. Ofelia Garcia. Klik hier
Prof. Jim Cummins oor taalonderrigmetodes en transtaling. Klik hier
1. Die waarde van ‘n meertalige klaskamer is om ‘n verskeidenheid leerders van verskeie tale op te voed in een klas sowel as om selfs iets nuuts te leer vanaf die leerders. Voordele van ‘n meertalige klaskamer sluit in: leerders kan gemaklik antwoord en kommentaar lewer in hul moedertaal, help om ‘n tweede of selfs ‘n derde taal leer en verstaan en dit maak die aanpassing van tuis na skool makliker en minder skrikwekkend en dit help leerders om ingesluit te voel in plaas van om geïsoleer te voel.
2. Om tale te wissel is hoe transtaling gebruik kan word om verskillende variëteite van Afrikaans (Namafrikaans, Kaaps en Standaardafrikaans) aan leerders voor te stel.
3. Tydens die klas sal ‘n soort “Hangman”-speletjie op ‘n “Woord van die dag”-manier gespeel word, om een woord in ‘n ander taal te vertaal om die taal se woordeskat te verstaan.