Suid-Afrika is in rep-en-roer oor Oliver Hermanus se nuutste rolprent, Moffie, wat eersdaags in rolprentteaters begin draai … Vir sommiges is die film ’n viering van hoe ver Suid-Afrikaners reeds in terme van aanvaarding gekom het. Vir nog ander is dit ’n nostalgiese blik op die weermagdae waar jong manne in die apartheidsjare verpligte diensplig moes doen. Tog is daar ook baie Suid-Afrikaners wat teen die film gekant is en nog ander wat selfs daarvoor vrees …
Maar, waaroor gaan die rolprent eintlik?
Dis Woensdagaand (11 Maart 2020) en Afrikaans.com is by die Johannesburgse bekendstelling van Moffie by Cedar Square in Fourways. Die winkelsentrum is ’n slagoffer van beurtkrag, tog is die teatervloer en rooi tapyt lewend in opwinding en afwagting. Die skare is ’n mengelmoes van kleure, ouderdomme en opinies. Oliver Hermanus roep die gehoor bymekaar om die geleentheid amptelik te open. ‘’Die film is ’n viering van kuns en spreek ook belangrike aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan. Ek hoop dat jy die film openhartig sal kyk en dat jy die teater verryk sal verlaat.’’

Dit val ’n mens dadelik op, ook in die onderhoude wat ons vooraf gedoen het, dat bitter min van die akteurs en vervaardigers enigsins na homoseksualiteit verwys. “Ons het juis besluit om die fliek se titel soos die boek s’n te behou om die krag van die woord “moffie” af weg te neem,” vertel Shaun Chad Smit wat die rol van Van der Merwe vertolk. Kai Luke Brummer, wat die hoofrol van Nicholas van der Swart vertolk, voeg by dat die woord “moffie” nie alleenlik gebruik word om iemand van ’n spesifieke seksuele voorkeur af te kraak nie, maar elkeen wat nie aan die samelewing se standaarde van manlikheid voldoen nie. Dit is net so waar vandag soos dertig jaar gelede.
Eerder as oor seksualiteit, gaan die film dus oor identiteit – iets waarmee elke mens hulself op een of ander vlak kan vereenselwig. Binne die apartheidsmilieu ondersoek die rolprent die wit-swart skeiding, en binne die weermagsmilieu ondersoek dit die oorgang van kindwees tot volwassewording, terwyl die gevoelens wat tussen karakters Nicholas van der Swart (Kai Luke Brummer) en Dylan Stassen (Ryan de Villiers) ontwikkel, seksualiteit ondersoek. Tog word daar nie meer as ’n piksoen tussen dié twee jong soldate gedeel nie.
Elke Suid-Afrikaner wat al moes stoei met identiteit en selfwaarde sal nut uit die rolprent kan put. Voornemende kykers kan die film vanaf 13 Maart 2020 landswyd in teaters gaan ondersteun.
Waaroor gaan die fliek?
Moffie vertel die verhaal van die 18-jarige Nicholas van der Swart se dienspligjare gedurende 1981 in apartheid Suid-Afrika. Dit is die bekroonde regisseur Oliver Hermanus se vierde vollengte film en is deur Theresa Ryan van Graan en Jamie Ramsey vervaardig. Die rolprent open landswyd op 13 Maart 2020 en het ‘n ouderdomsbeperking van 18.
Shaun Chad Smit vertolk die rol van Van der Merwe.
Oliver Hermanus is die regisseur van die film, Moffie.
Kai Luke Brimmer vertolk die rol van Nicholas van der Swart.