WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – klik hier en gebruik die kompetisie-kodewoord “Exclusive”.
Tussen die blaaie van ‘n boek lê nuwe wêrelde, maklik bekombaar vanuit die gemak van jou huis, werksplek of vliegtuigsitplek. Híérdie tien boeke was die mees gewilde verkopers by Exclusive Books oor die afgelope jaar en hoort op elke Suid-Afrikaner se leeslys.
Prooi – Deon Meyer
Kapteins Griessel en Cupido wil van meet af aan nie die saak hê nie. Die een van Johnson Johnson, oud-poliesman, sy lyk gekry langs die treinspoor anderkant Drie Susters. Want die saak is weke oud. Yskoud. Opgeneuk deur die SAPD, afgedwing op die Valke. Twee passasiers op die wêreld se luuksste trein waaruit Johnson klaarblyklik gespring het, is spoke. En die arrogante beamptes by die BBP-Beskermingseenheid lieg soos tandetrekkers oor kardinale inligting. Negeduisend kilometer noord leef Daniel Darret sy nuwe, eenvoudige lewe in Bordeaux. Tot Ronnie May opdaag, en hom vra om nog een keer te jag. Sy prooi is die staatsgekaapte president van sy tuisland, want dit is wat Daniel in die ou dae gedoen het toe hy ‘n laksman vir die Stasi en KGB was. Kan die Valke die gemors betyds ontrafel om die sluipmoord te keer? Kan Daniel die meedoënlose Russiese agente ontglip wat hom tot elke prys wil elimineer? En gaan Bennie dit alles oorleef om eindelik vir Alexa Barnard te vra om te trou?
Koop die boek
Kyk na My: Herinnering aan ’n kindertyd – Nataniël
Met hierdie unieke boek vertel Nataniël die verhaal van sy kindertyd in drie klein dorpies en een groot voorstad, ‘n era waartydens reëls blindelings gevolg is en ‘n jong seun met ‘n oorweldigende vrees vir die gewone moes leef. “Kyk na my” is Nataniel se eerste volwaardige memoir.
Koop die boek
Grensgeval – Marita van der Vyver
Die bloedbevlekte brief wat Theresa tussen haar eksman Theo se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Vir jare het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring.
Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om op die Grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bitter min geweet het.
Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
Theresa besef gou die brief aan Theo toevertrou is deur ’n sterwende Kubaanse soldaat geskryf en aan sy pasgebore kind gerig – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou reeds veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te vind, om die brief te besorg, om vir Theo en ook vir háár boete te doen.
In die swoelende, afgeleefde Kuba, tussen sy kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, vervleg Theresa se lewe intiem met diegene wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.
Koop die boek
Soekmekaar – Dana Snyman
“Soekmekaar” is vyftig stories waarin Dana Snyman besin oor enigiets van fopnuus tot ’n veertigste skoolreünie. Hy vertel van sy kennismaking met Eugène Terre’Blanche en van die Bogosi-gesin van Ventersdorp wat by hom op Jacobsbaai gewoon het. Hy besoek Upington kort nadat die skilder Walter Meyer daar deur sy vrou vermoor is en probeer sin van die moord maak.
Hy vertel hoe mense oor alle grense heen na mekaar probeer uitreik in die land. Hoe ons mekaar soek en nie altyd vind nie. Ten slotte vertel hy van sy verloofde se selfdood en hoe hy daarná byna al sy besittings weggee en die pad die binneland in vat. Menslik, roerend, harsteer én snaaks, soos net Dana Snyman kan.
Koop die boek
Kammaland – Annelie Botes
Weinig mense spit diep in hulle spaargeld in, sluit hulle huis en klim vir drie maande van afsondering op ’n kanaalboot in die verre Engeland. Sonder geselskap. Sonder ervaring.
Sonder ’n bootliksens. Sonder die voorwete dat alles goed sal afloop.
Annelie en die ou gryse het besluit om die kanaalpad te vat en reg in die snerpende winter in te vaar. Om te toets wat hulle ná vier-en-veertig jaar van saamwees in mekaar oor het. Om te besin oor die roete van die allerlaaste vyftien sterkerige jare wat dálk voorlê.
Om herinneringe te vergaar vir die stil dae op die ouetehuisstoep. En om mekaar vergifnis te gee vir sovele sondes.
Min sou hulle kon voorsien dat die reis van hosannas ook ’n reis van tappende ontberings en rasperende emosies sou wees. En dat hulle meer as een maal die boot wou verlaat en hul kinders bel om hulle te kom haal. Maar tot op die een-en-neëntigste dag het hulle vasgehou aan die idille. En aan mekaar.
In “Kammaland” is die supergewilde Annelie Botes terug met ’n vertelling wat al die kenmerke dra waarvoor haar aanhangers haar koester.
Koop die boek
Dit proe soos huis – Herman Lensing
In “Dit proe soos huis” eer Herman Lensing sy ma met sy uitsonderlike talent. Hy klits haar lekkerste resepte en hul eie stories saam soos net hy kan. Hy neem ons op ‘n kosreis van sy grootwordjare in Upington waar sy passie vir kos ontvlam het, tot Hartenbos se jaarlikse kampritueel (met hope padkos) en eindig rondom sy eie Kaapse kombuistafel waar hy sy ma ‘n resepkinkel of twee kon leer.
Susan Lensing het almal gevoer wat kom kuier of net aan die deur geklop het. Meer nog, sy het vir hulle padkos vir die siel gebied. Haar leuse was: “My kind, kos is nie kwaad nie. Nooit nie. Kos vergewe en bring mense saam. As ons net aanhou kook, sal ons die wêreld een bord op ‘n slag mooier maak.” Die pragfotoboek vol onthou-resepte is ‘n kosverhaal wat dit wat is, verbind met dit wat was.
Koop die boek
Huis van Gruwels: My 16 jaar in die Springs-Hel – Susan Cilliers
Ek kniel op die voetstuk langs die bed en laat my kop sak. ’n Warm brandpyn skiet deur my hele gesig. Pa het my geskop. Bloed stroom deur my neus. Dan voel ek hoe koue water oor my hele lyf stort. Elektriese drade stuur skokke deur my, ek kan nie deur die bloed sien nie. Here, help my.
Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie die huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het.
In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.
“Huis van gruwels” is die skokverhaal van ’n pa wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin wegneem, maar ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind.
Koop die boek
1 Recce: Die nag behoort aan ons – Alexander Strachan
Recce. Een van die skerpste, veelsydigste en dodelikste spesialiseenhede in die Suid-Afrikaanse Weermag. Die manne was superfiks en bomenslik taai. Hulle het telkens hul lewe op die spel geplaas in geheime operasies. Alexander Strachan, bekroonde skrywer en self ‘n gewese Recce, vertel die verhaal van 1 Recce se ontstaan, geskiedenis en rol in die bosoorlog. Na jare van mites en geheimhouding gee die boek ‘n binneblik op die Recces en die werk wat hulle onsigbaar agter die skerms gedoen het.
Koop die boek
Robey Leibbrandt: ‘n Lewe van fanatisme – Albert Jonathan Blake
’n Epiese reis op ’n klein seiljag van Frankryk tot aan die Namakwalandse kus gedurende die Tweede Wêreldoorlog, sabotasiepogings en planne om Eerste Minister Jan Smuts in ’n sluipmoord om die lewe te bring . . . In die vroeë 1940’s is die Suid-Afrikaanse publiek aangegryp deur die uitdagende optrede van die Olimpiese bokser en swaargewigkampioen Robey Leibbrandt. Hy was dodelik gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog.
Sy ekstremisme, opvlieëndheid en onverdraagsaamheid was tipies van ’n politieke fanatikus. Leibbrandt het ’n aanhanger van Nasionaal-Sosialisme geword toe hy in 1936 vir Suid-Afrika in Berlyn aan die Olimpiese Spele gaan deelneem het. Hy was besig met opleiding in Europa toe die oorlog uitbreek. Die Duitse militêre intelligensiediens het hom kort daarna gewerf om sabotasieopleiding te ontvang. Die Duitsers het Leibbrandt teruggestuur na Suid-Afrika as deel van Operasie Weissdorn. Sy missie? Om die militante deel van die Afrikaner-opposisie te werf en met hulle hulp skeeps- en haweinstallasies, asook nywerhede, te vernietig, en om oproer in die Uniemagte te stook.
Dit was nie lank nie of die polisie was op Leibbrandt se spoor en is hy in een van die grootste polisiesoektogte nog in hegtenis geneem. Sy hoogverraadsaak in 1943 en 1944 het hoofopskrifte gehaal. Die biografie werp nuwe lig op hierdie enigmatiese historiese figuur en wat sy fanatisme aangevuur het.
Koop die boek
Christo Wiese: Risiko en rykdom – T.J. Strydom
Christo Wiese was nog nooit bang om ’n kans te vat nie. Die sakeman het sy tande by Pep Stores geslyp en ‘n sakeryk opgebou wat Shoprite en ‘n rits ander maatskappye insluit. Hy maak ‘n draai in die politiek en met sy kenmerkende flair koop hy diamantmyne, banke en wynplase. Die risiko’s wat hy oor 50 jaar in die sakewêreld neem, maak van hom die rykste man in die land. Tot die kans wat hy op die meubelgroep Steinhoff waag, skeefloop en hom vinnig terugbring aarde toe. Binne ‘n paar dae verloor die boorling van Upington ‘n groter fortuin as wat almal behalwe die wêreld se vindingrykstes kan hoop om in ‘n leeftyd op te bou. “Christo Wiese: Risiko en rykdom” is ‘n ongemagtigde biografie oor een van Suid-Afrika se bekendste sakemanne.
Koop die boek