Skaars is ’n mens se nuwejaarsvoornemens gemaak, dan is dit reeds Maart … die Valentynsjokolades is vervang met paaseiers en, dalk vroeër as gewoonlik, byt die eerste winterkoue in die lug. Waarmee is Afrikaans dié maand besig? Van musiek tot selfverryking … hiermee ons gunsteling- doene-en-dinge vir die volgende dertig dae.
Feeste
Die feesjaar skop af met die Toyota US Woordfees wat tussen 6 en 15 Maart in Stellenbosch aangebied word. Ou bekendes en nuwe talent begin die feesseisoen op ’n hoogtepunt met ’n propvol program vol teater-, boek-, foto- en filmvermaak. Kort daarna skud Oudtshoorn sy grootvoëlvere reg vir die grootste geleentheid in die Klein Karoo … wat dan anders as die KKNK. Besigtig die program hier en kom baljaar saam tussen 23 en 29 Maart.
Films
Poegaai feesgevier is dit tyd vir ‘n lekker fliek … pak ’n piekniekmandjie en kombers vir Varslugflieks se buitelug-bioskoop by die botaniese tuine in Pretoria op 6 Maart. Teen slegs R60 per persoon, is dit sakpas en ideaal vir die hele gesin. Maak dan landswyd op 13 Maart ’n draai in rolprentteaters wanneer Moffie sy lang verwagte opwagting maak – Oliver Hermanus se nuutste film is wêreldwyd met lof ontvang en beloof om voortreflik te wees. Hou Afrikaans.com dop vir eksklusiewe inhoud oor die amptelike bekendstelling.
Musiek
Met Spoegwolf, Melktertkommissie en die Heuwels Fantasties, is die Good Life Festival in Irene, Centurion nie net goed nie, maar geniaal! Maak ’n knoop in jou oor en ’n nota in jou dagboek om op 21 Maart saam te kom sing. Ons hou by die buitelugtema op 13 en 27 Maart wanneer die Breytenbach-sentrum in Wellington vir Bram Potgieter en Marti Nel-Hauptfleish by hulle Gin&Jazz–geleentheid verwelkom. En, uiteindelik, sien ons baie uit na Schalk Bezuidenhout en Wesley van der Westhuizen se musiekmoles in Schalk Sing Sleg wat landswyd toer, maar tussen 17 en 19 Maart sy opwagting in Durbanville maak. Schalk het baie talente … maar is sing een van hulle? Gaan vind uit!
Leer- en selfverryking
ATKV se Inkstories draai vandeesmaand by Exclusive Books in Sandton … Dié keer om met die toneelgeselskap van die SAFTA-bekroonde komediereeks Hotel te gesels. Ingang is gratis en ligte hapgoed word bedien – RSVP by mandiee@atkv.org.za.
Dit dan ons kieslys vir Maart … wat gebeur in April? Vertel ons van jou geleenthede by myafrikaans@afrikaans.com.