Die video, Die Heelal (met Early B), bereik 100 000 klieks op Youtube en haar liedjies is reeds meer as ‘n miljoen keer op digitale platforms gestroom.
Die sangeres Janie Bay het in Oktober verlede haar nuutste enkelsnit Die Heelal, in samewerking met die bekende Afrikaanse rapper Early B, bekend gestel. ‘n Video van hierdie gewilde liedjie wat op verskeie radio-trefferlyste verskyn, is alreeds meer as 100 000 keer op Youtube gekyk.
Haar eerste Afrikaanse enkelsnit Amper Daar, wat vroeër verlede jaar uitgereik is, het volgens RadioMonitor.com gesamentlik met Die Heelal meer as 2 000 keer op Suid-Afrikaanse radiostasies gespeel. Beide liedjies het op verskeie trefferlyste verskyn: Amper Daar was no 1 op Maroela Media en Grootfm en Die Heelal het die nommer 1-posisie op Bok Radio se Top 20 gehaal.
Janie sê dat sy opgewonde en dankbaar voel dat mense by haar musiek aanklank vind: “Dit is vir my lekker om heeltemal myself te kan te wees as `n kunstenaar en te sien hoe my loopbaan en musiek tot dusver gegroei het.”
Janie is tans besig om te werk aan `n derde enkelsnit en `n album wat oor `n paar maande uitgereik word. “Ek skryf tans saam met Hunter Kennedy aan liedjies vir die album. Die gevoel van die songs is nogal persoonlik. Daar was `n tyd verlede jaar waarin ek en my kêrel, Deon, mekaar min gesien het. Dit was moeilik en ek was soms eensaam. Maar is dit nie cool hoe sulke tye ‘n mens `n bietjie oor die lewe laat dink nie – en gevolglik vir my was dit die skep van nuwe liedjies. Ek sien uit om die nuwe album te deel. Ons is almal eintlik baie dieselfde as dit by emosies kom, en ek hoop dat die nuwe musiek vir mense iets sal beteken. Hou my sosiale media dop, ons kondig binnekort die uitreikdatums aan.”
Volg Janie Bay hier: