Dit is weer daardie tyd van die jaar… In elke winkelsentrum pryk Kersversierings en speel ‘Little Drummer Boy’ oor die luidsprekers. Wanneer jy die som in jou kop maak, kom jy met ‘n skok agter: Daar is minder as 40 dae voor Kersdag oor! Vir die georganiseerdes onder ons is hierdie nie ’n skok of verrassing nie (hulle het al in Junie hulle vrugtekoek gebak, en koop deur die loop van die jaar gepaste en unieke geskenke vir almal), maar vir die meeste van ons begin die groot geskarrel nou. “Kan ek weer vir ouma net handeroom en seep gee?” “My man moet maar tevrede wees met die bottel wyn.” “Ek is seker my suster het gesê sy kort nuwe vadoeke.” Om te verseker dat jy nie in een van dié Kersgeskenk-slaggate trap nie, het Afrikaans.com namens jou ondersoek gaan instel oor watter Afrikaanse Kersgeskenke jy die Kersfees in jou geliefdes se kerskouse kan sit.
Borg ’n woord
As jou geliefde ’n liefde vir woorde het, is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se “Borg ’n woord” die ideale geskenk! Dalk het hulle ’n gunstelingwoord of sêding? Of dalk is daar ’n spesiale woord wat jou aan die persoon laat dink. (Vanjaar borg ek ‘koeksister’ vir my ouma. ’n Dosyn van haar koeksisters het meer as R1000 by die kerk se basaar in Oktober gehaal.)
Vir slegs R100 kan jy enige woord van jou keuse borg, of jy kan sommer die hele woord koop vir R5000.
Wat jy kry:
- ’n Sertifikaat met jou naam en die woord.
- Gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg en vyf jaar as jy die woord koop.
- Een gelukkige deelnemer kan ook R25 000 wen in ’n prystrekking geborg deur Sanlam (hoe meer woorde jy borg, hoe groter is jou kans om te wen).
Dra Afrikaans!
Afrikaanssprekendes is alombekend vir ons sin vir humor en die vermoë om vir onsself te lag. Iets waarop Afrikaanse klerevervaardigers baie goed kapitaliseer! ’n Paar jaar gelede was die enigste plekke waar jy Afrikaanse klere kon aanskaf by kunstefeeste, maar deesdae is jou volgende gunstelingkledingstuk slegs ’n paar drukke van jou muis weg. Daar is hope aanlyn winkels waar jy enige iets van ’n Afrikaanse T-hemp tot Afrikaanse onderbroeke (ja, jy het reg gelees) kan aanskaf.
Nog ’n eg Afrikaanse geskenk wat jou geliefde kan dra, is vellies! Meer Afrikaans as ’n paar leervellies gaan jy nêrens kry nie! Probeer die volgende webtuistes:

Valhalla se Leef Legendaries T-hemde. Valhalla se slagspreuk, Leef legendaries, is genoeg rede om dadelik hulle webtuiste te besoek!

De Afrikander handelshuis. De Afrikander handelshuis het ’n hele reeks hemde, vellies en ander bykomstighede vir mans en vrouens beskikbaar.

Ek dra my taal. EDMT (Ek dra my taal) verkoop nie net Afrikaanse T-hemde nie. Hier kry jy ook hemde met slagspreuke in al 11 van Suid-Afrika se amptelike tale.

Kakiebos is veral bekend vir hulle pragtige T-hemde vir dames.

Kaboo Design se Bakgat Oupa T-hemp sal enige oupa sommer jare jonger laat lyk en voel!

Kathu Vellies. Met ’n paar Kathu Vellies aan jou voete kan jy verseker wees dat daar avontuur op jou wag.

Veldskoen. Veldskoen Vellies se slagspreuk maak jou sommer lus om jou voete nou dadelik in ’n paar vellies te kry!

Liefde Wen wat deur Bouwer Bosch begin is, verander die wêreld met hul ideale, boodskappe en produkte.

Vannie Kaap – ’n webtuiste en -winkel wat Kaapse Afrikaans praat, die taal en kultuur vier en op ’n humoristiese manier hierdie Afrikaanse identiteit verken

Skoonma Clothing is ’n Suid-Afrikaanse aanlyn winkel wat in 2017 deur aktrise Leandie du Randt begin is. Hier kan jy vintagestyl-items koop.

Van Coke’s is Francois van Coke se aanlyn winkel waar jy van T-hemde tot horlosies kan koop.
As jy jou geskenk selfs meer wil verpersoonlik kan jy altyd self ’n T-hemp laat druk. Moderne tegnologie het dit maklik gemaak om kreatief te wees. Druk die persoon se gunsteling- Afrikaanse lirieke, reël uit ’n gedig of slagspreuk op ’n hemp. Dit wys nie net jy ken die persoon goed nie, maar ook dat jy graag moeite vir hulle doen.
Leef Afrikaans!
Deesdae hoef jy nie meer net tevrede te wees met Engelse huisraad nie. Beddegoed, koffiebekers, tafeldoeke, servette, strooikussings, breekgoed… Noem dit en jy kry dit in Afrikaans. Drentel bietjie deur bekende kettingwinkels en jy sal verbaas wees oor die hoeveelheid Afrikaanse huisware wat beskikbaar is. Daar is egter ’n magdom aanlyn winkels waar jy ook kan rondsnuffel. Baie van hierdie aanlyn platforms het ook die opsie beskikbaar waar jy jou idee kan verpersoonlik (jy kan byvoorbeeld self kies wat jy op die snybord of skinkbord wil laat graveer). Probeer gerus:

Streepsak. Die Suid-Afrikaanse erfenis dien as inspirasie vir hul ontwerpe.

AfriVriendelik – AfriForum se aanlyn platform vir alle Afrikaanse besighede.

Die Koöperasie – Maroela Media se e-winkel.
Onthou ook om jou plaaslike boere- of kersmarkte te besoek. Nie net ondersteun jy só plaaslike kunstenaars en kunsvlyters nie, jy mag dalk op iets afkom wat jy nêrens anders gaan kry nie! Kyk uit vir: Gehekelde speelgoed en komberse, lappieskomberse, juwele, kunswerke en fotorame. As jy weet jou geliefde het een of ander versameling (my ma versamel antieke melkbekertjies en my skoonma vetplante) is hierdie die perfekte plek om daarvoor te snuffel.
Luister en kyk Afrikaans
Nee, jy hoef nie meer CD’s of DVD’s te koop wat net lê en stof vergaar nie! Een van 2019 se gewildste Kersgeskenkidees is ’n subskripsie vir Showmax! Met Showmax kan enige iemand, op enige plek in die wêreld, toegang hê tot die Afrikaanse reekse en films sonder dat hulle die volledige DStv-pakket hoef te betaal.
Vind hier meer uit oor hoe Showmax werk.
Ander goeie Kersgeskenkidees is ’n iTunes- of Spotify-subskripsie – dit gee jou geliefde toegang tot alle nuwe musiekvrystellings en ook ou gunstelinge. Jy kan hier meer uitvind oor iTunes en Spotify.
Jy kan ook kaartjies na ’n musiekkonsert oorweeg as Kersgeskenk. So ondersteun jy nie net Afrikaanse kunstenaars nie, jy skep ook ’n herinnering saam met jou geliefde wat nooit gaan opraak of breek nie.
Vir die lekkerbekke
Kosgeskenke is altyd gewild. Bonuspunte as jy dit self gemaak het! Min dinge in die lewe ewenaar die eenvoudige genot van ’n snytjie varsgebakte brood met tuisgemaakte konfyt lekker dik daarop gesmeer. Hoekom trek jy nie jou voorskoot aan en bak of kook vanjaar jou geskenke nie? Tuisgemaakte konfyt, soetkoekies, sjokolade, fudge of beskuit kan alles ingespan word as Kersgeskenke!
As jy nie ’n wafferse kok of bakker is nie, snuffel rond by die kerkbasaar of jou plaaslike markies. Daar is altyd stalletjies wat konfyt, ingelegde vrugte en groente of spesiale souse – net soos ouma dit gemaak het – verkoop.

En vir die groot braaier of aspirant-Jamie in die gesin, kyk hier vir ’n verskeidenheid sout-, spesery- en kruie-geurmiddels uit “Funky ouma” se aanlyn kombuis.
Lees Afrikaans!
As jou familie sulke ywerige lesers soos myne is, maak dit Kersgeskenke maklik! Ek kan vir enige van my familielede ’n boek koop en hulle sal verheug wees. 2019 stel ook nie teleur wanneer dit by nuwe vrystellings kom nie. Hier is ‘n paar opsies wat jy kan oorweeg.
Fiksie
- Die dao van Daan van der Walt – Lodewyk G. Du Plessis
- Koms van die Motman – Chris Karsten
- Sirkus – Irma Venter
- Misverstand – Marita van der Vyver
- Die vrou in die blou mantel – Deon Meyer
Niefiksie
- Lugkasteel – Annelie Botes
- Op pad – Dana Snyman
- Hoe verklaar jy dit? Saamgestel deur Danny Fourie
- Hykie Berg: My storie van hoop – Hykie Berg en Marissa Coetzee
- Ingrid Jonker – ‘n Biografie – Petrovna Metelerkamp
Kookboeke
- Help daar’s ‘n stoof in my kombuis – Anabel Frere
- Weber se Braaibybel – Jamie Purviance
- Pretkos – Samantha Scarborough
- Shisanyama – Braairesepte van Suid-Afrika– Jan Braai
- Die klassieke Suid-Afrikaanse kookboek – Melinda Roodt.
Jy kan ook op Takealot boeke bestel, maak gerus gebruik van hulle Swart Vrydag-besparings op Vrydag 22 November om spotgoedkoop Kersgeskenke aan te koop.
Kyk gerus ook by Loot.co.za se aanlyn winkel. Klik hier vir ’n lys van hulle Afrikaanse boeke. Jy kan ook direk by die onderskeie uitgewers in Suid-Afrika boeke aankoop.
Nie net boeke nie
Nog ’n leesgeskenk wat groot aanklank by jou geliefde mag vind, is ’n subskripsie vir Netwerk24. Daar is verskeie opsies.
- Slegs digitaal. Hierdie opsie gee die intekenaar toegang tot 31 plaaslike koerante in digitale formaat (o.a. Rapport, Beeld en Volksblad) en ook onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte in digitale formaat (o.a. Huisgenoot, Sarie, Weg!, Landbouweekblad en Tuis.) Die slegs digitale opsie is beskikbaar teen R99 per maand.
- Digitaal plus. Hierdie opsie bied jou alles wat die digitale opsie jou bied. Jy kry ook die Beeld, Die Burger of die Volksblad op ’n Saterdag en die Rapport op ’n Sondag by jou huis afgelewer. Gespesialiseerde pakkette is ook beskikbaar, waar jy enige van Media24 se tydskrifte ook by die pakket kan insluit vir aflewering. Hierdie pakket begin op R99 per maand.
Jy kan hier meer uitvind oor ’n Netwerk24-pakket.
Burton Hills het by geleentheid gesê: “Die grootste geskenk wat jy ooit onder jou Kersboom gaan hê, is die samesyn van ’n gelukkige familie wat almal omgee vir mekaar.” Neem hierdie aanhaling ter harte en geniet die fees- en familietyd en wees dankbaar vir al die liefde en genade in jou lewe. Om ’n Kersgeskenk te gee en te ontvang is net ’n bonus!
Stuur jou feesgroete in Afrikaans!
Dit is amper feestyd en dit is tyd om jou hartswoorde neer te pen op papier en vir jou geliefdes met goeie wense te seën. Doen dit in Afrikaans en deel dit op sosiale media! Op hierdie manier maak jy jou bydrae om Afrikaans te laat lééf in die kuberruim en so kry JOU Afrikaanse woorde vlerke.
