Bianca Flanders se boek wat dogtertjies leer om hulself lief te hê!

Bianca Flanders is ʼn pragtige aktrise wat haar welige bos krulhare met trots hul eie gang laat gaan. Dis ʼn besluit wat sy reeds in haar tienerjare op skool geneem het. Van kleins af is sy baie geterg oor haar krulkop wat net nie ingepas het in ʼn sekere deel van die gemeenskap se siening dat hare sonder ʼn kinkel beter is as die wat woes krul nie. Sy het altyd gewens dat haar hare anders gelyk het, tot op ʼn dag!
Wanneer jy nie inpas nie
“Ek was in graad 9 toe ek een oggend besluit het om die krul in my hare te los en so skool toe te gaan. Ek was geweldig senuagtig, dit was regtig ʼn big deal vir my. Vandag besef ek dat dit nie so moet wees nie. Dit is immers net jou hare.
Ongelukkig maak die skoolstelsel in Suid-Afrika steeds nie voorsiening vir meisies met natuurlike krulhare nie. ʼn Natuurlike krulkop wat toegelaat word om hulle eie gang te gaan, pas nie in die skoolreëls nie en dit is ʼn jammerte,” sê Bianca. Van daar af het sy net eenvoudig besluit om nooit weer haar hare onnatuurlik reguit te maak nie.
Toe word haar storie ‘n boek
Bianca vertel dat sy van kleins af ʼn groot leser was, en het altyd nog daarvan gedroom om ook eendag ʼn boek te skryf. In ʼn tydperk toe sy as vryskutakteur ʼn bietjie tyd vir haarself gehad het, het sy gaan sit en die storie wat meteens in haar kop gekom het, neergeskryf. Dit was die geboorte van Prinses Pampoenpit.
“Toe ek eers gaan sit en skryf, het die storie net gevloei. Dit mag dalk esoteries klink, maar dit het gevoel asof Prinses Pampoenpit se storie nie van my af kom nie. Dit is asof God vir my gesê het om hierdie boodskap die wêreld in te stuur. Ek is dus gekies as die instrument om die belangrike boodskap, in die vorm van ʼn kinderverhaal, te deel,” sê sy.
Prinses Pampoenpit, wat in heerlike rymformaat geskryf is, vertel die verhaal van Pampoenpit, ʼn dogtertjie wat net nie van haar wilde, woeste krulhare hou nie. Op ʼn dag maak sy dan die wonderlike ontdekking dit is juis die manier waarop jy van ander verskil, wat jou uniek en besonders maak – ʼn bevrydende ontdekking. Bianca, wat mal is oor die skryfwerk van Roald Dahl en die manier waarop hy rym in sy verhale inspan, het ook die Engelse weergawe, Pumpkin Pie has a secret, in rymvorm geskryf. Dit is deur Jaco Jacobs in heerlike loslit Afrikaans vertaal.
Die moeite wat ons het om onsself lief te hê …

“Vroue het nogal ʼn stryd in die lewe omdat ons almal soveel werk moet doen om onsself lief te hê van ʼn baie jong ouderdom af. Ek dink dit verg veels te veel van ons breinspasie, hierdie bekommernis om met al ons figuurfoute, gewig, hare en al die dinge vrede te maak. Ek wou graag vir dogtertjies die boodskap gee dat indien hulle al hierdie nonsens kan los, en vir hulself kan lief raak net soos wat hulle is, bly daar soveel meer spasie in hulle brein oor om president te word, of ʼn groot organisasie te bestuur. Die minste waaroor enige vrou haarself moet bekommer, is hoe haar hare lyk!” sê Bianca.
Bianca het verlede jaar die geleentheid gekry om in die musikale produksie, Krotoa: Eva van die Kaap, die rol van Krotoa te vertolk. Hierdie Suid-Afrikaanse en Nederlandse musiekproduksie is in Kaapstad en verskeie stede in Nederland opgevoer. Vir Bianca was dit ʼn groot uitdaging omdat Afrikaans haar tweede taal is en sy moes hard werk om Krotoa oortuigend Afrikaans te laat praat. Sy het ook Nama saam met ʼn linguis geleer en die tongklappe en -klikke op haar foon opgeneem sodat sy oor en oor daarna kon luister om dit presies reg te kry.
Met haar terugkoms na Suid-Afrika het sy en haar verloofde, Dean Balie, en twee ander akteurs, Iman Isaacs en Carlo Daniels, ʼn poppekasvertoning na ʼn paar plekke in Namakwaland geneem om die storie van ʼn ou Khoi-mite van die god !Kagan te vertel. Die kinders was mal daaroor, sê sy, en hierdie ervaring het haar weereens laat besef watter helende krag daar in teater lê.
‘n Storie wat elke dogtertjie moet hoor
Tans verskyn die storie van Prinses Pampoenpit net in Afrikaans en Engels, maar sy droom daarvan dat dit uiteindelik in al elf amptelike tale vertaal sal word. Hierdie is ʼn storie wat elke dogtertjie moet hoor, meen sy, en die ideaal sal wees indien elkeen dit in hul moedertaal kan lees. Bianca is ook ʼn gekwalifiseerde onderwyseres wat Drama en Engels onderrig het. Die belangrikheid van moedertaalonderrig in die grondslagfase is vir haar ononderhandelbaar en sy hoop dat die skoolstelsel toenemend daarvoor voorsiening sal maak. Anders faal ons ons kinders, sê sy.
Vir Bianca is dit ʼn wonderlike gedagte dat Prinses Pampoenpit nou vanaf die begin van November op die winkelrakke is. Sy sê toe sy vir die eerste keer Jaco Jacobs se Afrikaanse vertaling van haar teks gelees het, was sy mateloos beïndruk. Hy het ʼn uitstekende taak verrig. Sy is net so dol op Zindelda McDonald se illustrasies wat werklik van hierdie boek iets besonders maak. Dit, en natuurlik die baie belangrike boodskap wat tussen die blaaie van die storie verpak lê.
“As akteur is ʼn mens maar ʼn storieverteller, jy gebruik net ʼn ander medium om jou stories mee te vertel. Ek is besonder dankbaar dat ek wel ook die kans gekry het om as skrywer ʼn storie te kan vertel. Ek dink daar wag nog vele avonture op Prinses Pampoenpit.
“Ek sal ook baie graag ʼn storie vir kinders tussen 10 en 12 wil skryf. Die sogenaamde tweens. Daar is beslis ʼn groot leemte in die Suid-Afrikaanse boekemark vir kinders van daardie ongemaklike ouderdom. Hulle is eintlik op so ʼn heerlike tydstip in hulle lewe, al dink hulle nie so nie. Nóg kind, nóg tiener en daarom sal dit nogal ʼn uitdaging wees om iets te kan skryf wat hulle fassineer.
“My wens vir Prinses Pampoenpit is dat daar soveel as moontlik kopieë moet verkoop. My doel met die boek was om ʼn ongemaklike onderwerp op ʼn gemaklike en prettige manier te deel. Ek dink Pampoenpit is pretty cool en ek hoop sy sal my kan help om by dogtertjies die uitkyk te vestig dat krulhare mooi is en dat jy dit op geen manier hoef weg te steek nie. Mag my boek die boodskap wyd versprei: wees lief vir jouself!”
Prinses Pampoenpit Bianca Flanders
ISBN: 9780799395808