Nuut op die rak: Kinderboeke wat verdraagsaamheid help ontwikkel
“Liefde en respek is die belangrikste lesse wat ons vir die land se kinders met ons boeke wil leer.” – Die skrywers Trish Goosen & Shemone Bokhary
Boek een van ’n nuwe opvoedkundige kinderboekreeks wat kinders veral oor diversiteit wil leer, is eersdaags op die rakke. Kinders tussen 3 en 5 en veral graad R-leerders sal die boek geniet. Zoey en die Superslimhelpers word aanvanklik in Afrikaans gedruk, maar daar sal mettertyd ook ’n Engelse en woordlose weergawe van die boek beskikbaar wees.
Woordlose boeke is veral belangrik vir vroeëkinderontwikkeling, want dit vereis dat kinders betrokke raak en dink oor die verhaal wat die illustrasies oordra. So word storievertelling, geletterdheid en begripsvaardighede bevorder.
Meer oor die reeks
Met ons boekreeks wil ons empatie en aanvaarding by kleuters op ’n jong ouderdom aanwakker … hulle leer dat elkeen uniek geskape is en waardig van liefde is.” – Trish Goosen, skrywer en illustreerder
Zoey, die hoofkarakter, is ’n nuuskierige dogtertjie wat graag nuwe dinge leer. Sy moedig haar vriende Piet en Lebo aan om nuuskieriger te wees, want “nuuskierigheid maak kinders slim”.
Die karakters is gebaseer op superhelde en daarom baie gewild by jong kinders. Zoey, Lebo en Piet woon aan die Weskus en hul karakters is gebaseer op gewone kinders van verskillende sosio-ekonomiese omstandighede. Die boeke is daarop gemik om geslagsgelykheid en inklusiwiteit te bevorder. Daarom verteenwoordig die karakters verskillende rasse en ook mense wat met gestremdhede leef. Benewens die feit dat die Zoey-boeke ’n liefde vir lees by kleuters en kinders wil aanmoedig, is emosionele ontwikkeling een van die hoofdoelwitte. Ouderdomsgepaste lewenslesse word in die verhale ingebou.
Wie is die Superslimhelpers?
Die Superslimhelpers wil kinders aanmoedig om probleme met spanwerk en breinkrag op te los en om liefde vir, verdraagsaamheid teenoor en empatie met ander mense te hê.
Piet se mamma het superheld-mantels en -maskers vir die drie vriende gemaak. Wanneer daar ’n probleem opduik of iemand in die moeilikheid is, trek die drie hul kostuums aan en word hulle die Superslimhelpers. ’n Ware superheld is nie iemand wat kan vlieg of supermagte het nie, dit is die persoon wat omgee en sy of haar deel doen om van die wêreld ’n beter plek te maak.
Meer oor die skrywers
Shemone Bokhary is ’n ma en vroeëkinderontwikkelingspesialis by die ArcelorMittal-wetenskapsentrum op Vredenburg. Sy is besonder passievol oor die bevordering van vroeëkinderontwikkeling en die verbetering van die kwaliteit van onderwys wat kleuters in hulpbehoewende sowel as hoërinkomstegemeenskappe ontvang. Trish Goosen is ma en ’n nasionaalbekroonde joernalis by Media24 se Weslander-gemeenskapkoerant op Vredenburg. Sy is ook ’n gepubliseerde fiksiekskrywer. Die swaarkry waaraan kinders blootgestel word, breek haar hart. Daarom wil sy meer doen as net skryf oor wat verkeerd is – sy wil deel word van die oplossing.