Hawston word met ‘n pragtige muurkuns en teateruitreik betower!
Vir die gemeenskap van die vissersdorp Hawston en veral die leerders van die Overstrand-omgewing sal hierdie Afrikaanse muur vir altyd ‘n herinnering bly van ‘n betowerende Kunstekaapvertoning en die boodskap van Afrikaans.com dat hulle groot kan droom en tot enigiets in staat is.
“Hier in Hawston eet, praat en dans ons in Afrikaans. Leerders kom van ver om hier skool te gaan en in Afrikaans onderrig te word”, sê die hoof van Hawston Primêr, mnr. Julius Swart.
“Te midde van ons uitdagings is ons ‘n hegte gemeenskap en die skool is ‘n sentrale plek van hoop en toevlug vir ons gemeenskap en veral ons kinders. Hier is elke leerder belangrik. Hulle presteer pragtig in eisteddfods en gaan op toere. Ons werk hard om geleenthede vir hulle te skep.”
Kyk hier …
Vir Afrikaans.com was hierdie muurkuns in Hawston ‘n unieke een. Die besondere vennootskap met die Kunstekaapteater en die APD-Overstrand (Assosiasie vir persone met gestremdheid) het hierdie laaste muurkuns van 2019 ‘n absolute hoogtepunt gemaak. Die APD-Overstrand was direk betrokke by die voorbereiding van die muur en die Kunstekaapteater saam met hulle verhoogspan en kunstenaars het vir meer as 3 000 leerders die geleentheid geskep om die teater in sy volle glorie te beleef. Die uitreik het afgesluit met ‘n Gala-aand wat die hele Hawston- en Overstrand-gemeenskap kon bywoon. Deur hierdie landelike uitreik inspireer die Kunstekaapteater gemeenskappe om die waarde van die kreatiewe kunste te beleef, om kinders se drome te help verwesenlik, en om deur die kreatiewe kunste sosiale samehorigheid te bevorder.
Afrikaans.com se muurskildery sal die gemeenskap van Hawston altyd daaraan herinner hoe taal, saam met die kreatiewe kunste, nie net ‘n voertuig is om gemeenskappe te bind nie, maar ook die boustene vorm om groot drome te vervul.

Die leerders van Hawston Primêr aanskou die transformasie van hul skoolmuur. Die Afrikaans.com-kunstenaars is hard aan die werk. Links na regs: Mnr. Julius Swart (skoolhoof), René Arendse (Afrikaans.com), dr. Marlene le Roux (Kunstekaap), Jason Silas (APD-Overstrand), en regs voor Julius Booysen (APD). Die samewerking van rolspelers: Kunstekaapspan, APD-Overstrand en Afrikaans.com. René Arendse van Afrikaans.com saam met die hoofdogter van Hawston Primêr, Sikelela Betana. Dr. Marlene le Roux (uitvoerende hoof van Kunstekaap) saam met Milanie Vosloo (projekbestuurder van Afrikaans.com). Milanie Vosloo (Afrikaans.com), Craig Lucas (The Voice SA-wenner) en René Arendse (Afrikaans.com) saam met ‘n groep leerders van Hawston Primêr. Die pragtige muurkuns pronk mooi by Hawston Primêre Skool.