Dis mos maklik! Jy slaan eenvoudig die woord waarna jy soek na en gebruik hom dan so. Nee, toe nie. Gerhard van Huyssteen van VivA skryf in ’n blog dat die “wêreld daarby kan baat as meer mense net ’n bietjie woordnavorsing doen oor wat hulle eintlik besig is om te sê”. Een manier om “woordnavorsing” te doen, is natuurlik om ’n goeie woordeboek te raadpleeg. Daarom is woordeboekonderrig op skoolvlak so belangrik.
Vestig ’n kultuur van woordeboekgebruik
Michele F van der Merwe van die Fakulteit van Onderwys en Sosiale Wetenskappe, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Wellington-kampus skryf in ’n verhandeling oor die opvoedkundige waarde van woordeboeke en gee dan voorstelle vir woordeboekonderrig in Suid-Afrika.
Van der Merwe gee praktiese voorbeelde van toepaslike woordeboeke vir gebruik in die klaskamer met die verwagting dat opvoeders en ouers bewus moet word van die voordele van woordeboekgebruik vir leerders en hulle moet aanmoedig om woordeboeke te gebruik om sodoende ’n kultuur van woordeboekgebruik in Suid-Afrika te vestig.
Sy wys ook daarop dat baie leerders nie weet dat daar verskeie soorte woordeboeke met spesifieke eienskappe beskikbaar is nie en daarom enige soort woordeboek sal gebruik om ’n vraag te beantwoord.
Voordele van woordeboekonderrig
“Die doel van woordeboekonderrig is om leerders te leer om hulle woordeboeke op ‘n gereelde grondslag te gebruik, asook vir die res van hulle lewens, om hulle sodoende vir lewenslange leer te bemagtig. Op so ‘n wyse kan ‘n woordeboekkultuur in Suid-Afrika gevestig word.” – Michele F van der Merwe
Kyk hier na die voordele van woordeboekgebruik:
- ’n Woordeboek is een van die hulpmiddels om leerders te help om hulself ten opsigte van praat, lees, skryf en luister te help. Trouens, leerders wat weet hoe om woordeboeke te gebruik, presteer beter in taalverwante take as diegene wat nie weet hoe om woordeboeke te gebruik nie. Daarom behoort opvoeders ’n positiewe houding teenoor die gebruik van woordeboeke te kweek en leerders aan te moedig om woordeboeke te raadpleeg.
- Om ’n woordeboek te gebruik, is naslaanvaardighede nodig en omdat ’n woordeboek ’n naslaanwerk is, kan die naslaanvaardigheid aangeleer en ingeskerp word.
- Woordeboeke is waardevolle hulpmiddels in taalonderrig. Leerders kan hul taalvaardighede verbeter deur woordeboeke te ken en te gebruik.
- Verbeterde taalvaardigheid lei noodwendig tot verbeterde kommunikasie.
- Woordeboekgebruik bevorder onafhanklike denke en kweek selfvertroue gedurende die leerproses.
- Wanneer leerders inligtingsbronne soos woordeboeke besit, kan hulle hulleself beter bemagtig met kennis en die kanse is beter dat hulle suksesvoller in hulle studie kan wees.
Goeie gebruik van ‘n woordeboek help ook met die volgende:
- Korrekte spelling en keuse van woorde.
- Korrekte gebruik van idiome.
- Korrekte uitspraak.
- Uitbreiding van woordeskat.
- Inligting oor die gebruik van ’n woord. Dit sluit in semantiese, etimologiese en grammatikale inligting van ’n woord.
’n Praktiese voorbeeld
Jou kind moet ’n skoolprojek doen en een van die maniere om die opdrag suksesvol uit te voer, is om naslaanbronne te gebruik. Sonder dat ’n mens dit noodwendig besef, maak woordeboeke en die doeltreffende gebruik daarvan ’n groot deel hiervan uit. Hier is ’n praktiese voorbeeld om jou kind te help om die navorsing te doen:
- Ontleed die vraag deur die sleutelwoorde te soek – dit is die belangrikste woorde in ’n sin.
- Beplan deur ’n breinkaart op te stel.
- Begin met naslaanbronne, bv. ensiklopedieë.
- Werk met sinonieme om jou onderwerp verder na te slaan, bv. oorlog = veldslag.
- Gebruik jou eie woorde of indien jy ander se idees of woorde gebruik, moet dit tussen aanhalingstekens wees.
Hierdie is slegs enkele stappe om te volg, maar dit is duidelik dat woordeboek- en naslaanvaardighede noodsaaklik is om ’n skooltaak suksesvol te voltooi.
Woordeboeke nou tot almal se beskikking
Deesdae is dit nie meer nodig om verouderde woordeboeke te gebruik of ten duurste die nuutste uitgawe aan te skaf om die betekenis van ’n woord of ’n vertaling na te slaan nie. Elkeen van ons het gratis toegang tot elektroniese woordeboeke – bloot net met die klik van ’n knoppie. Woordeboeke soos Pharos se aanlyn woordeboeke (’n versameling van algemene en vakwoordeboeke) en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is maar twee van ’n hele verskeidenheid. Soms is dit nodig om lid van ’n woordeboekportaal te word teen ’n billike jaarlikse bedrag, maar dit is beslis die geld werd. Een so portaal is die van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).
Besoek VivA se webtuiste vir meer inligting. Klik hier
Pharos se aanlyn gerief. Klik hier
Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – verskeie opsies. Jy kan ook ’n woord borg of koop. Klik hier
Afrikaans.com moedig ouers aan om die waarde van woordeboeke en die gebruik daarvan onder julle kinders se aandag te bring. Knyp ’n tydjie af en leer jou kind hoe om ’n woordeboek te gebruik. As jou kind volgende keer na jou toe kom en die betekenis van ’n woord vra, verwys hom of haar na die woordeboek en slaan die woord saam na. Jy weet nooit – dalk leer jy sommer ook ’n nuwe woord!
Bronne:
Blog: 11 stappe om ’n woord te verstaan. Klik hier
Michele F van der Merwe se verhandeling: Die opvoedkundige waarde van woordeboeke: Voorstelle vir woordeboekonderrig in Suid-Afrika. Klik hier
Studiemetodes. Klik hier