In 2006 het Wendy Maartens haar werk as onderwyser bedank om voltyds te skryf. Sedertdien het daar wonderlike boeke, en heerlike versamelings eg Suid-Afrikaanse stories, pragtig verwerk vir jong lesers of luisteraars, uit haar pen verskyn.
Die storie van Sylvester die leeu …
Die leeumannetjie wat in Junie 2015 uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het, het die hele land se verbeelding aangegryp. In sy tydperk op vrye voet, ʼn volle 24 dae, het hy 26 skape en ʼn koedoe doodgemaak voordat hy uiteindelik gevang is en teruggeneem is na die Karoo-Nasionale Park. Nege maande later het die leeu, wat sedertdien Sylvester gedoop is, weer ʼn keer ontsnap. Aanvanklik het die Karoo-Nasionale Park besluit om hom uit te sit sodra hulle hom aankeer, maar die inwoners van Beaufort-Wes het die strate ingevaar en hulle stem dik gemaak en gesê: “Sylvester is óns leeu. Los hom uit!” Kort voor lank het die hele Suid-Afrika bankvas agter Sylvester gestaan en het dit op sosiale platforms gegons met die hutsmerk #SaveSylvester. Sylvester se storie het ʼn gelukkige einde gekry toe die bestuurder van Kuzuko Lodge, Gerhard de Lange, aangebied het om vir hom ʼn tuiste te gee. Daar het Sylvester boonop vrou gevat, en nou is hy die vader van twee welpies, Gamka en Kambro.
Foto: Gerhard de Lange
Iemand wat hierdie storie van Sylvester met opgehoue asem dopgehou het, is die skrywer Wendy Maartens:
“Aan die een kant het ek absolute vreugde ervaar namens hierdie leeu wat vir die eerste keer vry kon wees en snoet en maanhaar in die wind kon hardloop, en aan die ander kant het ek my hart vasgehou, bang vir wat mense aan hom kon doen. Ek het gewag vir die regte einde vir hierdie storie en toe Gerhard de Lange van Kuzuko Lodge aan hom die ideale blyplek gee, het ek geweet ek wil die storie vertel. Ek het ʼn passie vir volksverhale en legendes en ek het geweet oor honderd jaar van nou af sal kinders nog wil lees van hierdie leeu wat soos ʼn wafferse Houdini ontsnap het en hoe die storie gelukkig geëindig het,” sê sy.
Sylvester se storie is saam met ander wonderlike eietydse en deurleefde verhale opgeneem in ʼn bundel van Lapa wat nou in Oktober op die winkelrakke is: Sylvester, Ramkat van die Groot-Karoo – 21 legendes, lekkerleesverhale en staaltjies. Hierdie bundel het nie net ʼn brul tussen die blaaie nie, maar ook skop! Alita Steenkamp het met haar gesels.
Sylvester, Ramkat van die Groot-Karoo – 21 legendes, lekkerleesverhale en staaltjies
ʼn Ander storie in die boek wat haar baie na aan die hart lê, is ʼn Sakdoek vir ʼn San Seuntjie. Dit vertel die verhaal van drie San-seuntjies van die !un-stam wat deur handelaars ontvoer is uit die noorde van Namibië. Hulle moes sien hoe hulle ouers vermoor word, en hulle broers en susters deur krokodille doodgemaak word. Nadat hulle op die boot van ʼn Sweedse handelaar geland het, het hulle in die Kaap aangekom. Hier het Lucy Lloyd, wat navorsing gedoen het oor die San en die Khoi en hulle taal, haar oor die drie ontferm.
“Ek het op hierdie verhaal besluit nadat ek daarop afgekom het tydens ʼn uitstalling van die Bleek & Lloyd-versameling by die Nasionale Biblioteek. Ons kinders leef vandag met soveel geweld saam en moet soveel geweld te bowe kom. Dit was vir my goed om hierdie San-kinders se verhaal uit die argief te haal en af te stof sodat ons kinders van vandag krag daaruit kan put. Wanneer ons na Tafelberg kyk, kan ons weet hierdie seuntjies het in Tafelberg se skaduwee geleef en hulle het ook gehelp om Lucy Lloyd, wat as kind deur haar ouers verwerp is, weer heel te maak. Die 570 sketse wat die seuns gemaak het en die 17 notaboeke wat Lucy volgeskryf het en die stapels foto’s wat sy geneem het, word vandag as ʼn skat bestempel – veral in die lig van die San-kultuur wat op die rand van uitwissing is,” sê Wendy.
Meer oor Wendy …
Wendy, wat 22 jaar lank skool gehou het, het in daardie tyd diep onder die indruk gekom van die belangrikheid van moedertaalonderrig in die grondslagfase. Sy verwys na die vyf verskillende fases van die aanleer van ʼn taal. Jy hoor die taal, leer dit verstaan, dan leer jy dit praat, lees en skryf. Vir Wendy is dit baie belangrik dat al vyf hierdie dinge in dieselfde taal moet gebeur, veral by gemiddelde kinders. Sodra ʼn gemiddelde kind sy moedertaal goed kan lees en skryf en praat, dan eers kan ʼn volgende taal suksesvol ingebring word.
Altyd ‘n dieper boodskap …
Wanneer Wendy nie besig is om legendes en volksverhale op ʼn nuwe, vars en interessante manier vir vandag se kinders op te teken nie, skep sy haar eie verhale waarin daar dikwels ʼn dieper onderliggende boodskap opgesluit lê. Een van hierdie verhale, Drie Hoera’s vir Denver, het ʼn paar jaar gelede verskyn en hanteer die kwessie van molestering. Nadat die boek uit druk gegaan het, het Wendy dit op haar webtuiste beskikbaar gestel om gratis afgelaai te word in PDF-formaat. Die boek is in vier van ons elf tale, Afrikaans, Engels, isiXhosa en isiZulu beskikbaar.
Afrikaans lê Wendy besonder na aan die hart. Sy lag en sê wanneer sy aan Afrikaans dink, verbeel sy haar sy is ʼn klein kindjie wat papnat uit die see kom en dan op die los sand gaan rol. Net soos wat die sandkorreltjies en stukkies skulp aan die nat lyfie vasklou, so klou Afrikaans aan haar vas.
Wendy se Afrikaans …
“Een van die redes waarom ek so sterk oor Afrikaans voel, is dat dit deur die eeue uit die lief en leed van Afrika gegroei het,” sê Wendy. “Nes ons Afrikaners wat sonder ʼn paspoort uit anderland in die agtersak hier gebore word en trots daarop is. Ons land was in die verlede goed vir ons. Nou is dit tyd om goed vir ons land en al sy mense te wees. Ons mag nie vergeet dat Afrikaans nooit sonder al die tale rondom hom sou ontstaan het nie. Net soos ek nooit ‘n volwaardige Afrikaner sonder al my landgenote kan wees nie.
“My versugting is dat ons Afrikaans ‘n nuwe rol as versoeningstaal sal gee. Dat ons sal ophou kla, opstook, oordeel en afkraak en eerder in ons mooie Afrikaans uitreik en help heelmaak. Die Here sal ons harte hoor en ons en ons land vrede gee.”
Besoek www.wendymaartens.com om meer oor haar te lees.
Sylvester, Ramkat van die Groot-Karoo en nog 21 ander lekkerlees legendes, ware verhale en staaltjies. – Wendy Maartens. Illustrasies Linki Brand
ISBN 9780799394863