Jou motor is jou veilige plek.
Dis waar jy kan smul aan daai roomdoughnut wat jou vrou en Tim Noakes jou verbied het om te eet.
Waar jy jou kommin Afrikaanse sokkietreffers op 5 000 desibels kan pomp sonder enige oordeel.
Maar jy is verkeerd. Die verkeer sien ALLES. Watter een van die volgende padgebruikers is jy?

Die omroeper
Kobus is ’n lopende sirene. Hy moes onlangs ’n dubbelkajuitbakkie aanskaf wat groot genoeg is om ’n hele naweek se braaihout én sy ego te akkommodeer.
Hy is bekend met die bestaande padtekens, ja, maar ken ook ’n paar van sy eie. Kom ons sê maar net hy is vingerfiks.
Sy spoedboetes “verdwyn” gereeld in die pos en daar is ’n hofbevel uit vir sy arrestasie nadat hy ’n ander motoris in haar hoofslagaar gebyt het omdat sy in tweede in plaas van derde rat by ’n stopstraat weggetrek het.
Die krummel
Karel bly ’n skamele twee kilometer van die werk af, maar pak steeds padkos in vir die groot tog. Dit is gewoonlik iets ongesonds wat vir die volgende twee jaar nog ’n vlekkie teen die rand van ’n onskuldige Tupperware-bakkie gaan los of iets wat sowat vyf stopstrate verder geruik kan word. Hy het al die oggend ’n blerts tamatiesous op sy hemp gemors en daar sit nog ’n paar krummels in sy baard vas … Dis middagete.


Die skoonheidsterapeut
Cherine is besig om lipstiffie op te sit, ’n baanverwisseling te doen én haar kêrel af te sê. Jy kan ’n tweeverdiepinghuis met al daai onderlaag verf.
Die pliggie
Bets beweer haar motor kan nie vinniger as 40 km per uur handhaaf nie. Sy glo die vinnige baan is vir mense wat vroeg wil doodgaan en betaal elke week getrou haar e-tolrekening. Bets nader nie ’n robot nie. Nee, sy bekruip hom. Sodra sy hom uiteindelik skrikgemaak het met haar teenwoordigheid, doen sy ’n tienpuntdraai met haar kop en ruk haar onderste nekwerwel uit lit uit. Vir haar is K53 nie ’n toets nie; dis ’n leefstyl.
Die skoorsteen
Jy dog eers hy ry ’n Kuga, maar Danie is eintlik net besig om te vape. Daar is drie veldbrande langs die R21. Hy is twee van hulle.
Die crèche
Miranda het gedink ma-wees gaan lekker wees. Maar nou is daar ’n rugbywedstryd op die agterste sitplek van haar motor en klein Stellatjie se pop het sopas op die karmatjie gepiepie. Die sitplekke bestaan uit toffie, stokkielekker en twee maande terug se kwyl. Boetatjie het vasgesuig aan die agterruit. Sy sukkel al vir twee maande om hom te bevry.

Die dieretuin
Vivienne wil net vinnig ’n brood gaan koop, maar sy was bang haar troeteldiere (*lees “kinders”) mis uit. Daarom het sy toe maar besluit om Trixie (haar Great Dane), haar papegaai en die bure se goudvis saam te bring. Trixie het al op vyf voetgangers gekwyl en dis veilig om te sê Vivienne het nou hondehare vir sitplekoortreksels.
Jou motor is jou veilige plek, reg?
(Verkeer)d.
Kyk ’n slag na jouself in die truspieëltjie, want as die remskoen pas, is dit tyd dat jy hom aantrek.