Hierdie omvattende boek deur Isabel Pretorius, ’n ervare remediërende onderwyskundige, is ’n praktiese handleiding vir die onderwyser, tuisskoler of ouer om ’n probleem vroegtydig te identifiseer. Dit voorsien in ’n groot behoefte, veral in Afrikaans.
Hierdie omvattende werk beskryf die aard van perseptuele uitvalle wat tot lees- en spelling-probleme lei. Dit bevat kompakte, effektiewe en duidelike aanwysings en uiteensettings van die spesifieke perseptuele vaardighede wat noodsaaklik is vir die suksesvolle aanleer van lees en spelling.
“Die boek is nie net ’n praktiese handleiding nie, maar kan ook as navorsingsbron deur onderwysstudente en ander terapeute gebruik word.” – Elmari Fouche, Hoof, Waverley Leer- en Remediëringsentrum
Met hierdie inligting kan gespesialiseerde hulp verleen word aan leerders wat minimale asook ernstige leerprobleme ondervind. Dit is hoofsaaklik vir opvoeders, onderwysstudente en ouers saamgestel, maar kan ook met groot vrug gebruik word deur arbeidsterapeute en spraakterapeute. Kortom, dis bedoel om enige persoon te help wat nie kan lees nie.
Die waarde van remediëring
Remediëring behels die herstel van `n persepsie wat nie op standaard is nie en die aanleer van ’n vaardigheid wat bydra tot suksesvolle aanleer van lees en spelling.
Die leerder se leersituasie moet in die lig van sy totale menswees gesien word.
Ekstra klasse en hulpverlening in die klas, asook leesontwikkeling, is wel van waarde, maar behandel nie die oorsprong van die lees- of spelprobleem nie.
Om ’n sukkelende leerder slegs te dwing om meer te lees sal net daartoe lei dat hy ’n groter leesweerstand opbou. Aangesien hy nie sukses kán ervaar nie, word hy net ontmoedig en in die verleentheid gestel, veral wanneer daar van hom verwag word om hardop te lees. Dit lei in die meeste gevalle tot ’n swak selfbeeld.
Dit is dus baie belangrik om ’n analise van die aard en omvang van die spesifieke leerprobleem te doen. Hierby moet die leerder se intelligensie en emosionele ontwikkeling in aanmerking geneem word, aangesien sy prestasievermoë ook hierdeur beïnvloed word.
Deur die vroeë identifisering en effektiewe remediëring van perseptuele uitvalle kan ’n stewige fondament gelê word waarop daar voortgebou kan word om spel-, lees- en leerprobleme te oorkom.
Meer oor die boek
Lees moet pret wees. Die remediërende aktiwiteite wat in hierdie boek vervat is, word meestal op ’n “prettige” manier eerder as formele onderrig aangebied. Die leerder begin op ’n vlak waar hy kan presteer en nie op die veronderstelde vlak nie. Hy geniet gevolglik die nuwe uitdagings wat aan hom gestel word. So bou hy voort op sy suksesse – op ’n manier wat hom motiveer eerder as ontmoedig.
’n Veilige ruimte. Die opvoeder en ouer moet vir die leerder ’n veilige ruimte skep waarin hy perseptuele vaardighede, sowel as formele vaardighede, kan ontwikkel, sonder vrees vir straf of vernedering. Leerders wat leerprobleme ondervind, is “eina-kinders” wat feitlik elke dag in die klassituasie, sowel as tuis, met mislukking gekonfronteer word. Hulle moet met deernis, geduld en empatie behandel word. Moet dus nie nalaat om die leerder se pogings te erken en positiewe terugvoering vir selfs die minste vordering te gee nie. Sodoende word die leerder se selfbeeld en selfvertroue verbeter.
Taalstimulasie ontwikkel taalvermoë. Die jonger sowel as die ouer leerder wat stadig of moeilik lees, het steeds ’n behoefte aan taalstimulasie. Hou dus aan om stories aan hom voor te lees. Gebruik ook rympies, verhale, grappe en raaisels om sy taalvermoë verder te ontwikkel en sy woordeskat uit te brei. Maak verder gebruik van: trappe van vergelyking, intensiewe vorme, vergelykings, beskrywende woorde en idiome. Leer dit sover moontlik aan en laat die leerder dit in sy eie sinne gebruik; alleenlik dan is vaslegging en toepassing gedoen.
Moeilik lees = moeilik leer. Die leerder wat met moeite lees, sal ook moeilik leer en sal nie die genot van die skatkis van kennis, inligting en verbeelding wat deur lees ontsluit word, kan smaak nie. Hy sal ook nie met gemak van die Internet en ander tegnologie, as inligtingsbronne vir naslaanwerk of vir die uitvoering van take, gebruik kan maak nie.
Positiewe uitwerking op ander vaardighede. Tydens lees en spel kom daar oorvleueling tussen verskillende ouditiewe sowel as visuele vaardighede voor, aangesien meer as een vaardigheid op ’n keer ingespan word. Verbetering van een ouditiewe/visuele aspek sal ’n positiewe uitwerking op ander vaardighede hê en uitvalle moet dus nie in isolasie gesien of behandel word nie.
Hoekom is spel- en leesvaardighede so belangrik?
Iemand wat goed kan lees en skryf funksioneer beter in die alledaagse lewe. Lees bevorder die ontwikkeling van die verstandelike, sosiale, emosionele, morele, kulturele en beroepskundige vaardighede van die mens. Leesvaardigheid kan ook wiskunde beinvloed, veral ten opsigte van woordsomme en ander vakke.
Meer oor die skrywer
Isabel Pretorius ontwikkel in 1987 haar eie remediërende program wat ’n uitgebreide evalueringsinstrument insluit. Haar doelwit was om ’n program daar te stel wat die onderwyser in enige vak of die ouer in staat kan stel om ’n moontlike probleem te identifiseer.
Destyds stig sy self ’n remediërende sentrum wat sommer gou uit sy nate bars en haar noodsaak om uit te brei en bykomende personeel aan te stel. Skole, arbeidsterapeute, sielkundiges en ander slaan die werk van hierdie sentrum hoog aan en haar programme word ook by ander sentrums gebruik.
Almal wat met Isabel en haar werksaamhede te doene kry, het net lof vir haar kennis, toewyding en empatie. Isabel het ’n leemte gevind by die identifisering van leerprobleme deur onderwysers wat nie noodwendig oor die kennis t.o.v. remediëring beskik nie; sowel as die manifestering van die probleme in die klaskamer. Hiermee word ouers, wat nie kundig op die terrein is nie, ook bereik.
Bron: Inhoud verskaf deur uitgewer
Leespleisters deur Isabel Pretorius kos R240-00 (plus R50-00 posgeld in SA) en word uitgegee deur Rosslyn-Pers of skakel hulle by 078 761 2241.
Die boek is ook by Graffiti-boekwinkel in Pretoria beskikbaar.
Kyk ook hier vir meer oor die boek se inhoud.