Slaap – ’n wondersoete ding
Die meeste van ons het al met min slaap moes klaarkom, maar weet ook dat die nadraai daarvan soveel meer as net jou konsentrasievermoë beïnvloed. Kortom, slaap is noodsaaklik vir oorlewing en ’n tekort aan slaap kan lei tot knorrigheid, emosies wat wipplank ry, vergeetagtigheid, swak konsentrasie, swak gesondheid en sommer net ongelukkigheid.
Navorsing deur prof. Owen van St George Universiteit in Londen het bevind dat kinders wat op skoolaande ten minste 10 ure slaap, ’n voordeel het bo hulle maats wat nie genoeg slaap nie. Daar is byvoorbeeld bevind dat kinders met ’n tekort aan slaap meer geneig is tot oorgewig en vetsugtigheid en daarom ook insulienweerstandigheid wat in later jare tot diabetes kan lei.
Hoeveel slaap is genoeg?
Dit hang af van die kind se ouderdom, maar kenners is dit eens dat jou laerskoolkind ten minste 10 ure per nag moet slaap. Nouja, dis nie so maklik nie, want met vandag se besige programme en sosiale en buitemuurse aktiwiteite asook stimulerende tegnologie, bly dit ’n stryd om jou kind saans in die bed te kry. Tog is genoeg slaap noodsaaklik vir leer en groei en is daar ’n paar wenke wat kan help om jou kind hiermee te help:
- Slaaptyd moet nooit in ’n stryd met gepaardgaande trane ontwikkel nie.
- Bespreek jou kind se bekommernisse as jy dink iets pla hom of haar.
- Slaaptyd moet iets wees waarna jou kind uitsien – ’n tyd om rustig te raak en gekoester te voel. Beplan ’n rustige uur of meer voor slaaptyd – soos ’n warm bad, slaaptydstorie en sodanige roetines.
- Kweek goeie slaapgewoontes: Leer jou kind van kleins af om in hulle eie beddens aan die slaap te raak.
- ’n Koel, donker kamer SONDER televisie of ander skerms – trouens alle elektroniese toestelle -behoort ten minste 30 minute voor slaaptyd afgeskakel te word.
- Vermy ’n swaar maaltyd ten minste twee ure voor slaaptyd, maar moet ook nie dat jou kind honger gaan slaap nie.
- Sorg dat jou kind ’n gebalanseerde dieet volg en genoeg oefening kry.
Genoeg slaap lei tot:
’n Gelukkiger kind met beter konsentrasievermoë, gedrag, leervermoë, geheue, emosionele selfbeheersing, lewensgehalte en psigiese en fisieke gesondheid.
Het jy geweet? Slaap laat jou kind groei.
“Die liggaam gebruik feitlik net soveel energie om te slaap as wanneer ‘n mens wakker is. Jou staat van slaap of wakkerheid word deur die brein se oordragstowwe beheer. Dié stowwe skakel die neurone wat ons laat wakker bly af en maak ons vaak. Deur die dag bou daar ook ‘n chemiese stof, adenosien, in ons bloedstroom op wat ons lomerig maak. Adenosien word weer afgebreek snags wanneer ons slaap. Ons glukosereserwes word ook gedurende slaap opgebou sodat ons genoeg energie het vir die dag wat kom. En in kinders gebeur die afskeiding van groeihormone net terwyl hul slaap!”
Bronne:
Hoekom slaap belangrik is. Klik hier
Die nare gevolg van min slaap. Klik hier
EK LOVE OM JULLE GOED TE LEES