Blog van die week
deur Denise McLoughlin
Afrikaans.com nooi jou uit om deel van ons blogger-gemeenskap te word. Ons plaas elke week die WEN-blog en wil graag jou skryfkuns voorstel aan ons lesers. Stuur jou blog aan myafrikaans@afrikaans.com. Vertel ons so ’n bietjie meer van jouself en stuur vir ons ’n foto of ’n prentjie wat jou blog illustreer.
Denise McLoughlin woon in Boston in haar kleurvolle 80-jarige huis wat sy deel met huismaats. “Ek bly jonk deur my belangstellings soos om die pad te vat met my toerkarretjie, foto’s van ou geboue te neem, my huis knus te maak en ek is mal oor die platteland. Ek lees wyd en kuier op sosiale media. Ek is boonop ’n ouma van drie!” Sy sê haar liefde vir Afrikaans is deur haar avontuurlustige ouma en haar wonderlike skooldae op Monument Hoër, Krugersdorp met puik Afrikaanse onnies, aangewakker … Sy skryf dagboeke vandat sy 15 jaar oud is en sy waag haar hand aan versies. Die skryf van haar joernaal is haar daaglikse plesier. “Ek deel baie graag wat ek beleef, soms met ’n tikkie humor. Ek leef voluit en maak van ’n suurlemoen ‘n soetlemoen!”
Denise deel haar wedervaringe met ’n hysbak en kom tot die slotsom dat ’n mens alles kan gewoond raak – ook ’n glas-hysbak met sy eie nukke!
My ‘oppe en affe’ met die glaskas (lees hysbak)
Hier waar ek in ‘n viervlakkige huis met twee hondjies en die inwonende huishulp bly, is daar nou daagliks ‘n ding in my lewe wat my amuseer … en frustreer!
Sien, die leefarea, kombuis en TV-kamer is op vlak twee en my slaapkamer met balkon is op vlak vier … en dan is daar ook vlak drie waar jy kan kom tot by die hoofslaapkamer … en dan, o genade, is daar ‘n diep donker gat waar die motorhuis en wassery is … op vlak G.
Kyk, mens kla nie oor vier vlakke as jy nie gladde, swart kliptrappe hoef te klim, en dan ook nog bederf word met ‘n uitsig op Tafelberg en die stad terwyl jy in die glaskas ry nie!
As ’n leek in so ‘n huis het dit my nogal ‘n ruk gevat om al die hysbak se nukke en grille uit te pluis … Die eerste dag nadat ek óp is na vlak vier om my goedjies te gaan neersit, toe wil ek weer afgaan na waar ek was, en druk so ewe G vir grondvlak … maar ek ry verby die woonvertrekke en skielik is daar nie meer glaspanele met ‘n uitsig nie, maar wel donker mure wat my laat dink aan ‘n donker gat. Ek sak nou in na waar ek niks kan sien of niks verloor het nie! Maar toe daai swaaideur met sy kenmerkende harde klik oopgaan, toe gaan die ligte aan en is ek letterlik en figuurlik verlig – dit is toe die motorhuis/wassery-vloer.
’n Ander vreemde ding van die groot, swaar glasdeur is dat hy sy eie nuk het en jy mag nie aan hom vat nie … dan kondêm jy glo die hele meganisme … so jy gaan in, jy druk die knoppie – jy staan weg van die kante af en wag vir die deur om self toe te gaan. So het die twee klein hondjies, Pepsi die Yorkie en Maya die Maltesie, die manier om my te volg en ry lekker saam – natuurlik gewoond aan die ding … maar soms staan hulle en dink of hulle nou regtig wil saamgaan en besluit dan wanneer die deur begin toegaan … My senuwees raak op en ek sien al hoe word hulle vasgeknyp!
Ek staan hoeka een aand so en praat nadat ek die knoppie gedruk het, en daar kom daai deur en klap my van agter af … so, jy mors nie met die deur se tyd nie!
Wat my ook pla, en dit het nou al twee keer gebeur, is dat die glaskas – met sy groot glaspanele wat my so stuk-stuk die berg wys – sommer stop tussen vloere, so halfmas … benoude oomblikke daai … nou darem uitgevind wat om te doen en nee, dis nie roep of bid nie, jy druk net weer ‘n knoppie!
Praat van geluide – daar is iets … die kabels of wat ookal, wat so tok-tok maak sover hy styg of daal … dog daar is fout – gaan ek dit maak … maar word verseker dis maar sy manier!
Die huishulp wil haar doodlag vir my grootoog-reaksie as die hysbak iets doen wat ek nie verwag nie!
Mens raak egter mos alles gewoond en soms, as ek wil afgaan na ‘n ander vloer, dan hol ek en die hondjies die trappe af, met my wat altwee staalrelings so gly-gly vashou. Ek sien kans vir af, maar met die op hou ek maar asem in en hoop ek kom sonder voorval op die vierde vlak waar ek slaap.