Dit is nou daardie tyd van die jaar. Elke dogtertjie (se ma) droom al van kleintyd af oor een van die grootste aande van haar lewe: matriekafskeid.
Kom ons wees nou eerlik. Dis eintlik net ’n skuurskoffel in Brakpan se skoolsaal. Die LO-juffrou het haar sitkamergordyne geskenk vir die tafeldoeke en die DJ is iemand se nefie. Niks om oor huis toe te skryf nie, reg?
Verkeerd.
Hester beplan al sedert klein Mila se graad 9-jaar aan die skakering van haar kind se rok.
Maar dinge draai nooit uit soos wat dit moet nie, en voor jy jou oë uitvee is jy een van die volgende skepsels in ’n foto-album waaroor mense vyftig jaar later steeds lag:
Die Koningin
Klein Beatrix Valencia Elizabeth III se ma het vir Gert Johan Coetzee gekontrakteer om Boksburg toe te vlieg sodat hy ’n identiese replika van Demi-Leigh Nel se Protea-uitrusting by Mejuffrou Heelal 2017 vir haar dogter kan maak. Sy moes hul strandhuis in Hartenbos verkoop. En dit was net om die skoene te dek.
Die Nudis
Die uitnodiging het duidelik gesê “formele drag”. Shelly May het dit beslis nie gekry nie. Sy het by geboorte laas so min klere aangehad. Sy het ’n stel vals naels by Clicks gekoop en besluit op ’n paar skoene wat hoër is as haar IK. Daar is nou twee ekstra gate in die osoonlaag na al die spuitgoed wat sy moes aanwend om daai tease te laat realiseer.
Die Lemoen
Puberteit het Betsie vreeslik ontnugter en haar effens bleek gelaat. Sy en haar bene wou net ’n paar skakerings donkerder wees vir die groot aand. Nou lyk dit asof sy intiem verkeer het met ’n sitrusvrug.
Die Boerin
Petro Junior was nog nooit verder as Wellington nie. Tog dring sy aan op ’n plaastema vir haar matriekafskeid. Sy dra vellies en iets wat herinner aan ’n 1950’s vadoek. Foto’s by ’n geroeste plaashek is ’n móét. Sy werk reeds vir maande aan die Facebook-plasing wat sy oor die groot aand gaan maak. Daar is reeds twee opsies: “Die lewe begin waar die teerpad eindig” of “Ek sal eerder verdwyn op die platteland as om gevind te word in die stad”.
Die Bejaarde
Almoné is vanaand hier saam met iets in wit skoene en ’n leerbaadjie. Ek vermoed hy was deel van die matriekklas van 1974. Ons is nou nog nie seker of dit haar metgesel of haar pa is nie. Hy het ’n ligte ondertoon van sweet en Jack Daniels.
Die Prinses
Klein Klaradyn se rok bestaan uit vyftien lae pienk pofstof. Sy het die “meesterstuk” afgerond met ’n blommekrans op haar kop. As jy vinnig kyk lyk dit soos een van daardie kommin Kersfees-meringues wat gevul is met ’n paar wees vruggies.
Maar dit maak nie saak nie, want sy voel soos ’n prinses. Die naaste wat sy egter aan ’n koninklike bestaan gaan kom, is die puisiepaleis van ’n metgesel wat sy vanaand saamgebring het. Sy het aangedring daarop om in ’n koets te arriveer (dis eintlik net ’n glorified perdekar). Dit was nie suksesvol nie. Teen 7-uur het die perd al drie keer op die rooi tapyt gepoef en aan Klaradyn se haardos begin kou. Hy en die res van die konvooi dog dis gras.
Tot vandag toe vertel sy vir almal haar rok is tydloos. En sy is reg. Oor 50 jaar van nou af gaan mense nog steeds dink dis lelik.
Die Stoute Satyn
Daar is, sonder uitsondering, altyd ’n paartjie wat satyn dra. Iets in cherise-pienk of giggelgeel. Jy sien hulle net vlugtig as hulle by die venue instap. Die res van die aand kamoefleer hulle met die tafelversierings. Nardus en die centre piece is nou één.
Die Bruid
Glo my of nie, maar dit staan in Artikel 4 van die Grondwet oor Onvanpaste Kleredrag by Danse: Jy mag nie ’n wit rok na ’n matriekafskeid toe dra nie. Arme Regina het dit gedoen. Haar metgesel is nou nog kinderlik opgewonde oor die moontlikheid van ’n huweliksnag. Sy nie.
Die Tropdiere
Daar is altyd daardie groepie jong mans wat die behoefte het om ’n oormatige hoeveelheid hare vir die geleentheid te groei. Hulle lyk soos bonsmaraskape op hitte. As jy een van daai wolkoppe skeer kan jy ’n lappieskombers maak wat sowat tien mense hierdie winter sal warm hou.
Dalk lees jy nou die bogenoemde en dink, nee, dis nie ek nie. Maar jy is verkeerd. Ek sien daai cherise-pienk satynnommertjie in jou kas. Ek weet van daai Johan Stemmet-klavierdas in jou boonste laai. En ek vermoed hulle albei dateer terug na ’n laat somersaand in jou graad 12-jaar.
Die vraag, liewe leser, is nie óf jy een van die bogenoemde is nie. Die vraag is, wátter een jy is. Besluit jy maar self. Ek sal vir niemand sê nie.
(Ns. Daardie laaste sin is ’n leuen. Gaan plaas asb. ’n foto van jou matriekafskeid in die kommentaar-afdeling van ons Facebookblad sodat ons bietjie kan lag. Jy weet jy wil.)