Die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch (US) is nou in die hande van die Konstitusionele Hof.
Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Gelyke Kanse-beweging is in afwagting vir die uitslag van die konstitusionele hof oor die US se taalbeleid.
Dit is ’n toetssaak in die Konstitusionele Hof rakende die omstrede kwessie van die reg tot onderrig in Suid-Afrika se inheemse tale op tersiêre vlak. Hierdie saak is Donderdag 8 Augustus 2019 in die Konstitusionele Hof in Johannesburg aangehoor.
Die beweging Gelyke Kanse en Matie-studente het appèl aangeteken teen ‘n uitspraak van die Kaapse Hoër Hof wat die nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch gehandhaaf het. Die Kaapse Hof het die aansoek om hersiening van die US-taalbeleid met koste verwerp.
Die kostebevel is sedertdien laat vaar, aangesien grondwetlike kwessies op die spel is. Die saak is ook vertraag deurdat die Konstitusionele Hof gelas het dat alle hofstukke, wat meer as 7 000 bladsye beloop, in Engels vertaal moet word.
‘n Volle regbank van die Konstitusionele Hof het betoë van die onderskeie partye op 8 Augustus aangehoor en daar is nog nie ’n verwagte datum vir die uitspraak nie.
Volgens Danie Rossouw, lid van die Gelyke Kanse-loodskomitee en opdraggewende prokureur van Gelyke Kanse, “is die beweging gestig om moedertaalonderrig in die algemeen en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder te bevorder”.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in 2017 bevind dat die taalbeleid van 2016 aan die taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) sowel as aan die Grondwet voldoen.
Die Universiteit Stellenbosch se standpunt …
Luidens hofstukke wat by die konstitisionele hof ingedien is, voer die US aan dat die taalbeleid van 2016 “uitdruklik verklaar dat dit beoog ‘om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Grondwet wat betref taalgebruik in die US se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste’, sowel as aan artikel 29(1) in soverre dit met hoëronderwystoegang verband hou”.
Die US is van mening dat “aangesien die US se kampusse in die Wes-Kaap geleë is, het die instelling hom tot meertaligheid verbind deur die provinsie se drie amptelike tale, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te gebruik.”
Gelyke Kanse stem nie saam nie
Volgens Rossouw is daar 26 universiteite in Suid-Afrika en dit is slegs op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit waar studente steeds grade in Afrikaans kan verwerf.
“As daar gekyk word na die vereistes van die Grondwet, die bepalings van die Wet op Hoër Onderwys en die taalbeleid vir Hoër Onderwys, word daar rekening gehou met die feit dat die meerderheidstaal in die Wes-Kaap Afrikaans is,” sê Rossouw.
Verder voer Rossouw ook aan dat “die meerderheid van die grootste bevolkingsgroepe in die Wes-Kaap Afrikaans praat, en dat daar drie universiteite binne 60 km van die US is wat slegs in Engels onderrig”.
Dus meen Rossouw “is daar geen twyfel dat die eis om Afrikaans as primêre onderrigtaal aan die US te hê op ’n grondslag gelykstaande aan die van Engels ’n geldig en regverdigbare eis is”.
Die appellante voer aan dat die Universiteit Stellenbosch (US) in stryd met die Grondwet, wat onderrig in ‘n amptelike taal van keuse tot op die hoogste vlak waarborg waar dit redelikerwys doenlik is, onder politieke druk geswig en Afrikaans begin afgradeer het. Gevolglik geniet Afrikaans ook nie meer by US die gelykheid van aansien wat ‘n honderd jaar vanaf die universiteit se stigting gegeld het en steeds as prakties haalbaar in ‘n oorwegend Afrikaanse voedingsgebied beskou word nie. “Dit is vandag des te meer prakties haalbaar gegewe die nuutste ontwikkelinge in afstandonderrig wat reeds wêreldwyd en ook by US toegepas word.”
Die impak
Die Konstitusionele Hof se uitspraak sal na verwagting rigtinggewend wees vir al 26 Suid-Afrikaanse universiteite, waarvan die oorgrote meerderheid slegs Engelse onderrig aanbied. Drie voorheen Afrikaanse universiteite het reeds formeel begin verengels, terwyl slegs US en Potchefstroom steeds in sommige departemente Afrikaanse lesings aanbied.
Volgens Gelyke Kanse is die uitspraak ook van belang vir skole wat tot graad vier in die inheemse tale klasgee, maar daarna gedwing word om na Engels oor te slaan.
Hul sê in hul persverklaring dat gesaghebbende navorsing toon dat hierdie beleid besonder nadelige gevolge inhou – “nie net vir sodanige leerders nie, maar ook vir ‘n land se ontwikkeling”.
Waag ’n raaiskoot …
Hier’s ‘n stukkie pret om jou mee besig te hou terwyl ons wag. Daar is ‘n webwerf waar ‘n mens kan voorspel wat die uitkoms van die saak gaan wees. Hier kry jy die biografiese inligting van elke regter wat na die betoë geluister het en dan kan jy voorspel wat elkeen se besluit gaan wees. Gaan waag jou raaiskoot hier.
Lees verder …
- Fanie Olivier gee meer agtergrond op LitNET. Lees die volledige artikel hier
- Philip Spies het onlangs die boek Afskeid van ’n volk geskryf, en is ’n kundige op die gebied van Toekomsstudies. Hy is ook voorsitter van Gelyke Kanse, en vertel vir Naomi Meyer van onlangse gebeure in die Konstitusionele Hof. Klik hier