
Zirk van den Berg se boek is nou ‘n aksiebelaaide fliek!
Quentin Krog se splinternuwe fliek, Ander Mens, is gebaseer op Zirk van den Berg se topverkoperroman, Nobody Dies, wat later in Afrikaans vertaal is. Annelien van Basten het gaan uitvind hoe daar te werk gegaan word om ’n bekende roman in ’n draaiboek te omskep.
Die Afrikaanse rolprentbedryf is tans op ’n baie opwindende plek. Nie net verbeter die gehalte van rolprente jaarliks wat toneelspel, kinematografie, storielyn, klankbaan, ensovoorts betref nie, maar plaaslike filmmakers is ook besig om nuwe en interessante genres te ondersoek en met kykers te deel.
Ander Mens, die bekroonde regisseur Quentin Krog – wat bekendheid verwerf het vir sy werk op lokettreffers soos Ballade vir ’n Enkeling, Vir die Voëls en Thys & Trix, asook televisiereekse soos Die Boekklub 1, Sterlopers 1 en High Rollers – se nuutste rolprent, is beslis ’n bewys hiervan.
Hierdie donker aksiekomedie vertel die spanningsvolle verhaal van Daniël Niemand (Bennie Fourie), een van die lewe se slaansakke, wie se omstandighede onherroeplik verander nadat sy vrou (Roeline Daneel) hom los vir hulle huweliksberader (Tim Theron) en ’n skelm werkgewer Frank, (Frank Opperman), sy saai bestaan heeltemal omvergooi. Voordat hy sy oë kan uitvee, word hy nie net deur die polisieman, Johannes Ackermann (James Borthwick), as lokaas gebruik om dié krimineelbaas vas te trek nie, maar word hy ook die slagoffer van ’n hele reeks misverstande. Hoewel dié chaos tot groot tragedie en komedie lei, help dit hom ook om ’n belangrike persoonlike oorwinning te behaal.
Dit word aangebied vanuit die perspektief van Luitenant Erica Kruger (Marlee van der Merwe), van die getuiebeskermingsprogram in die Kaap, en sluit puik vegtonele tussen haar en Frank se handlanger, Hansie (André Weideman), in. Laudo Liebenberg, Jana Cilliers, Lika Berning, Clyde Berning en Neels van Jaarsveld is ook in die fliek te sien.
Kyk die lokprent hier:
Maar hoe gaan ’n mens te werk om ’n topverkoperroman van 236 bladsye om te skakel in ’n aksiebelaaide rolprent wat fliekgangers tot aan die einde boei? Wat hou jy en wat los jy?
Ander Mens se draaiboek is deur Krog, Sean Robert Daniels, Herman Binge en Frannie van der Walt verwerk en Sean het ingestem om vir ons meer oor dié proses te vertel.
Sean Robert Daniels is ’n gesoute draaiboekskrywer, wat oor die afgelope paar jaar naam gemaak het op verskeie groot Suid-Afrikaanse produksies – waaronder Vir die Voëls, Thys & Trix, Stroomop en The Last Victims – voordat hy en sy gesin na Wallis verhuis en hy as senior lektor in die Drama-afdeling by die Universiteit van Wes-Engeland begin werk het.
Volgens hom, het hy betrokke geraak by Ander Mens nadat die vervaardiger, Herman Binge, hom en Quentin Krog hieroor genader het by die Silwerskermfees in 2016. “Ek het van Herman én die storie gehou en dadelik ingestem,” sê hy.
Watter aspekte van die storie het jou aangetrek en laat dink dat hierdie roman ’n goeie fliek kan maak?
“Ek hou van ’n karakter wat lyk asof die hele wêreld teen hom is. As skrywer, is dit opwindend om hom dieper-en-dieper in ’n donker gat te gooi en ’n heerlike uitdaging om hom weer daar uit te kry. Daniël is presies die karakter wat ek geniet om te skep en Bennie was net so puik in die rol.”
Wat is die wenbestanddele wat ’n boek moet hê om kykers se aandag op die grootskerm te hou?
“Ten minste twee aangrypende karakters met ’n interessante verhouding en gebeure wat die gehoor se emosie sal raak.”
Hoe besluit jy watter dele van ’n roman die belangrikste is om in ’n draaiboek te behou?
“Jy moet jouself vra watter elemente nodig is om die kyker se aandag te hou by die storie wat jy wil vertel. Nog ’n manier om daarna te kyk, is om jouself te verbeel dat jy ’n volledige simfonie moet vasvang in vyf minute… met net die klavier as begeleiding. In so ’n geval sal jy die note moet gebruik wat die gevoel van die simfonie vasvang, maar steeds op hulle eie goed sal werk op die klavier.”
Verskil Ander Mens se draaiboek baie van die oorspronklike inhoud van die boek?
“Ons het oorspronklik beplan om baie nader aan die oorspronklike inhoud te bly as wat ons het. Die fliek bevat egter nou net breë trekke van die storielyn en basiese dinamiek van die sleutelverhoudings. Die rede hiervoor is omdat die roman baie ernstig en dramaties is, wat nie noodwendig die beste bestanddele is vir ’n fliek nie. Ons wou ’n donker komedie skep en moes veranderinge maak om lewe te blaas in dit wat ons wou weergee.”
Is die oorspronklike romanskrywer betrokke by die skep van ’n draaiboek?
“Dit verskil van projek-tot-projek. In hierdie geval was die skrywer nie betrokke nie.”
Wat is die grootste uitdagings daaraan verbonde om ’n boek na ’n draaiboek te verwerk?
“In boeke kan jy binne die karakter leef en hulle so leer ken. Op skerm leer jy hulle ken deur dit wat hulle doen en sê – dit beteken dat gedagtes omskep moet word in aksies, sonder dat dit opvallend is. Jy moet jouself vra:
1) wat is die storie wat ek wil vertel;
2) hoe kan ek dit op die beste manier moontlik op die grootskerm doen; en
3) kan ek dit effektief doen in 90-150 minute?”
… en hoe kan hierdie uitdagings oorkom word?
“Draaiboekskryf gebeur nie oornag nie:
1) Dis soos om verlief te wees, jy weet jy het die regte storielyn beet wanneer dit gebeur.
2) Klank en beeld is al wat jy het om die storie mee te vertel. Skep dus die beelde en geluide wat die beste werk om jou boodskap oor te dra.
3) Fokus op wat die gehoor wil hê en vergeet van wat jy wil sien.”
Is draaiboekskrywers oop vir verandering aan die dialoog op stel?
“Persoonlik hou ek daarvan om saam met ’n regisseur en akteurs te werk wat karakters en dialoog aanpas om die storie beter te maak. Ek gee glad nie om as dialoog aangepas word nie, solank die geskrewe dialoog in die draaiboek ten minste eers probeer word.”
Watter raad het jy vir opkomende draaiboekskrywers?
“Maya Angelou het gesê dat kreatiwiteit nooit opgebruik kan word nie, omdat dit vermeerder soos wat jy dit gebruik. So skryf elke dag. Moenie jouself beperk deur die beste plaaslike storie te skep wat jy kan nie, skryf die beste verhaal moontlik. Staan vroeg op om te skryf. Baie van my studente hou niks van hierdie raad nie, maar ek staan elke oggend vieruur op om te skryf en teen nege-uur is ek klaar en kan ek ander werk doen en die lewe geniet.”
Wat dink jy is die standaard van moderne Afrikaanse draaiboeke en wat beteken dit vir die ontwikkeling van die taal?
“Net soos in die rolprent- en televisiebedryf, is daar ’n mengsel van goeie, gemiddelde en slegte draaiboeke. Dit voel asof ons beweeg uit ’n era van oorspronklike draaiboeke, na een van romanverwerkings. So dit gaan interessant wees om te sien hoe dit uitdraai.”
Hoekom moet mense hierdie fliek gaan kyk?
“Aanhangers van donker komedies en misdaadverhale sal baie hiervan hou. Dit is ’n wonderlike geleentheid om geliefde karakters vir ’n slag in ’n ander tipe rol te sien. Die fliek is ook ’n effense liefdesbrief aan die Coen-broers, so hopelik sal diegene wat hulle werk geniet dit raaksien en waardeer.”
Wat is die grootste les wat jy hieruit geleer het?
“Moenie teen die storie baklei nie. Elke probleem wat ons gehad het, is veroorsaak wanneer die draaiboek wegbeweeg het van wat die storie wou wees.”
Waarmee is jy nog besig?
“Ek is baie bevoorreg om saam met verskeie begaafde Suid-Afrikaanse en Britse skrywers te werk om ’n paar nuwe rolprent- en televisiepojekte te skep.”
Hoe was dit om saam met Quentin Krog te werk?
“Op Ander Mens het ons die meeste oor draaiboek-elemente verskil as op enige ander projek waaraan ons al saam gewerk het. Maar dit is wat ’n vennootskap goed maak – wanneer twee partye gemaklik genoeg is om van mekaar te verskil sodat die eindproduk daarby kan baat.
Ek en Quentin werk al sedert hoërskool saam en ek is mal oor die feit dat hy niks anders as die beste sal aanvaar nie. Hy druk homself en diegene rondom hom om beter te wees as wat hulle ooit kon droom.”
Ander Mens is vervaardig deur Marche Media (in samewerking met kykNET Films, M-Net Movies en die Departement van Handel en Nywerheid), ’n Kaapse rolprent- en televisieproduksiemaatskappy met meer as dertig jaar ervaring in die bedryf is die trotse vervaardiger van hierdie fliek. Hulle is veral bekend vir uiters suksesvolle projekte soos die kykNET-reekse Waterfront, Boer soek ’n Vrou en Mooimaak, asook internasionaal-bekroonde plaaslike vollengte films, waaronder Nobody’s Died Laughing (2015), Johnny Is Nie Dood Nie (2016), Kanarie (2018) en Die Seemeeu (2018).
Dit begin op 23 Augustus 2019 by plaaslike bioskope draai en word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. Moet dit nie misloop nie!
Ons het saamgekuier by die Johannesburgse bekendstelling van die fliek by Cedar Square in Fourways. Hier is ’n paar kiekies.
Marlee van der Merwe het opleiding ontvang vir die fantastiese vegtonele in die fliek, ’n Ander Mens. Sy vertolk die rol van Erika Kruger. (Foto: Gina van Staden) Bennie Fourie het 16 kilogram opgetel vir sy rol en dit weer verloor! Dit is sy eerste hoofrol. (Foto: Gina van Staden) Jy kan uitsien na ‘n briljante vertolking deur Jana Cilliers wat die rol van Daniël se ma speel. (Foto: Sheen Photography)
Sean Robert Daniels was deel van die span wat die boek in ‘n draaiboek verwerk het. André Weideman speel Frank se handlanger in ’n Ander Mens (Foto’s Sheen Photography) Die sangeres, Sky Ocean en haar metgesel. (Foto: Sheen Photography) Getroud met rugby se Simon (David Louw) en Renate (Christel van den Berg) op die rooi tapyt. (Foto: Sheen Photography)
Regisseur, Quinten Krog hier saam met sy vrou op die rooi tapyt. (Foto: Gina van Staden) Binnelanders-akteur, Dihan Schoeman. (Foto: Sheen Photography) Zetske en Altus het pret op die rooi tapyt. (Foto: Gina van Staden)