Afriforum het op 7 Augustus ‘n paneelgesprek oor die toekoms van Afrikaanse onderwys gehou.
Binne die huidige politieke klimaat het Afriforum dit goedgedink om interne en eksterne kundiges te nader om op die paneel te dien, met die doel om ‘n sinvolle gesprek te voer wat opnuut hoop sal skep en weer die klem op die waarde van moedertaalonderrig sal plaas.
Die paneel het bestaan uit dr. Theuns Eloff, adv. Albert Lamey, Janetta van Niekerk (skoolhoof van Laerskool Die Krans), Carien Bloem (AfriForum-onderwys) en Alana Bailey (adjunk- uitvoerende hoof van Afriforum) wat ook as fasiliteerder opgetree het.

Carien Bloem, Theuns Eloff en Alana Bailey in gesprek.

Alana Bailey, Janetta van Niekerk en Albert Lamey na afloop van die gesprek.

Janetta van Niekerk en Albert Lamey is vol hoop vir die toekoms van Afrikaanse onderwys.
Volgens adv. Lamey is daar nasionale norme wat grondwetlik saamgestel is vir die implementering van taalbeleide. Hy meen dat ‘n taal nie die sosiale kohesie tussen leerders met verskillende moedertale negatief beïnvloed nie.
Dr. Theuns Eloff het die belangrikheid om volgehoue moedertaalonderrig tot graad sewe te ontvang, beklemtoon.
Daar is ‘n pyplyn vir Afrikaanse onderrig daargestel met die doel om volhoubare onderrig in Afrikaans as moedertaal te verseker. Die totstandkoming van organisasies soos die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en Moedertaal in Onafhanklike Skole (MOS)-inisiatief, verseker dat hierdie pyplyn op ‘n uitvoerende vlak gedryf word.
AON en die MOS-inisiatief – dr. Theuns Eloff aan die woord …
Lees verder:
Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON)
Waarom moedertaalonderrig?
Volgens Janetta van Niekerk vra ouers hulself gereeld af of dit die moeite werd is om hul kinders in Afrikaans, hul moedertaal, te onderrig, terwyl die wêreld Engels is.
Sy beskou verskillende fasette van ‘n skool soos kwaliteitonderrig, ’n stimulerende omgewing en ouerbetrokkenheid as ‘n pakket, terwyl die onderrigtaal die bindingsmiddel van hierdie pakket is.
“Taal is nie net taal nie, dis identiteit. Dis wie jy is en hoe jy dink. Dis nie ‘n politieke saak nie, maar wese.” – Janetta van Niekerk
Volgens haar is die volgende beginsels die boustene vir ‘n goeie skool:
- Moenie kinders in boksies plaas nie.
Die kwaliteit van ‘n skool lê in die onderwysstyl.
- Goeie onderwysers.
Studenteonderwysers moet meer bemagtig word en keuringsvereistes vir toelating tot universiteite vir studente wat onderwys wil studeer, behoort strenger te wees.
- Verpakking van materiaal.
Kinders leer deur ervaring. Om lesse so te verpak dat kinders ‘n ervaring daardeur kry, verg tyd en sit groot werkslading op onderwysers.
Carien Bloem beklemtoon dat Afriforum se doel met onderwys is om hoop te skep met die wete dat daar plek is vir Afrikaans.
Hulle fokus op die behoud van Afrikaans, maar ook die ontwikkeling van enkelmediumskole, Afrikaans as onderrigtaal en moedertaalonderrig.
Wat duidelik beklemtoon is in hierdie gesprek is dat daar nie net inisiatiewe vir Afrikaans as moedertaal moet wees nie, maar dat alle moedertaalsprekers vir hul tale moet opstaan.
Dr. Theuns Eloff sê dat mense moet besef dat dit nie bloot Afrikaans is wat die moedertaaldebat voer nie, maar dat dit ‘n globale standaard is.
Alana Bailey meen jy moet multitalig kan funksioneer en dit begin by moedertaalonderrig.
Na afloop van hierdie paneelgesprek is dit duidelik dat daar talle organisasies is wat elke dag aan projekte werk en voortdurend skakel om Afrikaans as moedertaal te bevorder en om die boodskap oor die belangrikheid van moedertaalonderrig (vir alle moedertale) al hoe meer onder ouers se aandag te bring.
In ‘n land waar ons onseker is oor vele aspekte kan ons seker wees hiervan:
Daar is ‘n toekoms vir Afrikaans in die onderwys.