Nuwe TV-reeks

Deel van die Stories wat saak maak-span: Radio-omroeper Lyntjie Jaars en programaanbieder Coenie de Villiers. Lyntjie is die aanbieder van die Korporatiewe Maatskaplike Investering-insetsel op die program.
Suid-Afrikaanse TV-kykers kan hulle eersdaags verlustig in ʼn stewige en gereelde dosis goeie nuus. Stories wat saak maak, ʼn reeks wat fokus op inspirerende inhoud wat vir Suid-Afrikaners nuwe hoop sal gee, word vanaf 4 Augustus en 10 Augustus op VIA en eExtra onderskeidelik uitgesaai.
Die gewilde Coenie de Villiers is die aanbieder. Hy sê die stimulus agter dié goedvoel-reeks was die feit dat die wêreld vol slegte nuus is. “Dit vang mense onkant; mense is moedeloos, depressief. Trouens, navorsing toon dat dit hoog tyd én broodnodig is om goeie nuus te begin versprei,” verduidelik hy. “Mense is dol oor stories soos die een van die pompjoggie wat vir ʼn vrou R100 geleen het. Dis ʼn teken dat ons gereed en vatbaar is vir nuus wat ons laat beter voel oor ons land, onsself, en oor wie ons is as Suid-Afrikaners.”
Sonderling Suid-Afrikaans
Hoewel die konsep agter Stories wat saak maak nie internasionaal of plaaslik uniek is nie, wys De Villiers daarop dat die reeks op ʼn sonderlinge invalshoek fokus. Stories is eg Suid-Afrikaans. Dit kyk na ons as Suid-Afrikaners met deernis, dog ʼn bietjie tong in die kies. Ons neem onsself nie te ernstig op nie, dog spreek alles wat ons doen van liefde en deernis.”
Liefde, meen Coenie, is belangrik.
“Maar deernis is sy ouer, sterker broer wat nog sterker staan as jy hom met humor saamspan. Die pompjoggie-storie is ʼn uitstekende voorbeeld hiervan. As ons hierdie tipe deernis van mense kan wys, dan het ons geslaag,” sê hy.
Korporatiewe maatskaplike investering
Nog ʼn kernkomponent van elke episode is ʼn KMI-insetsel – met ʼn verskil. De Villiers verduidelik: “Die meeste maatskappye het KMI-inisiatiewe en dit kan meestal droog klink, totdat jy die mense ontmoet wat daaruit voordeel trek. Dan word dit ʼn fantastiese storie. Ons praat met die mense wat voordeel trek. As die maatskappy sop gee, praat ons met die persoon wat die sop op ʼn koue winterdag ontvang.”
Coenie beskryf die aanbieder van die KMI-insetsel as ʼn absolute fees. “Lyntjie Jaars kom van Springbok in Namakwaland af, waar sy ʼn omroeper vir Radio Namakwaland is. Stories wat saak maak is haar eerste TV-ervaring, en sy is ʼn natural,” verduidelik hy. Die ding is, as jy met iemand praat wat aan die ontvangkant van deernis staan, byvoorbeeld by ʼn sopkombuis, dan moet jy self deernis hê. Lyntjie het dit in oormaat en die Afrikaans wat sy praat is so soet soos ʼn suikerklontjie.”
Vonkelverskeidenheid
Lyntjie as KMI-aanbieder en Coenie as anker is egter net twee bestanddele van ʼn program wat ʼn suksesresep belowe. Elke episode, vertel De Villiers, sal uit “allerlei mense met allerlei stories vanuit allerlei perspektiewe” bestaan.
“Die eerste deel is brokkies lusmakers. Dit sal ʼn weerspieëling wees van goeienuus-stories van heinde en verre – van Rusland tot Rustenburg en Alberton tot Amerika; daai goedjies waarna jy kyk wat mense vir jou stuur en wat nie die voorblaaie of spitsuitsaaitye haal nie.” Teen hierdie agtergrond gaan die program ook kykers uitnooi om hul eie stories van hoop, deernis, humor en medemenslikheid in te stuur.
Daarna verskyn ʼn koerant- of tydskrifredakteur wat kykers vermaak met ʼn goeienuus-storie wat die week op hul tafel beland het en miskien nie geplaas is nie.
Kort op sy of haar hakke volg ʼn komediant van die Joe Parker Komedieklub in Montecasino wat vir ʼn minuut lank die gehoor vermaak met die dinge wat hulle as Suid-Afrikaners laat glimlag.
En nog ʼn hoogtepunt is kykers se weeklikse kennismaking met glanspersoonlikhede wat gesels oor die dinge waaroor hulle nie gewoonlik gesels nie. Coenie verduidelik:
“Ek wil uitvind wat hulle passie is, wat hulle laat tick. Ons sal hulle uiteraard krediet gee vir die wonderlike vaardighede wat hulle beroemd gemaak het. Maar wat ek eintlik wil weet is wie is, byvoorbeeld, die regte Lizz Meiring, Deon Meyer, Corlea Botha of Erik Holm, en wat is daardie ding wat hulle doen om van hulself of hulle wêreld ʼn beter plek te maak.”
Nog iets wat vir Coenie opgewonde maak oor die reeks is die temamusiek deur die bekroonde kletsrymkunstenaar Early B. “Early B het Suid-Afrika aan sy voete en op hulle voete gehad met sy treffer Ben 10. Dis presies dieselfde aansteeklike ritme wat van Stories wat saak maak se kenwysie ʼn onmiddellik herkenbare en heerlike oorwurm gaan maak,” verduidelik hy.
Les bes is daar Die laaste woord wat deur die komediant en aktrise Shimmy Isaacs gespreek word. “Maar nie as Shimmy nie,” maan De Villiers. “Ons het ʼn popkarakter deur een van Suid-Afrika se voorste poppemakers, Michelle Botha, laat skep. Die karakter se naam is Sherri-Lee Miller. Sy is uitdagend en tong in die kies – ʼn siel sonder bedrog of heilige koeie – en die onweerstaanbaar snaakse Shimmy is haar stem.”
De Villiers sê hy is opgewonde oor die reeks, sy span, die toekoms en die mensdom. “Ek dink mense is basies goed, en ek dink goeie nuus is aansteeklik. Die idee is om na die program te kan kyk, daarna die TV af te sit en te dink, ‘ek is nog OK, ons is nog OK, die land is OK’… Dís die soort stories wat ons gaan soek en vertel; stories wat miskien nooit die voorblad haal nie, maar wat die voorblad van ons harte gaan haal,” is sy slotsom.