
Dr. Hercules Boshoff is ’n navorser en vertaler in filosofie. Hy is medestigter en tans voorsitter van die Chairefoon-inisiatief chairefoon.co.za, ’n organisasie wat Afrikaanstalige filosofie bevorder, en betrokke by die NAWG (Nederlands-Afrikaanse Wysgerige Genootskap), wat dialoog tussen Afrikaans- en Nederlandstalige filosowe bevorder.

Die tyd waarin ons leef word gekenmerk deur die imperatief van herwinning. Hierdie ingesteldheid moet myns insiens ook van toepassing gemaak word op die menslike gees, veral met betrekking tot taal. Herwinning kan kortweg beskryf word as die ontginning van potensiaal uit dit wat in ’n sekere konteks versadig geraak het en verwerp is. Ontginning vind nie plaas by wyse van herstel nie, maar van nuutskepping. Nuutskepping geskied nie uit die niet (ex nihil) nie, maar spruit voort uit ‘n reeks samevoegings en omskakelings waarna ons kan verwys as komposisie. Die biologiese begrip van kompos wat organies omskakel, kan in verband gebring word met wat ons hier bedoel met komposisie, alhoewel hier meer ter sprake is as alleen organiese samesmelting. Hier moet naamlik ook die aktiwiteit van die menslike intellek ’n belangrike rol speel. En dit is inderdaad die geval dat daar verbysterende nuwighede in ons taal ontstaan, sonder dat dit geforseerd klink. Waar daar in die verlede gedink is oor “oorspronklikheid” as kernelement van die kunstenaarskap, skuif die klem nou meer na samestelling, verwerking en nuwe verbintenisse skep tussen dinge wat nie andersins lyk of dit bymekaar kan pas nie.
Die redigeringstegnieke van musiek, en veral iets soos hip-hopmusiek wat die redigering self tot ’n instrument verhef, is ’n uitstekende voorbeeld van die wyse waarop komposisies saamgestel kan word, en dit is daarom ook geen verrassing dat juis op hierdie terein soveel aan die gebeur is in Afrikaans nie. Van die kunstenaars slaan min ag op Standaardafrikaans, maar boet hiermee nie in wat betref die trefkrag van dit wat in die musiek oorgedra word nie. Dit sê allermins dat daar van onkunde of disrespek vir die taal gepraat kan word. Dit wemel van bekende slagspreuke en gesegdes waaraan dikwels nuwe betekenis gegee word, en nuwe lewe ingeblaas word. Hiermee saam bied musiek ’n kragtige ritmiese puls wat bydra tot nuwe ritmes en nuanserings wat betref die wyse waarop die taal gepraat word.
Wat verband hou met bogenoemde bewegings is die uitbreiding van die digitale sfeer, wat instaat is om dit wat ingesleutel word, te verteer in die vorm van kode en op sy beurt weer onmiddellik opgeneem en gebruik kan word om te voorskyn te kom as iets anders. Die digitale sfeer is aanvanklik tot groot voordeel vir die uitbreiding van Engels ingespan, die taal waarmee die evolusie van die rekenaar sedert Turing sterk gedryf is, maar nou word meer tale bevoordeel namate die koppeling tussen woord en kode na ander tale uitbrei. Die kode kan om hierdie rede gelykgestel word aan die uitvinding van die vokaliese alfabet van antieke Griekeland wat die neerskryf van ’n verskeidenheid tale moontlik gemaak het. Die rekenaar het ook ’n eiesoortige pedagogiese waarde wat verband hou met die rekenaarspel. En alhoewel die aanleer van taal ook baatvind by van die talle nuwe toepassings, moet mens nie uit die oog verloor dat spel ’n belangrike onderdeel van taal self is nie. Dit is een van die hulpmiddels wat egter weereens nie alleen die inhoud op ’n alternatiewe manier oordra nie, maar mettertyd wysigings aan die inhoud sal meebring.
Mens moet egter nie die ouer benaderings tot taal aanleer buite rekening laat nie. Om te skryf op papier word byvoorbeeld beskou as iets wat meer moeisaam is, en die gerief daarvan om bloot backspace en korrigeringsprogramme in te span, het ’n effek op die mate van refleksie wat ingespan word en veral op iets soos spelling. Verder het die aanmoediging om kort frases en afkortings te gebruik op sosiale media ’n nadelige effek op die sintaktiese bewussyn, die vermoë om langer en gekompliseerde idees ineen te laat vloei. Hierbenewens is die vervanging van woorde met emotikons ook nie ’n winspunt vir taal nie. Mens sou so ver kon gaan om te beweer dat daar ’n mate van vergetelheid intree. Die idee om bloot ’n tablet in elke kind se hand te stop, het daarom die potensiaal om meer probleme as oplossings te skep. Dit is juis hierdie moeisaamheid, huiwerigheid en besinning wat skryf ’n belangrike aspek van die wyse waarop ons taal aanleer en dit gebruik, maak. In hierdie opsig is ek geneig om saam te stem met die boektitel van die outeurs Maria-Anna Schulze en Stephan Clauss: Wer nicht schreibt, bleibt dumm (wie nie skryf nie bly dom).
Om taal dus deur verskillende weë te leer kan bydra tot die kultivering van oordeelkundige onderskeiding. Dit is nie net belangrik om verskillende werktuie aan te wend by jou eie gebruik van taal nie, maar om ook ten opsigte van jou inname verskillende mediums te gebruik. ’n Goeie kennis van die moontlikhede en beperkinge wat elke medium bied, behoort daarom ook in die leerproses oorgedra te word. Maak nie saak hoe goed jou skool was, hoe bygewerk jou programmatuur, of wat die gier van die dag is nie; indien mense nie aktiewe deelnemers aan die kennisvloei bly nie, gaan die samelewing, wat altyd broos is, ten gronde.
Daar word oor die woord “informasie” gepraat asof dit ’n nuwe vraagstuk is wat eers met die koms van die sogenaamde vierde industriële revolusie ter sprake kom. Mens kan egter reeds by Plato se vraagstuk rondom die vorms iets optel van die wyse waarop voortdurende vormgewing (hoe dinge in-formasie tree, of hoe formasies gevorm word) sentraal tot menslike beskawing bly (Plato het byvoorbeeld nagedink oor die effekte van die oorgang tot skrif op die samelewing en het reeds gewaarsku teen dogmatisme). Daar is egter huiwerigheid om Plato se oplossing van ideale vorms te aanvaar as oplossing tot die uitdagings en veral die wyse waarop ons oor taal dink. Hier kan die idee van “volhoubaarheid” uit die herwinningswoordeskat nuttig wees, ook met betrekking tot die wyse waarop daar oor iets soos “standaard” by taal gedink word. Wat sou volhoubaarheid op die taalfront behels? Myns insiens behels dit om maniere te vind om die volgehoue en ewigdurende spanning tussen kreatiewe vermenging, onderskeiding en goeie oordeel deur die nuwe mediums “vol te hou”, in plaas daarvan dat een van die aspekte die ander probeer domineer, dit wil sê om hunkerend en tegelyk vrygewig te werk binne jou terrein en toe te laat om deur een van die ander velde opgeneem en verwerk te word. Die imperatief tot herwinning kan wat die menslike gees betref nooit losgemaak word van die idee van die her-innering as selfbewuste aktiwiteit nie, dit wil sê om dit wat in jou innerlike ruimte inkom te verwerk en daarmee te worstel en hierdie worsteling tot uiting te bring as nuwe potensialiteit, en nie alleen in blote verbruik of vermaak te laat verval nie. Informasie wat alleen geskep word vir verbruik, word nie alleen vernietig in die verbruik daarvan nie, maar vernietig ook die gees waarin dit neerslag vind.
- Indien jy in gesprek wil tree, kontak Hercules Boshoff, e-pos: info@chairefoon.co.za