Ek dink soms aan hierdie tipe mense in die nagte as ek alleen in my bed lê. Maar nie vir te lank nie. Dan sit ek die liggie aan, want hierdie is die tipe goed waarvan nagmerries gemaak word.
Ek praat van sportouers. Dalk dink jy nou, nee, nie ek nie. Ek het nie ’n hemp met my kind se gesig op nie, ek het nog nie ’n skeidsregter probeer vergiftig nie en ek het nie verlede naweek teen die groen heining om die netbalbaan geklim en op 15 weerlose tieners geskree nie.
Hulle sê erkenning is altyd die eerste fase van heling … so kom ons begin. Watter tipe sportouer is jy?
Die Rugby-pappa
Vir Oom Bertus is hierdie nie Bulletjie-rugby nie. Nee, dis die Wêreldbeker 1995.
Sy klein “Francois Pienaar” draf uit as die kaptein, die hele land sing “Shosholoza” saam … selfs Mandela is daar!
Ek weet nie wat tril meer nie: Sy kleintongetjie of daardie blertsie maag wat onder sy hemp uitsteek en almal jonger as agt laat huil nie.
“Ek wil bloed sien!! Duik hom! Of wil jy hê ék moet dit doen?!”
(Liefs nie. Dit sal nie ’n baie estetiesgelaaide oomblik wees nie.)
Bertus Junior is onlangs as kaptein verkies na sy pa die span se rugbytruie, die braai-area by die skool se klubhuis en die hoof se seevakansie in Hartenbos geborg het.
Maar ek het nuus vir Oom Bertus. Hierdie is nie die Wêreldbeker nie. Hierdie is Help ’n Bietjie Daar Sêkonder se derde rugbyspan. Die skool het net twee.
En Bertus Junior is allesbehalwe Francois Pienaar. Inteendeel, hy het nou vir die eerste keer in 70 minute fisiese kontak met die bal gemaak. Hy handhaaf tans die spoed van ’n heilige kameel pale toe.
Debat-mamma
Sy het haar kind se toespraak ten duurste gekoop op “enigiets-wat-vreeslik-oordrewe-klink-en-15-idiome-bevat.co.za”. Sy word nie meer toegelaat by debatskompetisies nie nadat sy een van die buurskool se ouers in die kuit gebyt het en die opponente se graad 8-span by die Bellville-polisiestasie aangegee het vir tekens van aggressie, swak argumente en onvanpaste skoolrok-lengtes.
Die Helikopter-mamma
Ook bekend as die uitkamper. Vir Hester is hierdie nie ’n vriendelike netbalwedstryd tussen ’n paar jeugdiges nie. Nee, hierdie is ’n uittog.
Sy is gerat met haar kampstoel, ’n kommin visor wat sy gratis by Spar gekry het, ’n koelsak (met genoeg kos om jou vyf dae lank op ’n tropiese eiland te hou) en ’n Campmaster-tent wat twaalf kan huisves.
Halftyd pluk sy lemoenskywe vir albei spanne uit en ’n Tupperware-bakkie met iets in wat nog vir jare gaan stink.
Dae soos hierdie maak haar uiters gespanne. Niemand weet regtig hoekom nie. Ons almal kon al voor geboorte sien klein Hester gaan nie die volgende Olimpiese sensasie wees nie, maar Hester Senior bly glo. Dis hoe dit ’n Helikopter-mamma betaam.
Die Tiffany
Hierdie is die gevaarlikste van al die sportouers. Die sportveld is haar jagveld. Sy is nie eintlik hier vir die netbal nie. Dis nie regtig die tipe balsport waaraan sy gewoond is nie.
Haar dogter is meer by die rugby- as by die netbaloefeninge. Tiffany kon nie besluit wie die pa is nie, toe vernoem sy maar die kind na al drie haar aanhangsels: Charmoné-Johanna-Pieternella-Jacolina Verster (sy wou nie hê een moet uit voel nie. Netnou breek haar kar en wie gaan dan die wiel regmaak?). Met ’n dergelike koppelnaam soos dié is ’n tienerswangerskap op 15 onafwendbaar.
Die omgee-ouer
Hierdie ouers is groot aanhangers van die “ten-minste-het-jy-deelgeneem”-lewensfilosofie. Kom ons wees nou eerlik; hulle is eintlik net op Saterdae daar vir die chipsticks en die vyf vir R20 pannekoek special.
En laaste, maar beslis nie die minste nie …
Daar is ’n oop spasie langs die veld gereserveer vir ’n baie spesiale subspesie van die sportouer: Die onbetrokke mamma en pappa.
Hester en Johan was salig onbewus van die sportdag, hul kind se posisie in die eerste span of die feit dat die skool rugby aanbied. Om die waarheid te sê … Pappa Johan het eers onlangs uitgevind die kind is syne. Hy dog dis die bure s’n. Wat ’n openbaring.
*As jy enige van die bogenoemde tekens toon, besoek gerus ons webwerf by www.ek-is-’n-verleentheid-vir-my-tiener.co.za of woon een van ons groepsessies by (volgende week se tema is: Op watter noot mag ek skree langs die veld?).