Is jy ’n voornemende entrepreneur?
Sluit aan by Mentorvennoot!
Mentorvennoot maak jongmense bewus van entrepreneurskap om selfversorgend en finansieel onafhanklik te wees.
Mentorvennoot is ’n niewinsgewende organisasie wat bestaan uit suksesvolle sakelui en vooraanstaande akademici wat hulle kennis met jongmense deel en beskikbaar stel. Mentorvennoot se programme ontsluit kreatiewe denke en ontwikkel vaardighede sodat jongmense deur entrepreneurskap kleinsake-eienaars kan word. Verder kweek dit ’n entrepreneuriese bewustheid onder die jeug van Suid-Afrika en het dit ten doel om jongmense te inspireer en te lei om hulle drome en ideale te verwesenlik.
Hoe doen hulle dit?
Mentorvennoot bied die volgende:
- Snapspel: ’n Ses uur lange spanspel waar leerders d.m.v. ’n gesimuleerde en interaktiewe leerervaring blootgestel word aan werklike besigheidsituasies.
- Trepklubs: Help skole met die stigting van trepklubs waar leerders hulle entrepreneuriese vaardighede kan beoefen en ontwikkel.
- Mentorvennootverenigings: Vestig ’n vereniging in elke gemeenskap/dorp. So ’n vereniging bestaan uit kundiges, sakemanne en professionele persone wat ten doel het om potensiële entrepreneurs te mentor.
- Die entrepreneurskompetisies: Bied kompeterende platforms aan leerders om hul suksesverhale met mekaar te deel. Wenners van hierdie kompetisies word met kontantpryse en toekennings beloon. Hierdie kompetisie vind jaarliks plaas. Die inskrywings vir vanjaar se kompetisie sluit op 15 September.
Snapspelkompetisie 2019
Die drie skole wat tans die voorlopers is in vanjaar se kompetisie, is:
- Hoërskool Paulus Joubert (Paarl) met die Restaurant-simulasie.
- Hoërskool Oudtshoorn met die Lugdiens-simulasie.
- Hoërskool Outeniqua met die meeste entrepreneursinskrywings.
Vyftien ander skole moet landwyd nog (tot 23 Augustus) die Snapspel doen waarna die drie topskole aangewys sal word, wat dit in die finaal op 12 Oktober gaan uitspook.
Entrepreneurinskrywings – ’n suksesverhaal
Die skool met die meeste inskrywings dring ook deur na die finaal sowel as die top 7-entrepreneurs met hulle suksesstories waarna die wenners van 2019 aangewys sal word. En dit is waarna jy moet streef. Vra maar vir Nathan Jansen van Outeniqua wat in 2018 tydens die finaal raakgesien is en binne een jaar in New York by mense soos Bill Gates beland het om sy suksesstorie vir die Amerikaners te vertel. Nathan het so pas van sy besoek aan New York teruggekeer.
Vir navrae of meer inligting, kontak:
Kobus van den Bergh by info@mentorvennoot.co.za
Lees ook:
Kursusse vir voornemende entrepreneurs in Afrikaans. Klik hier.