Foto: Zandré du Preez
Spoegwolf het onlangs die eerste Afrikaanse groep geword wat die nommer 1-posisie op die Apple Music Album Chart beklee het.
Spoegwolf timmer sedert 2012 aan hul uitsonderlike klank en hul eerste album, Swaartekrag, was reeds ’n aanduiding van wat hierdie groep Stellenbossers sou vermag.
Wilken Calitz beskryf hul musiek in ’n onlangse artikel op die webwerf Voertaal as ’n uiters persoonlike uitdrukking van hulle bestaanswêreld. Die lirieke is grotendeels opgedis as ’n proses van sinmaak van die verlede.
Die groep bestaan uit Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang), Chris von Wielligh (kitaar, klavier), Albert van der Merwe (baskitaar, sang) en Danie du Toit (sang, kitaar). Van hul bekendste treffers is Loerie, Lenie Blou, Bittermaan en Somerset-Wes.
Spoegwolf het reeds vyf albums op die rakke: Swaartekrag (2012), Elektriese kind (2014), Somer (2015), Die donker toring (2017) en Koma (2019).
Koma het dieselfde oggend wat dit uitgereik is nommer een op iTunes gehaal; en kort daarna die eerste Afrikaanse album geword wat nommer een op Apple Music bereik
“Dis overwhelming. Ek kan regtig nie tot die reality van die support wat ons gekry het kom nie. Dit voel asof die mense saam met ons hierdie ding kom dra het. Ek dink die fans is eintlik die grootste deel van die band … ” sê Danie du Toit
Met die produksie van Koma het Spoegwolf ietwat anders te werk gegaan…
“Voorheen het ons oor ’n lang tydperk geskryf en baie gehad om uit te kies. Met dié album is die liedjies op een slag geskryf oor ’n kort tydperk … maar daar het tyd en moeite in die opnames ingegaan. Ons het liedjies vyf … ses keer opgeneem.”
Hy vertel hulle het, gewapen met pen en papier, ’n boshuis gehuur en die groep was gefokus op wat hulle met klank wou regkry. Danie sê dit was ’n interessante proses. “Daar was ’n paar tempo changes wat aanvanklik vir ons baie daunting was.”
Die inspirasie vir die lirieke kom uit hul daaglikse lewe.
“Ek noem dit observasie. Ek skryf maar net die goed wat ek sien.”
Spoegwolf is meer as hul musiek
Tydens ’n onlangse onderhoud met Die Matie (Stellenbosch se studentekoerant) sê Danie:
“Ons is nie ’n band wat toevallig vriende is nie. Die band is slegs ’n uitvloeisel van ons vriendskap. Ons is eintlik net mal pêlle, en dis maar net een van die dinge wat ons saam doen.”
“Die beste raad wat ek al gekry het was om te onthou: the band is bigger than the music. Op die ou end is jou vriendskap belangriker as die musiek of wat jy bereik. En as jy met vriendskap stick, gaan jy nie noodwendig sukses bereik nie – dit gaan nie soos magic werk nie – maar ten minste gaan jy dit geniet.”
“My gunsteling deel van optree is om dit saam met my broer en twee vriende te kan doen … as ek voor ons begin speel omkyk, en sien hoe my broer daai dromstokkies optel, is dit asof ’n lig agter hom aangaan. En as hy die eerste keer daai kick drum tref, kan ek dit net beskryf as wow. Dít is magic.”
Spoegwolf gaan van krag tot krag, hul toerprogram is propvol en die getalle mense wat toustaan om hulle vertonings by te woon, spreek boekdele.
Wat is die droom?
“Ons wil baie graag oor ’n jaar almal onder ’n boom sit met baie liggies, honde en katte en vriendskap. Dis die droom.” Danie sê die liedjies gaan daaroor.
Een unieke aspek wat onmiddellik aandag trek in Spoegwolf se musiek is die gebruik van stemboodskappe. Hier is een voorbeeld uit Koma (“As ek hier uit kan kom”):
[Danie voice note]
Twee siele ontmoet mekaar
in vierhonderdduisend jaar
is daar niemand anders nie?
ek weet nie
hel, ek sou dankbaar wees
al sien ek jou die eerste keer
in die vuur
Ek glo in jou
en jou goue jare
[Herman voice note]
Daan! Hoop dit gaan goed! Wat maak jy môreaand?
jy’t nie dalk lus om saam met my ’n troue by te woon nie?
Carmen se suster trou
en dit sal lekker wees om jou daar te hê
as jy sou lus wees vir,
ja, bietjie iets anders doen
laat weet my môreaand.
[André voice note]
Hey, man, sorry
ek’t nie geweet jy’t die bákkie nodig nie …
Laat ek gou hier kyk …
Buiten Spoegwolf het Danie en Chris studeer by die Universiteit Stellenbosch. Albert werk as ‘n kopieskrywer in Kaapstad en Moskou is ‘n bekende chef. Danie skryf die liedjies en die lirieke, Chris is meestal betrokke by die vervaardiging en opnames en die hele band doen saam die musikale verwerkings.
Die groep besit ‘n opname-ateljee waar hulle baie produksiewerk doen. ‘n Groot deel van die opnames word by Sunset Recording Studios buite Stellenbosch gedoen.