
Milan Murray
“Kanalla”; “woelag”; “dydelik”; “atjar” en “poenankies”. Standaardafrikaans? Vir die kinderboekskrywer, Milan Murray, is dit beslis en só het haar idee vir ’n unieke versameling Afrikaanse kinderverhale begin. “Poenankies – ’n versameling kinderstories deur bekendes”, word in September vanjaar in Kaapstad en by die Aardklop Kunstefees op Potchefstroom bekend gestel.
Milan, bekende aktrise, ma en mede-eienaar van die kinderboekmaatskappy Murray & Me, is ’n trotse Weskusser en hierdie kleurryke Afrikaanse woorde was so deel van haar grootwordjare as gebraaide snoek en groen koeldrank.
Sy sê “Poenankies” beteken ‘oulik’ of ‘fraai’ en word sedert 2017 in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls as Standaardafrikaans erken. “Vir my was dit die perfekte titel vir ’n kinderboek.”

Die verhale in “Poenankies – ’n versameling kinderstories deur bekendes”, is almal gemik op ses- tot negejariges en is bedoel vir voorlees. Die bydraers is die akteurs Diaan Lawrenson, Antoinette Louw, Jana Cilliers, Gys de Villiers en Milan Murray; die hip-hopkunstenaar YOMA; rymkletser HemelBesem; die skrywers Nathan Trantraal en Gielie Hoffmann; die sanger Arno Carstens en digter Bibi Slippers. Lauren Nel, Sarlee van den Berg en Marisa du Toit, was as illustreerders betrokke.
Hul bydraes wissel van kort gediggies soos YOMA se “My Ouma doen’it vir my” tot Gys de Villiers se fabel, “Mooiloop”. Arno Carstens raak spiritualiteit aan in sy storie “Gawie se Gesie” en Jana Cilliers se “Nulniks se nulle”, is vol simboliek en kinderlike verwondering.
Antoinette Louw se “Die avonture van Arrie en Lollie”, vertel die verhaal van ’n dogtertjie se middernagtelike reise saam met ’n vriendelike tarantula en Nathan Trantraal se “Waa’s my skoene”, skilder die komiese prentjie van twee susters se wedywering oor wie se lyding nou eintlik die grootste is.
Milan en haar vennoot, Charmaine Nolte, se maatskappy, Murray & Me, poog om elke jaar een Afrikaanse kinderboek uit te bring en “Poenankies” is hulle 2019-projek.
Milan sê: “Poenankies is op sigself ’n treffende en goeie titel, maar die titel sal waarskynlik dadelik kinders en boekbevorderaars in alle sfere van die boekbedryf se aandag trek. Met die betrokkenheid van Afrikaanse bekendes hoop ons om verkope van die Poenankies-kinderboek te bevorder en sodoende lees – en spesifiek lees in Afrikaans – te bevorder.”
Prof. Betsie van der Westhuizen van die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Lettere en Wysbegeerte sê: “Die hele projek is nie net oulik nie, dit is veel meer – die hele onderneming is besonders, buitengewoon, merkwaardig, versiende en in ’n sekere sin uniek in Afrikaans.”
“Die doel van hierdie versameling verhale en gedigte, is die bevorder van lees by kinders, en om die wins aan te wend om ’n bydrae te lewer tot die verspreiding van ’n wye verskeidenheid kinderboeke na gemeenskappe wat nie geredelik toegang tot boeke en biblioteke het nie. Die hoofdoel van die publikasie is om die wins van die boek te gebruik om die Biblio’kies-projek te ondersteun. JOE Biblio’kies is ’n landswye inisiatief deur Just One Earth, Murray & Me en Modern Designs om boeke meer toeganklik te maak vir jong lesers.”
“Charmaine Nolte en Milan Murray is ervare en toegewyde boekmaakgeesdriftiges – tot in die fyn grein van die taal,” sê sy voorts.
Milan sê Murray & Me werk al ’n geruime tyd saam met die maatskappy Just One Earth om biblio’kies / lil’braries te versprei. Sy verduidelik: “’n Biblio’kie is ’n mobiele rak vol boeke, wat aan gemeenskappe geskenk word om boeke te ‘leen’ en te ‘bring’.”
Oor Murray & Me
Milan Murray en Charmaine Nolte het hulle kinderboekmaatskappy, Murray & Me, in 2015 begin.
Murray & Me skep oorspronklike kinderliteratuur in Afrikaans en versprei ook self. Hulle idioomreeks bestaan uit drie titels: “Pieter Kokkewieter en die Hart op sy Mou”; “Hetta Elizabetta en die Wêreld op haar Skouers” en “Kop in die Wolke in Kromkieriefontein”.
Al drie hierdie titels is reeds in hulle derde oplaag. Milan het verlede jaar die Silwerskermfees-toekenning gewen vir beste draaiboek vir die animasie-kortfilm, “Kromkieriefontein”, wat op die gelyknamige prenteboek gegrond is.
Die boek is moontlik gemaak deur die LW Hiemstra Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys.
Vooraf verkope begin!
Beskikbaar teen R180 en gratis aflewering vir die eerste 100 bestellings (aflewering middel September).
Bestel by www.murrayandme.co.za