“Ek het hulde gebring aan mense in Wellington wat my steunpilare was en in my geglo het.” – Marlene le Roux
Dr. Marlene le Roux, sedert 2015 uitvoerende bedryfshoof van Kunstekaap-teater en ’n beskermvrou vir Afrikaans, het op 24 Junie 2019 die gesogte Fair Saturday Foundation-toekenning vir “sosiale transformasie deur kultuur” in Spanje ontvang. Sy is die eerste Suid-Afrikaner en gestremde ontvanger van hierdie toekenning wat in Marlene se woorde soos ’n “sport Laureus vir kuns en kultuur” is. Die prys stel ten doel om maatskaplike inklusiwiteit deur kuns en kultuur te bevorder en volgens die toekenningskomitee is Kunstekaap-teater en Marlene gekies vir die toegewydheid waarmee hulle deur hul wye verskeidenheid en toeganklike programme, noodsaaklike waardes bevorder. Marlene het gesê dat dit ’n eers is om die toekenning “namens gemarginaliseerde individue te ontvang; die stemloses en mense wat met gestremdhede leef, maar steeds sonder die nodige hulpbronne moet klaarkom”.
“Ons menswees is ons wil. Ons wil volle landsburgers wees wat kan bydra tot die ekonomie en sosiale landskap.”
In haar toespraak tydens die geleentheid in die Guggenheim-museum, het Marlene gepraat oor die herstel van medemenslikheid en hoop aan mense deur middel van die kunste na apartheid. Sy het haar seun, Adam George, wat verlede jaar oorlede is, ingesluit in haar toespraak oor die opbou van inklusiewe gemeenskappe. Sê Marlene: “Die boodskap wat ek wil deel is dat gestremde mense die reg het om ’n vol lewe te lei en dat hulle na hul werk, toegang tot hulpbronne en vervoer moet hê.”
“Die jeug is nodig om die organisasie (die ATKV) vorentoe te neem, die werk van die afgelope 89 jaar verder uit te bou en die organisasie se visie vir Suid-Afrika te implementeer.”


Marlene le Roux word geluk gewens met haar eredoktersgraad in onderwys aan die Universiteit van Stellenbosch deur eerwaarde Desmond Tutu en voor die Kunstekaapteater waar sy die meeste tyd deurbring. (Foto’s Netwerk24)
Marlene le Roux is ’n bekende kampvegter vir Afrikaans, kultuur, die jeug en gestremdes en is onlangs verkies tot die direksie van die ATKV-MSW. Marlene se passie is om deur kuns en kultuur uit te reik na die diverse gemeenskappe in die samelewing en “’n platform te skep waar almal kan tuishoort”.
Sy is betrokke by talle organisasies, onder andere as voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, die Desmond en Leah Tutu Legacy Foundation en die Chrysalis Jeugakademie. Sy is ook lid van die Presidensiële Werksgroep oor Gestremdhede. Sy spog met toekennings soos die Commonwealth Point of Light Award, ’n ministeriële toekenning van die Wes-Kaapse provinsiale regering, toekennings van die Afrikaanse Taalraad en die Franse regering (onder andere ’n ridderskap vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste).
Sy is ”n Vrou vir Afrikaans’ en het onlangs deelgeneem aan Afrikaans.com se veldtog: Afrikaans is #onmisbaar
Lees ook
Marlene le Roux – ‘n lewe na polio. Klik hier