Daar is slegs twee episodes oor van die derde seisoen van The Voice SA en die land sit in afwagting om te weet wie hierdie jaar dié gesogte kompetisie gaan wen. Fatman (een van Seisoen Twee se deelnemers) is beslis iemand wat kan getuig hoe hierdie platform ’n lewe kan verander en verklap meer oor sy tweede album, wat nou te koop is.
Fatman, oftewel Johan Brümmer, is gebore om mense te vermaak met sy besonderse stem en komiese persoonlikheid. Daarom het hy sommer uit die staanspoor die harte en ore van musiekliefhebbers en sy afrigter, Kahn Morbee (van The Parlotones), verower met sy blindeoudisie op die tweede seisoen van die M-Net-musiekrealiteitsprogram, The Voice SA, in 2017. Hy het in die Top 5 van die kompetisie geëindig en is ongelooflik dankbaar vir die platform wat hierdie onverwagse geleentheid vir sy loopbaan geskep het.
Sedertdien het die musikant nie net ’n gereelde gesig geword by groot feeste, kuierplekke en funksies regoor die land nie, maar ook verskeie groot radiotreffers vrygestel vanaf sy debuutalbum, Boom Baby. Die titelsnit en die dansnommertjie, Dorp Toe, is reeds groot gunstelinge by partytjies en kuierplekke en kan ook gehoor word tydens sportbyeenkomste soos rugby. Beide liedjies het op die treffersparades van talle groot radiostasies gepronk en kry steeds vandag speeltyd oor die radio. Dorp Toe se musiekvideo is reeds deur meer as 2.7-miljoen kykers op YouTube gekyk en word deur die kunstenaar beskou as een van die groot hoogtepunte van sy loopbaan sover.
Nuut op die rak
Nou is Suid-Afrika se gunsteling-vermaaklikheidster, met sy kenmerkende harderandhoed, terug in die kollig met ’n splinternuwe album en enkelsnit, S.O.S, wat beloof om oud en jonk se stempel van goedkeuring te kry.
Luister hier …
Omdat hy self by elke aspek van die opname en vervaardiging van die album betrokke was, het dit effens langer geneem as die vorige een, maar voel hy baie trots op die eindproduk wat hoofsaaklik saam met vervaardiger en mede-skrywer Werner Beukes geskep is. “Daar is regtig iets van alles op die album, van dieper hartsmusiek tot lekker danstreffers. Ek het nog nooit gehou van iets wat vervelig is nie, daarom geniet ek variasie en skryf ek liedjies soos wat die gevoel en luim my beetpak,” verduidelik hy. “Dit bevat ’n mengsel van nuwe oorspronklike snitte, vorige treffers en my weergawe van ou gunstelinge deur kunstenaars soos Lucas Maree, Gé Korsten en Elvis Presley. Esmarelda is deur Fredi Nest geskryf en die liedjie Jy Is lê my geweldig na aan die hart.”
Buiten vir ’n unieke verwerking van Kurt Darren se treffer, Kaptein, saam met Parlotones-voorsanger, Kahn Morbee, bevat die CD nóg twee ballades wat diep tref. Liedjie Vir Jou, die Jannie du Plessis-treffer, wat hy saam met Caroline-Grace Brüssow van The Voice SA opgeneem het, sal jou hoendervleis gee en lank bybly nadat die laaste note weggesterf het. Sonneblomgesiggie, ’n liedjie wat hy vir sy kinders (Sanrico en Pedri) geskryf het, word ook met soveel gevoel gelewer dat ’n mens dadelik besef dat dit vir hom baie spesiale betekenis het. Al drie hierdie snitte was ook groot gunstelinge op sy vorige album. “Dit is vir my ’n groot hoogtepunt en inspirasie wanneer ek sien hoe mense my musiek geniet en as dit gebeur het ek my doel bereik,” sê die sanger.
Oor die titelsnit, wat reeds baie goed ontvang is, sê hy:
“Hierdie liefdesliedjie gaan oor ’n man wat vir sy geliefde sê: ‘Hier is ek. Hoor my nood, vat my, want ek is joune.’ Dit is altyd vir my fassinerend wanneer twee mense dieselfde oor mekaar voel, maar die een is nie in staat om die liefde voor haar raak te sien nie, omdat sy bang is om uit haar gemaksone te tree. Ek glo dat die publiek by die lied sal aanklank vind, omdat almal al in so ’n situasie was en omdat die lekker ritme en wysie hulle voete sal laat jeuk om te dans.”
Annelien van Basten het meer gaan uitvind oor die man, agter die musiek.
Fatman is in Pretoria gebore en het in Marble Hall grootgeword. Van kleins af, het hy dit geniet om ander te vermaak en was nege toe hy saam met sy pa begin optree het. Hoewel sy pa aanvanklik daarteen gekant was toe hy na matriek ’n musikant wou word, het Fatman hom nie laat onderkry nie en musiek gaan studeer aan die Pretoria Musiek Akademie en Unisa. Hy het in die vroeë 90’s vir sewe jaar lank saam met sanger, Pieter Smith, opgetree, waarna hy en sy vrou die stad verruil het vir die plaaslewe in Bela-Bela om hulle kinders groot te maak.
Waar kom die naam Fatman vandaan?
“Die bynaam, Fatman, het ontstaan toe ek een jaar opgetree het by die Randse Skou en die seremoniemeester – Garth Taylor – die mense uitgedaag het om my op te tel. Toe hy dit self waag, het hy nogal gesukkel. Ek kruip nie in my dop oor my gewig nie. Dit gaan nie oor jou voorkoms nie, maar oor jou persoonlikheid.”
Wat inspireer jou om sekere musiek te skryf en te sing?
“Ek dink dis maar die dinge wat vir my mooi is en my hart laat klop… die lewe en al sy dinge. Ek sal nooit enige negatiewe lied kan skryf of sing nie.”
As jy enige ander beroep moes kies, wat sou dit wees en hoekom?
“Ek sou graag ’n omroeper of ’n pandjieswinkeleienaar wou wees. Ek is mal daaroor om in pandjieswinkels en China Mall rond te snuffel en geniet dit baie om te gesels.”
Van watter tipe musiek hou jy en watter kunstenaars se werk het sover ’n invloed gehad op jou eie musiekstyl?
“My gunstelingmusiek is Southern Hymns van Amerika en tradisionele Country en ek werk ietsie van alles in my eie liedjies in. My pa het my blootgestel aan ou musiek, soos Tom Jones, Engelbert Humperdinck, Bles Bridges en Charlie Pride en Elvis Presley. Laasgenoemde was vir my ’n voorbeeld van ’n ware showman.”
Som jou stem en styl in een sin op?
“’n Groot vol stem met gevoel, geluk en dans.”
Wat het die musiekbedryf jou die afgelope paar jaar geleer?
“Sukses gaan oor 20% talent en 80% harde werk.”
Fatman glo dat jy nooit te oud is om enigiets te doen nie en dat jy die lewe ten volle moet geniet en daarom het hy nog baie drome en planne vir die toekoms, maar vir nou beplan hy eers om die land plat te toer om sy nuwe musiek te bemark en deel te wees van die Fame Superhero Show. Hy sou ook nog graag saam met mede-Bulondersteuner, Steve Hofmeyr, wou werk in die toekoms.
Bestel nou sy nuwe album, S.O.S, op Apple Music en kry die enkelsnit dadelik: https://fatman.lnk.to/SOSFP/applemusic
VOLG HOM OP
Twitter: @fatman_brummer
Facebook: @fatmanfanpage
Instagram: @fatmanbrummer
Webblad: https://fatman.co.za
VIR BESPREKINGS: