
Inskrywings is nou oop vir nuwe oorspronklike draaiboek-idees. Lê daar iewers op jou rekenaar ’n draaiboek wat jy glo ’n speelfilm kan word? Het jy al lank ’n idee vir ’n fliek waarvoor mense na teaters toe sal stroom? Nou is jou kans. kykNET en M-Net is op soek na ’n oorspronklike speelfilm-draaiboek. Daar is geen voorskrifte ten opsigte van die genre nie. Dit moet slegs ’n oorspronklike Afrikaanse storie wees met die oog daarop om moontlik by ’n volgende Silwerskermfees te skitter.
Alle skrywers ouer as 18 kan inskryf en beoordeling word deur ’n paneel van kenners vanuit die industrie gedoen. Slegs een inskrywing/draaiboek per skrywer sal aanvaar word.
“Die kompetisie dien as die vertrekpunt vir die 9de kykNET Silwerskermfees waar die ontwikkeling van talent nog altyd die prioritiet was. Elke jaar bring die fees gevestigde rolspelers en nuwe talent byeen. Met hierdie kompetisie wil ons die skrywers uitlig en ’n platform bied om werk ten toon te stel,” sê Karen Meiring (M-Net: Direkteur kykNET-kanale).
Inskrywings moet ingedien word op die kykNET voorlegginsportaal deur op Draaiboeksoek te klik. Die reëls en riglyne is ook op die portaal uiteengesit.
Die drie suksesvolle draaiboekskrywers sal elk ’n eenmalige bedrag van R20 000 vir hulle wen-voorleggings ontvang. Drie draaiboeke sal vir verdere ontwikkeling gekies word. Enige draaiboekontwikkeling is onderhewig aan kykNET se goedkeuring en sal ’n skrywerskamerproses deurgaan.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is om 17:00 op 5 Julie 2019. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.