My Afrikaans is ’n digitale- uitgewer en multimedia-inhouddiensverlener wat fokus op die internasionale Afrikaanse lesersmark, laer profiel skrywers en klein projekte van gevestigde skrywers. My Afrikaans bied hulp met die volgende:
- Advies oor hoe om jou e-boek te publiseer.
- Die verwerking van die manuskrip in e-boekformate soos ePub of mobi.
- Ontwerp van die buiteblad van die e-boek.
- Om ’n ISBN-nommer te verkry.
- Om jou eie professionele webwerf te besit.
- Bemarking van die e-boeke.
Nuut op die rak …
Ontvangers van UJ-prys vir letterkunde se boeke nou ook as e-boeke beskikbaar
Charl-Pierre Naudé se roman is met die UJ-prys vereer
“Ná die skryf van hierdie storie, dink ek, weet ek minder van die wêreld, maar het ek meer gesien daarvan, en het ek minder oortuigings, maar glo ek, soort van, in meer.” Charl-Pierre Naudé se repliek by die ontvangs van die 2019 UJ-prys vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.
Frederick J Botha skryf die volgende in sy commendatio op Litnet oor Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey – ’n roman deur Charl-Pierre Naudé wat met die UJ-prys vereer is:
“Sedert sy debuut in 1995 met Die nomadiese oomblik het Charl-Pierre Naudé hom hoofsaaklik as bekroonde digter gevestig. Vir sy debuut ontvang hy in 1997 die Ingrid Jonkerprys, en sy tweede digbundel, In die geheim van die dag (2004), word in 2005 met die M-Net- sowel as die Protea-prys vir Afrikaanse poësie bekroon. In 2015 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Letterkunde-toekenning vir sy derde digbundel, Al die lieflike dade (2014). As samesteller is Naudé verantwoordelik vir die versamelbundels My ousie is ’n blom in 2005, en Nuwe stemme 6 in 2017 met Bibi Slippers as medesamesteller. Benewens sy optredes by ’n menigte internasionale poësiefeeste het hy ook al aan verskeie skrywersresidensieprogramme deelgeneem, wat veral sy Europese status as gesogte Suid-Afrikaanse digter bevestig (SALA 2019).
“By hierdie lys van prestasies moet Naudé se aansien as vryskutjoernalis, rubriekskrywer en resensent ook natuurlik bygevoeg word. In 2018 sorg Naudé egter vir die grootste verrassing – en moontlik prestasie – van sy skrywersloopbaan tot op hede wanneer hy as prosaskrywer debuteer met ’n lywige roman wat hy as ’n “para-psigologiese mystery story” (Naudé en Meyer 2018) beskryf. Hierdie roman is in 2016 voorgelê vir Naudé se meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat onder leiding van Francois Smith (Opperman 2018).
“Die UJ-prys onderskei homself van ander Afrikaanse literêre pryse deurdat dit jaarliks uitnemendheid oor die grense van genre heen beloon. Dat Naudé se debuutroman hierdie jaar met die UJ-prys bekroon word, is gepas, aangesien die roman self oor verskeie genres heen beweeg en, ten spyte van Naudé se bogenoemde definisie, nie maklik is om te tipeer nie. Elemente van die liefdes- en speurverhaal, magiese realisme, satire, geskiedskrywing, metafiksie en spekulatiewe wetenskap word alles saam en aan die hand van ewewêrelde as tema verken, met die eindproduk só vernuwend en verrassend in Afrikaans dat dit die bekroning met die UJ-prys regverdig.”
Lees die volledige commendatio deur Frederick J Botha hier
Andries Buys (skrywersnaam Lodewyk G du Plessis) ontvang die UJ-prys in Mei 2019 (Foto: Netwerk24)
“Die bekroning van my boek met die UJ-debuutprys het dit vir my dubbel en dwars die moeite werd gemaak om ná 16 jaar vanaand vir die eerste maal weer in die openbaar op te tree.” – Andries Buys (skrywersnaam Lodewyk G du Plessis) by ontvangs van die UJ-prys in Mei 2019
Die skrywer oor sy roman tydens die ontvangs van die prys:
“In my 81ste lewensjaar staan ek vanaand hier voor u in verwondering. In verwondering oor die Afrikaanse taal, oor die onmeetbare hoogtes wat dié taal bereik het in die letterkunde, die digkuns, die akademie en die beroepswêreld. Ek het die voorreg gehad om in dié taal gebore en groot te word, skool en universiteit toe te gaan. In my praktyk as advokaat die taal te gebruik en uiteindelik as regter my uitsprake daarin te skryf en te lewer. Ek is in ’n staat van verwondering dat die keurpaneel in ’n jaar waarin daar uitsonderlike boeke in Afrikaans die lig gesien het, my boek met die gesaghebbende UJ-debuutprys bekroon het. Verwondering, onbegrip, dankbaarheid.
“Wie is ek? Die skuilnaam se tyd is verby. Dit sou oneerbiedig en ondankbaar teenoor die keurpaneel en die Universiteit van Johannesburg wees om nié vanaand hier te staan nie.
“Voor ek met die skrywery begin het, het ek gereken dit gaan wees soos om met dolosse te speel of vir Sannie Coetsee te leer kleiosse maak. Toe ek agter my rekenaar sit, het die gestoei begin om woorde in sinne hok te slaan, en sinne soos ’n span langhoring-Afrikanerosse ingespan te kry. Toe het die gedagte nie eers vaagweg in my kop opgekom dat my span osse op die skou met ’n prys gaan wegstap en ek huis toe sal gaan met ’n roset op my bors nie. Ná die aankondiging dat my boek met die UJ-debuutprys bekroon is, is die kalwers uit die hok, die bul het oor die heining gespring tussen die verse in en die osse staan verslae.
“Die skuilnaam? My pa se voorname en my ma se van. Die mediamense wou weet: Waarom die skuilnaam? Ek antwoord. Wat’s in ’n naam? Dis die vraag. Lodewyk G du Plessis alias Andries Buys en Daniël Jacobus van der Walt, ons twee … drie … dra swaar aan ons name: Daantjie, Danie, Daan, Advokaat van der Walt, Klei’baas, Ou Daan, die Vark van Ystervarkfontein. U weet nou presies wie Daan is, of nie is nie.
“Ek swem nog altyd stroomop, my geld nog altyd op die buiteperd. Die goue reël by die skep van literêre fiksie, het ek geleer, is: Alle idees moet storie word. Geen idee word aangeplak nie. Wat doen ek? Ek probeer in my boek van stories ’n idee maak.
“Daan se verhaal is jare gelede gebore in my tandarts se wagkamer waar ek ’n ou oom se brief aan ’n tydskrif se troostante gelees het. Hy vertel dat hy ná ’n aandjie uit saam met sy vriendin by haar in haar woonstel gaan koffie drink het. Toe hy uit die latrine kom, sit sy nakend op die rusbank. Wat, vra hy die troostante, wat is fout met die vrou? Dieselfde aand by ’n geselligheid vertel ek dié storie vir die manne om die braaivleisvuur. Een van hulle sê: Hoe dan so? ’n Man is mos nie ’n klip nie.
“Hoe langer ek daarna oor die komiese in die ou man se probleem gedink het, hoe meer het ek die tragiese kant daarvan begin insien. Was die ou man gay, en/of is daar dalk iets fundamenteels verkeerd met die samelewing se opvatting oor die seksdaad?
“Ek het ophou tel hoeveel maal ek die boek oorgeskryf het. Veral daardie eerste hoofstuk. Veral daardie eerste drie sinne en daardie laaste een aan die einde van die boek. Vra Laozi en hy sal sekerlik sê: maklik 10 000 keer.
“Ná al die oorskrywery het ek, die debuutskrywer, myself afgevra: Is alles wat ons skryf nie maar net eggo’s van stories wat ons vroeër gehoor en oor gedroom het nie?
“In sy laaste brief aan Magrieta skryf Daan dat hoe ouer hy word, hoe makliker huil hy. ’n Goedgeskrewe sin beweeg hom tot trane. Oor ’n herfsblaar op die grond huil hy skaamteloos.”
Lees Andries Buys se volledige repliek hier
Lees verder …
My Afrikaans se webtuiste: Kyk hier
Lees meer oor hoe om self e-boeke te publiseer hier
Top Afrikaanse e-boeke vir 2018. Klik hier
Lees meer oor Charl-Pierre Naude se UJ-prys hier
Lees ook Amanda Lourens se commendatio op Litnet oor Die Dao van Daan van der Walt. Klik hier
Ook in e-boekformaat: