Romario Fabiano Cloete is tans ’n honneursstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland en ’n Afrikaans-tutor wat onlangs in ’n meningsartikel vir LitNET skryf oor hoe Afrikaans, wat eers vir hom ’n “ingewikkelde kwessie” was, kon tuiskom in sy eie mond.
“‘Hou op so plat praat!’ Elke keer wanneer ek net gemaklik geword het om my Namakwa-Afrikaans te praat, was dít wat ek moes aanhoor.”
Wat dit beteken het, het ek nie geweet nie. Ek het my manier van praat begin verander.
Afrikaans het vir my ’n ingewikkelde kwessie geword. Daai tyd toe het ek mos nog nie geweet dat daar klompies maniere van Afrikaans praat was nie. Al wat ek geweet het, is dat ek hom mosda nou nie reg gepraat het nie. In die hoërskool op Nababeep was ek bang vir mondeling in Afrikaans. Ek praat te plat, het ek gedink.
“Daarom is ek, ’n honneursstudent aan die UWK waar ek met my ‘plat’ Afrikaans ’n tuiste gekry het, gemotiveerd om ander Afrikaanssprekers te help om hul skaamte oor hul praatwyses en soorte Afrikaans te oorkom.”
Praat harder, het die mense gesê. Moenie so binnemonds praat nie. Ek het dieper in my taaldop ingekruip, behoorlik xhouboe as ek die taal moes praat. Ek wou selfs Engels begin praat, al het dit óók nie so lekker geklink nie.
Maar hier diep binne my het ek my Afrikaans bly praat. Ek het in Afrikaanse boeke in gevlug. In my kop kon ek hom lees soos ek hom praat. Plat. En glads nie binnemonds nie.
Toe kom ek universiteit toe, na die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe. Hier sal ek nie hoef om Afrikaans te praat nie. Elke dag Engels – die lesings, gesprekke met dosente, studente, nuwe vriende. Nou vir ’n Namakwalander om Engels as sy taal te oorweeg, klink skoon onnosel. Ek het mosda nie baie blootstelling aan Engels gekry nie. Maar as die mense op ons Radio Nfm darem Engels kan praat, sal ek dit seker ook so kan doen, het ek gedink.
Maar was ek dan toe nou verkeerd!
Lees verder op LitNET hoe die ander maniere van Afrikaans praat ‘n oomblik geword het van tuiskoms en hoe dit vir hom ‘’n motivering geword het om ander Afrikaanspraters trots te maak op wie hulle is en waar hulle vandaan kom.
Lees die volledige meningsartikel hier.
Lees ook
Afrikaans in die mond van sy mense: ‘n Reeks oor die variante van Afrikaans. Klik hier.