Langeberg Sekondêr se leerders styg uit!
“Langeberg Sekondêr … julle is ONBEWEEGLIK!” – Pasella-aanbieder en rymkletser, Oxijin
Met ‘n volgepakte skoolsaal van meer as 1 700 leerders, personeel en gaste het Afrikaans.com die voorreg gehad om op 17 Mei 2019 ‘n muuronthullingsgeleentheid mee te maak wat nog vir baie lank by Langeberg Sekondêr onthou sal word. Die skool spog trots met hul eie digters, rymkletsers en vele ander talente en saam met die rymkletser Oxijin het hulle gesorg vir vermaak uit die boonste rakke.
Die gasspreker, mnr. Jupeter Smith van die Langeberg Alumni-fonds en oudleerder van die skool, het die leerders vertel van sy lewenspad en sukses. Die Langeberg Alumni-fonds is gestig deur oudleerders van Langeberg Sekondêr om meer geleenthede vir die leerders te skep en hulle te help en ondersteun om hul drome te bereik.

Yolanda Abrahams in graad 9 se moedertaal gee haar vlerke om te kan droom. Zaheer Visser se drome is nou nog groter as ooit tevore!
Courtney Matroos, hoofdogter by die skool, se woorde getuig van iemand wat in haar eie vermoëns glo en dien as aansporing vir ander leerders: “Dis belangrik dat ek eerstens in my eie droom glo en my nie steur aan wat ander mense glo nie …”
“Dat ons leerders onder moeilike omstandighede grootword, maak dit vir hulle moeilik om in hul drome te glo. Die muurkunswerk herinner hulle daaraan om deur hulle taal aan hul drome vlerke te gee sodat hulle kan uitstyg bo hulle omstandighede om die wêreld en sy moontlikhede te kan raaksien.” – René Arendse, Afrikaans.com: Gemeenskapskoördineerder
Ons sien uit na vele suksesstories vanuit die gemeenskap van Robertson. Afrikaans.com is trots om Langeberg Sekondêr by die Afrikaans.com-familie te verwelkom!
Die geleentheid is ook bygewoon deur die Robertson-SAP, Kindersorg SA – Robertson en plaaslike raadslid, me. Paula Hess.
Tydens die onthulling van Langeberg Sekondêr se Afrikaans.com-muurkuns – dit was ‘n onvergeetlike dag! Mnr. Isaac Antonie van Langeberg Sekondêr was die programdirekteur tydens die onthulling. Van links na regs – Mnr. Isaac Antonie, René Arendse, mnr. Pendel Hull (waarnemende skoolhoof) en mnr. Jupeter Smith. Die leerders van Langeberg Sekondêr is in ekstase oor hul Afrikaans.com-muurkunswerk. Spesiale gaste en leiers vanuit die gemeenskap van Robertson het die geleentheid bygewoon.
ATKV-Kopskuifprojek
Afrikaans.com ondersteun die ATKV-Kopskuifprojek en die muurkunsonthulling was die perfekte geleentheid om dié projek van die ATKV wat vanaf 21 tot 23 Mei by Langeberg Sekondêr aangebied is, vlerke te gee en bewusmaking te skep.
Meer oor ATKV-Kopskuif
Die ATKV-Kopskuifprogram het ten doel om gehalteonderwys te ondersteun in skole van oorheersend histories benadeelde, diverse Afrikaanse skoolgemeenskappe, om gesonde Afrikaanse netwerke te vestig en uit te brei en om skoolgemeenskappe met lewensvaardighede te bemagtig. Elke program is uniek en word volgens die streek se behoeftes en begroting ontwerp.
Laerskool Dagbreek in Robertson ontvang hul Afrikaanse muur op 17 Mei 2019
Robertson se Laerskool Dagbreek is ’n baken van hoop waar leerders groot droom!
“Om kinders aan te moedig om te droom en doelwitte vir hulself te stel is so belangrik … en die muur gee stukrag. Hierdie muur sal kinders aanhou inspireer en dien as ’n baken wat leerders, opvoeders en die gemeenskap sal aanmoedig en waarmee ons ons drome kan assosieer.’ – Neville Padiachy (Skoolhoof: Laerskool Dagbreek).
Die muuronthulling by Laerskool Dagbreek het Vrydagoggend,17 Mei 2019, die dorpenaars byeengebring en die groot gehoor was weer ‘n bewys dat Afrikaans deel is van die uniekheid van hierdie dorp en dat taal gemeenskappe saamsnoer. Die pragtige dorp, Robertson, spog nie net met sy lekker wyne en heerlike kosplekke nie, maar ook ’n gemeenskap waar Afrikaans nog sterk deur hul are vloei!

Afrikaans.com-muurprojekte verander die lewens van gemeenskappe. Die positiewe reaksie en spontane deelname van die leerlinge en personeel by Laerskool Dagbreek bevestig dat hierdie projek gemeenskappe opnuut bewus maak van die eindelose moontlikhede waarna hulle kan streef. En die feit dat hulle dit deur hul moedertaal – Afrikaans – kan bereik. – Milanie Vosloo (Afrikaans.com: Projekbestuurder)
Mnr. Bernard Cupido (Kindersorg, Robertson) lewer sy motiveringsboodskap tydens die muuronthulling. Groot opwinding tydens die muuronthulling by Laerskool Dagbreek.
“Die pragtige muurkunswerk staan uit as ’n pilaar van hoop en herinner leerders dat hulle deur harde werk en selftrots hul drome kan waar maak. Ons Afrikaanse muur skep ’n spesiale visuele indruk wat leerders sal bybly en bring die boodskap tuis: Gee jou drome vlerke in en deur jou taal.” Lourenda Augustyn (Departementshoof: Grondslagfase).
Rumarques Gelderbloem, beter bekend as rymkletser Oxijin, het die gehoor betower met sy kragtige boodskap van hoop en die krag wat lê in jou identiteit.
Mnr. Jupeter Smith van die Langeberg Alumni-fonds sowel as mnr. Bernard Cupido van Kindersorg SA (Robertson) het as gassprekers opgetree. Hul boodskap aan die leerders was om te glo in hulself, om hard te werk en om hul taal te gebruik om hul drome na te jaag. Baie klem is geplaas op die waarde van lees en leerders is aangemoedig om hul leefwêreld te verryk en te verbreed.
Hierdie dag sal vir baie lank in die harte van die leerders, onderwysers en die gemeenskap van Robertson lééf! “Elke muuronthulling gee my hoop vir die toekoms van ons taal.” – René Arendse (Afrikaans.com: Gemeenskapskoördineerder).
Die transformasie van die muur by Laerskool Dagbreek. Juffrou Lourenda Augustyn was die programdirekteur tydens die muuronthulling. Mnr. Jupeter Smith van die Langeberg Alumni-fonds was een van die gassprekers tydens die muuronthulling. Oxijin staan trots saam met Laerskool Dagbreek se eie rymkletsers. Van links na regs: Oxijin, mnr. Neville Padiachy (skoolhoof), René Arendse, Milanie Vosloo (Afrikaans.com: Projekbestuurder), Bernard Cupido en Jupeter Smith.