Afrikaans.com nooi jou uit om deel van ons blogger-gemeenskap te word. Ons plaas elke week die WEN-blog en wil graag jou skryfkuns voorstel aan ons lesers. Stuur jou blog aan myafrikaans@afrikaans.com. Vertel ons so ’n bietjie meer van jouself en stuur vir ons ’n foto of ’n prentjie wat jou blog illustreer.
Baie geluk aan Molly Bester (skuilnaam).
Ek het myself nog nooit ‘n blogger genoem nie, maar gebruik nog altyd skryfkuns as ‘n uitlating. Met ander woorde, ek herdink die mees traumatiese gebeure in my lewe en vervorm dit tot iets wat ek dink my ouma voor sal kan lag. As ek wel my skryfstukke ‘n versamelnaam moes gee, sou ek kyk na iets soos: “Word ‘n veearts, het hulle gesê . . .”
Ek is ‘n veearts van beroep (verrassing!), en uit die aard van die saak, veroorsaak my beroep baie emosionele trauma. Ek verkies dus om onder my nooiensvan te skryf, sodat Snippie se eienaar nie dalk snuf in die neus kry en uitstorm in die middel van Snippie se “jou-hondjie-moet-dalk-minder-kossies-kry”-gesprek nie.
Praat jy Hond of Afrikaans?

Ek werk op ’n keer saam met ’n middeljarige dermatoloog, dokter Hardy. Sy kliënte volg ’n streng patroon. Maandag was dit ’n Engelse Boelhond, Woensdag ’n Persiese kat en Donderdag ’n Yorkshire-terrier met strikkies in die hare, maar die eienaar (hoewel sy elke keer op ’n ander ván aangespreek word) is konstant dieselfde persoon: Daardie ryk tannie met blonde (of Rihanna-rooi) hare, parfuum wat soos iets tussen ’n lekkergoedwinkel en blommeskou ruik, meer make-up as ’n meisie op haar matriekafskeid en baie armbande, maar geen trouring nie!
Die vlakke van flankering in die konsultasiekamer wissel. Party is konserwatief en sal net baie seker maak die dokter verstaan dat hulle hom ten volle vertrou: “Net wat jy sê, dok”, “Ek het ook gedink dit sal die beste wees, dok.”
Jy het “ook” nie geweet dis ’n opsie nie, Einstein!
Ander is al te desperaat vir subtiel wees en kom sommer met die boks chocolates en bottel wyn in die massiewe leerhandsak daar aan! En deur alles staan die hoogs professionele dokter daar sonder om af te wyk van die onderwerp of oogkontak langer as drie en ’n half sekondes te maak.
Flankeer en geskenke is egter maar net die eerste vlak van strategie. Dis Ella se agtste besoek aan die kliniek hierdie jaar! Ek gaan verder terug op die sisteem en kom af op Hydro-therapy-afsprake wat meer as vier jaar terug dateer, blykbaar om Ellatjie se gewig in toom te hou na haar knieprobleme. Die beste van alles is, Ellatjie het vier kilogram opgetel sedert haar hydro therapy begin het!
Dr. Hardy het sy velsmere, onder die mikroskoop ondersoek en tot ’n gevolgtrekking gekom. Ella het nie velparasiete wat die jeukery veroorsaak nie. Dus is die probleem waarskynlik allergie verwant. Ons gaan terug in die bedompige potpourrie-spookasem walm in – hy gewapen met ’n stuk papier en ’n pen, en ek met Ellatjie in haar stootwa. Die klingelende arms gryp vir Ellatjie uit die wa, en begin haar vra of dit seer was, en of sy ’n groot nooi was. Ellatjie antwoord nie.
Ja, Ellatjie is ’n groot nooi! Vier kilogram groter as voor haar hydro therapy!
Dr Hardy wag ’n oomblik dat die vrou se stemtoon daal en sy weer van Hond na Afrikaans oorslaan. Dan vra hy dat sy vir Ellatjie neersit en oplet. Ek sien hoe haar waserige kyk skielik bietjie verstrak. Maar sy kry haar lyftaal vinnig weer inlyn, skud die yl gedyede stukkie hare oor haar skouer en spasieer haar hande wyd op die tafel. Dr. Hardy is klaar besig om diagramme op die papier te teken, en merk nie eers die pose op nie. Hy verduidelik dat hy al die ander opsies uitgeskakel het en hoekom dit net ’n allergie kan wees. Dan begin hy verduidelik dat Ellatjie op ’n spesiale dieet moet gaan om vas te stel of haar allergie vir proteïene in haar kos is of vir eksterne faktore, soos stuifmeel of gras.
Of baie sterk parfuum…
“Sy mag vir agt weke NET hierdie kos kry, niks anders nie! Geen bederfies aan tafel nie. Geen skottelgoed aflek nie. Geen ….” Spookasem-potpourrie se oë raak al hoe groter soos die lys langer word.
“En haar Breath Freshener-druppeltjies?” probeer die vroutjie optimisties, maar dr Hardy laat nie eers spasie vir ’n asemteug nie:
“Dit gaan moet stop!”
Sy lyk half verward, geskeur tussen flankeer en verdedig. Dr Hardy sluit die konsultasie af en vra dat sy oor agt weke weer inkom vir die opvolg. Ek sien ’n effense opheldering agter die maskara-klonte. Sy begin hom bedank dat hy ’n gaatjie gemaak het vir haar (waarvoor sy ’n nier moes verkoop, soos enige ander kliënt!), maar hy groet vlugtig en verdaag. Die vrou se hele houding verander. Sy herstel van die pose en vra kortaf watter medisyne sy nou wanneer moet gee. Ek herhaal alles wat die dokter sopas gesê het. Daarmee gryp sy Ellatjie se stootwa en verskoon haarself.
Nog ’n R800-konsultasie vir niks. Nog ’n bottel duur wyn en ’n boks Belgiese chocolates. Nog ’n laataand se oplees om ’n nuwe kondisie vir Ellatjie uit te dink, en dit alles verniet! Ten minste het sy haar opvolg oor agt weke, en Ellatjie se Hydro-sessie einde van die maand!