Daar word daagliks nuwe lewe in Afrikaans geblaas deur die groot aantal Instagram-blaaie wat die taal ondersteun. Ons gee jou ’n kykie na van ons gunstelinge.
Sommige van die skeppers verkies om onder die radar te bly… maar Afrikaans.com het hulle opgespoor en gevra wat jy weet!

Losmynoedelsuit
Instagram: @losmynoedelsuit
Facebook: @losmynoedelsuit
Wie agter hierdie skreeusnaakse blad sit, sal altyd ’n geheim bly, maar een ding is seker: Losmynoedelsuit hou daagliks die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf op hul tone.
Maar wat is die storie agter dié interessante naam? Schalk Bezuidenhout het in Oktober 2018 blonde hare gehad – mense het geskerts daaroor, waarna hy mense gevra het om op te hou verwys na sy hare as “2 Minute Noodles”. Vandaar die blad se titel, Los My Noedels Uit!
Hulle het ’n anonieme blad geskep met die doel om, net vir die pret, dalk sy aandag te trek. Daar was egter een probleem: toe hulle met die grappe begin, kon hulle nie ophou nie. Dit het vertak tot grappe oor ander kunstenaars, vereenselwigbare staaltjies oor teater en uiteindelik ’n ruimte vir allerhande kultuurkommentaar.
Die skeppers van die blad sê hulle het juis Afrikaans gekies omdat dit soveel vermaak kan verskaf. “’Baby Tjoklits’ het nie heeltemal sin gemaak in 2010 nie,” sê hulle. “In 2019 maak dit nog steeds nie sin nie, maar jy sal dié treffer nie by ’n sokkie mis nie. Patricia Lewis se “hair flips” is ikonies en jy sal moeilik iemand vind wat nie die ou 7de Laan-deuntjie ken nie. Hierdie Afrikaanse vermaak word deel van jou lewe, ongeag jou belangstelling daarin.”
Tuindwergie
Instagram: @tuindwergie._
Twitter: @tuindwergie_
Wat in 2015 op Twitter begin het as ’n uitlaatklep vir ’n gebroke verhouding, het vinnig gegroei tot ’n Instagram-blad wat vandag op nagenoeg 20 000 volgelinge staan.
Die skepper van die blad (wat graag anoniem wil bly) het aanvanklik begin skryf om sy eie emosies neer te pen, maar dié Instagram-blad het vinnig ’n platform geword waar mense inspirasie kry om sélf die pen op te tel. Die eerlikheid en rouheid van die liefdesverse wat hy deel, bring ook talle uitdagings mee. Volgens die blad se skepper, is die grootste uitdaging om konstant te bly en daagliks plasings te maak.
Letterling:
Instagram: @letter.ling
Facebook: @letterling
Nie net is hy ’n ambassadeur vir Afrikaans nie; maar Sybrand Harris is ook ’n kranige skrywer en gebruik sy Instagram-blad, Letterling, om uiting aan hierdie talent te gee. Sy blad bevat ’n samestelling van selfgeskrewe gedigte, gedigte van ander, aanhalings uit Afrikaanse boeke en liedjies.
Die idee vir die blad het drie jaar terug ontstaan nadat hy ’n leemte in Afrikaanse sosiale media identifiseer het vir letterkunde waarmee mense kan vereenselwig. Hy het Letterling begin met die doel om Afrikaans en die kuns wat in Afrikaans geskep word, te deel en ’n bewustheid te skep dat daar nog plek vir Afrikaans op sosiale media is. Sy beskrywing van die blad is eenvoudig: Dis Afrikaans déúr ’n jongmens vír ’n jongmens.
Lagmydood:
Instagram: @lagmydood
Die idee vir die Lagmydood-bladsy het gekom nadat Daan de Swardt besef het hoe ernstig die wêreld se mense is. Hy het vinnig gesien dat daar ‘n nood is vir die klein dinge in die lewe wat mens laat lag. Vandag is lagmydood ’n skreeusnaakse platform vir Afrikaanse memes wat die spot dryf met alledaagse trivia.
Hy sê daar is talle uitdagings verbonde aan so ’n blad. “Die uitdaging is om oorspronklik te wees en te bly. Die eerste reël is dat dít wat jy plaas jou moet laat lag. As dit nie gebeur nie, het jy nie geslaag nie.”
FLINK.SA:
Volgers: 4713
Instagram: @flink.sa
Facebookblad: @flink.sa
Webtuiste: https://flinkclothing.co.za/
Alhoewel ontwerp altyd ’n groot passie vir Karla Swanepoel was, het haar droom uiteindelik in begin 2018 ’n realiteit geword toe sy haar eie besigheid van die grond af gebring het. Met haar Afrikaanse T-hempreeks, deel sy haar liefde vir Afrikaans met die wêreld.
Die T-hemde, met lekker Afrikaanse woorde soos “Oogappel”, “Koekeloer”, “Liplekker” en “Sonvanger”, word op ’n stylvolle en kreatiewe manier op haar Instagram-bladsy uitgebeeld en lok talle mense wat ’n stukkie van dié gesogte materiaal wil aanskaf.
Vannie Kaap:
Instagram: @vannie.kaap
Twitter: @vannie.kaap
Facebook: @vanniekaap.co.za
Vannie Kaap het Instagram met ’n storm getref en vandag is dit een van die grootste Afrikaanse platforms met nagenoeg 110 000 volgelinge. Dis eerlik en reguit. Hul sêgoed in Kaaps Afrikaans sorg vir groot vermaak vir jonk en oud en skep ’n platform waarop mense hul liefde vir die taal kan uitleef.
Vannie Kaap leef egter nie net op Instagram nie. Dit het ook vertak na Facebook en het selfs ’n aanlyn winkel waar verskeie produkte gekoop kan word. Dit wissel van T-hemde en pette, tot koppies – alles met sêgoed in Kaaps Afrikaans daarop.