Vakkeuse bepaal jou kind se toekoms
Graad 10 is ’n belangrike jaar, want dit is wanneer leerders (en hul ouers) moet skoolvakke kies. ’n Besluit wat die leerder se loopbaankeuse en toekoms kan beïnvloed. Maar hoe gemaak as die kind nog nie eers seker is wat hy/sy eendag wil doen nie? Hoe kies ’n mens die regte vakke? En is wiskunde regtig so belangrik? Moenie paniekerig raak nie – daar is baie geleenthede en hulp daarbuite.
Huisgenoot.com se Janine Nel gee die volgende wenke wanneer dit kom by vakkeuse:
- Bepaal waarin die kind uitblink, m.a.w. wat is die kind se sterkpunte.
- Kyk na vorige prestasie om hul vaardighede, toewyding en entoesiasme te beoordeel.
- Moenie ‘n vak kies omdat die kind se beste maat die vak gekies het nie – besweer jou kind se vrees vir verandering.
- Beplan noukeurig en vooruit, m.a.w. vakkeuses moet ’n wye speling hê sodat hul latere keuses t.o.v. opleiding en ’n loopbaan, nie beperk is nie.
- Gaan klop om hulp aan by ’n kundige, bv. ’n onderwyser of loopbaanadviseur.
Is Wiskunde regtig nodig?
Wiskunde is belangrik, want dit verbeter kritiese denke. Omdat dit moeilik is om te bemeester, gee dit die leerder ook vaardighede wat later op tersiêre vlak goed te pas kom. Laastens maak wiskunde deure oop tot ’n groter verskeidenheid studierigtings en loopbane.
Dit is egter waar dat nie almal ’n aanleg vir syfers het nie. Derhalwe kan leerders kies tussen Wiskundige Geletterdheid en Kernwiskunde.
Kernwiskunde is nodig as jou kind onder andere ‘n rekeningkundige, ingenieur, aktuaris of dokter wil word.
Wiskundige Geletterdheid fokus weer op basiese wiskunde, m.a.w. dit rus jou kind toe vir die alledaagse lewe en is nommerpas vir die kind wat ’n beroep in die sosiale en lewenswetenskappe (soos BA Regte, BA Opvoedkunde) wil volg.
Vermy so teleurstelling
Watter vakke leerders ook al kies, leerders en ouers moet seker maak dat hulle in graad 9 reeds die regte studierigtings kies en wanneer dit by die groot besluit vir graad 10-vakkeuse kom, moet hulle baie seker maak dat hul vakkeuses met die toelatingsvereistes van die studierigtings waarin hul belangstel, ooreenstem. Dit sal verseker dat die leerder nie na matriek met ’n tweede keuse tevrede hoef te wees omdat hy/sy nie seker gemaak het van al die feite nie05
Lees meer:
- Die UP-gids dui aan watter stappe om te volg om die regte vakkeuses te maak.
- Lees hier hoekom jy wiskunde as vak moet neem.
- Dis nie nodig om jou kind die skrik op die lyf te jaag oor wiskunde nie. Lees hier.
- Wiskunde-wenke.
- Oor die waarde van Wiskundige Geletterdheid is daar heelwat debat. Lees gerus hier.
- Lees hier hoekom graad 9-vakkeuses verreikende gevolge kan hê.
- Kry ook loopbaanhulp by die Universiteit van Stellenbosch.
- Noordwes-Universiteit se loopbaansentrum het ook raad.