Daar is nou ’n Twitter-rekening wat ten doel het om nuwe lewe in die moedertaalkwessie te blaas en die profiel van Afrikatale en -kulture aanlyn te verhoog. Dit is ’n inisiatief deur taalaktiviste wat wil seker maak inheemse tale behou ‘n volwaardige plek in ons taallandskap. En watter beter manier as digitale media om veral ons jong mense – die nuwe generasie moedertaalsprekers – te bereik en hulle weer opgewonde oor hulle taal en kultuur te maak. Afrikaans.com som dit kortliks op.
Hierdie nuwe Twitter-rekening word bestuur deur taalaktiviste en beklemtoon die rol wat die tegnologie en die internet kan speel in die bevordering en herlewing van tale op die vasteland van Afrika. ‘n Hoofdoel van die Twitter-veldtog sal wees om die toewyding te erken van Afrikane wat alle vorme van digitale en aanlyn media gebruik om die profiel van hul tale en kulture aanlyn te verhoog en ‘n nuwe generasie sprekers te lok. Op die manier word die verskillende tale gevier met skakels na musiek, kultuur en ander voorbeelde om die taaldiversiteit in Afrika uit te lig.
Deelnemers aan die veldtog kry so die geleentheid om hulle insigte en perspektiewe oor Afrikatale te deel, insluitende hul geskiedenis, huidige gebruik in aanlyn en aflyn kontekste, uitdagings en nuwe strategieë.
Rising Voices (@risingvoices), in vennootskap met die Yoruba Names Project, sal die samewerking van meer as 40 digitale aktiviste van regoor die vasteland koördineer. Die inisiatief val ook saam met die Internasionale Jaar vir Inheemse Tale.
Wat jy kan doen
Jy kan hierdie veldtog ondersteun deur die @DigiAfricanLang-rekening die res van 2019 te volg en boodskappe wat jou inspireer of wat jy interessant vind, te hertwiet. Terugvoer is belangrik en word aangemoedig.
Die artikel het verskyn in Rising Voices se jongste nuusbrief. Klik hier om die volledige artikel te lees en om deel te word van hierdie inisiatief.
Kyk hier vir ’n lys van aanvanklike deelnemers.
Neem ook kennis van Afrikaans se digitale biblioteek:
In 2017 het verskillende rolspelers wat gemoeid is met, of belang het by die digitisering van Afrikaanse bronne, vergader om die bal aan die rol te sit om ’n digitale biblioteek vir Afrikaans tot stand te bring om die talle waardevolle navorsings- en bewaringsmateriaal van Afrikaans tot beskikking van die breër taalgemeenskap te stel deur hierdie argiewe van Afrikaans se tasbare erfenis digitaal te ontsluit – ’n enorme taak as ’n mens in gedagte hou dat daar met die jare omvattende versamelings op verskillende plekke en in verskillende vorme opgebou is.
Genoegsame fondse en mannekrag bly ’n uitdaging en die organisasie SADiLAR is geïdentifiseer om instansies en individue wat oor argiewe beskik, by te staan om hierdie digiteringsprojek te realiseer. Gaan lees gerus Afrikaans.com se artikel oor die digitale biblioteek hier.
SADiLAR – Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (The SA Centre for Digital Language Resources) is ’n nasionale sentrum wat navorsing en ontwikkeling in taaltegnologie ondersteun.
Lees meer oor SADiLAR hier.
Lees ook:
SA se Aksieforum ter viering van 2019 Internasionale Jaar vir Inheemse Tale. Klik hier.