
Dirk van der Westhuizen

Dirk van der Westhuizen spog met sy album wat goue status bereik het. (Foto: Instagram)
Dirk van der Westhuizen is ’n sprekende voorbeeld van die gesegde: Aanhouer wen! Na nege jaar van veg vir sy plekkie in die son in die musiekbedryf, het sy deurbraak nou gekom. Dirk vertel dat daar ’n paar keer in sy loopbaan was wat hy oorweeg het om tou op te gooi weens sterk kritiek en nare boodskappe, maar elke keer het hy opgestaan en aangegaan … voortgebou op dit waarin hy glo – ’n Afrikaanse “EDM – Elektroniese dansmusiek” -genre in Afrikaans.
Dirk gesels met Pieter Cloete oor die pad wat hy moes loop om uiteindelik ’n deurbraak te maak.
Baie ken Dirk vir sy eerste danstreffer, Gooi jou suiker oor my, en daarna treffers soos Die tennis-tune, Sexy vi my en Net so mmm. Sy musiekvideo’s is vol energie en natuurlik ook vurige dansstyle wat baie jongmense aan die dans het, veral by sportbyeenkomste.
Dit is veral die afgelope twee jaar wat die genre vir Dirk begin goed doen. Sy album, Sexy vi my, het in 2018 goue status bereik en hy tree ook op saam met gesoute kunstenaars in die bedryf waar hy deel is van konserte soos Afrikaans is Groot, Krone en Sokkie is Groot. Vanjaar is Dirk ook by die Ghoema-toekennings te sien.
Pieter Cloete was op ’n reënerige dag in Midrand agter die skerms saam met Dirk en Sorina (Flooze) tydens die video-opname van hulle nuwe liedjie, Sout en Peper.
“Die konsep van hierdie video is basies ek en Flooze. Ek is die peper en sy is die sout en ons het hierdie tipiese skaakspel teen mekaar. Dan kom DJ Skeady en meng die sout en peper en uiteindelik is ons dan een … vriende.”
Agter die skerms …



Kyk die musiekvideo, Sout en Peper:
Vir meer oor Dirk van der Westhuizen besoek sy Facebookblad: https://www.facebook.com/dirkpage/
Lees ook:
2019 Ghoema-toekennings: www.ghoema.co.za